Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef jy dat jy elke oomblik van elke dag van jou lewe voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, staan? Of dink jy dalk dit is net in die kerk of dergelike plekke waar jy in sy heilige Teenwoordigheid is?
DRAAI OM TERWYL JY TYD HET!
Ds Andrè van den Berg
“En hy het opgestaan en na sy vader gegaan...” - Luk.15:20
Wat is die beste ding om te doen indien jy jou in die lewe vasloop en in ʼn doodloopstraat bevind? Om om te draai. Daar is egter ook ʼn voorwaarde aan verbonde: Jy moet dit betyds doen! Die Gelykenis van die Verlore Seun is een van die bekendste van Christus se gelykenisse omdat dit die verlore toestand van sondaars so treffend beskryf. Dis ʼn evangelie binne in die Evangelie.
Jesus vertel hierdie gelykenis sodat mense tot besinning moet kom en deur die bekering hul toevlug na God neem. Bekering beteken om ʼn geestelike u-draai te maak; terug na vanwaar jy gekom het – van God wat jou aarde toe gestuur het om Hom deur jou lewe te gaan verheerlik. Vers 18 praat van hierdie u-draai waar die jongman sê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan”.
Hy loop hom lelik in die lewe vas en gaan sit.
Let op die drie werkwoorde in Ps.1:1: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” Wandel, staan en sit. Eers wandel die man, dan gaan staan hy en daarna gaan hy sit. Dis wat die wêreld met mense doen – dit laat diegene wat loop staan en daarna gaan sit om soos wat ʼn siek bees wat gaan lê het nie weer op te staan nie!Waar vind ons die verlore seun? Hy sit alreeds. Waar sit hy? In ʼn varkhok! Dit was vir Jode die weersinswekkendste plek om te wees omdat hulle varke as onrein geag het en gevolglik so ʼn werk as veragtelik beskou het. Wanneer daardie jongman daar sit, neem hy sy lewe in oënskou. Waarvandaan het hy gekom? Uit ʼn vaderhuis met oorvloed. Dit gaan met hom soos die kinderrympie lui: Huis, paleis, pondok, varkhok!
Maar hierdie gelykenis handel eintlik oor twee verlore seuns. Die jongste was openlik: “Hier kom ek wêreld, vang my!” Die oudste was tuis in die vaderhuis maar sprekend Fariseër, selfgesentreer en selfgeregverdig. Maar in werklikheid staan hy geestelik buite die vaderhuis soos ʼn kerkganger wat jare lank kerktoe kom maar hom nooit bekeer nie! Wat ʼn oordeel wag daar nie op hulle wat binne-in die vaderhuis verlore gaan nie; hulle wat die weg ken, maar dit nie bewandel nie, ja, wat God se oordele ken, maar dit nie vrees nie! Tot en met vers 17 is beide seuns verlore. Wie gaan terugkeer? Wie gaan gered word?
Die ou Joodse tradisie was gesteld daarop dat die oudste seun sy pa se werk oorneem terwyl die jongeres vry was om te doen wat hulle wou. Gevolglik het die vader sonder om te murmureer die jongste seun se erfdeel aan hom gegee toe hy hom daarom vra.
Die Joodse wet het bepaal dat die oudste seun twee derdes van ʼn erfdeel kry en die res van die kinders die ander derde. Gevolglik het die jong seun een derde van die erfporsie ontvang. Hy het gebrand om die vaderhuis te verlaat want die wêreld het hom getrek soos ʼn kersvlam ʼn mot. So gebeur dit toe dat hierdie mot sy vlerke brand en hard aarde toe kom met niks; nie eens vriende nie omdat hulle saam met sy geld opgedroog het. Hy was alleen en moes werk om te oorleef; iets wat hy nie in sy vaderhuis geken het nie. Daar is hy soos ʼn prins behandel met diensknegte wat voor hom buig. En nou buig hy voor varke om hulle kos te gee! In sy vaderhuis het hy net die beste klere gedra en die beste kos geëet. En kyk waar sit hy nou – tussen varke! Wat ʼn verval!
Die finale druppel in die bitter beker van sy vermorste lewe was dat hy honger was, ja, so honger dat hy na die varke se kos verlang het om te eet. Selfs die varke het beter as hy geëet! Dit is hom nie toegelaat nie. Kan jy jou ʼn laer vlak van menswees as dit indink?
Die draaipunt kom in vers 17: “Maar hy het tot homself gekom...” Hy het soos iets wat te vinnig beweeg tot stilstand gekom en homself afgevra: “Waarheen is ek op pad?” Dis hoe bekering werk – jy hardloop met ʼn spoed weg van die hemelse Vader totdat iets in jou lewe gebeur en jou geestelike ABS-remme in werking tree. Jy besef dat jy ʼn fout gemaak het en jou lewe ʼn gemors is. Watter opsie het jy in so ʼn situasie? Bly hardloop of draai om - terug na die vaderhuis. Wat besluit hy? “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan...”
Hy neem hom voor om eerlik met sy vader te wees en geen verskonings vir sy verkeerde optrede aan te bied nie. Dis wat ons as sondaars moet doen wanneer ons in berou voor God staan – geen verskoning of ander mense vir ons situasie blameer nie. “Here, dis alles my skuld. Ek kan niemand anders vir my mislukking blameer nie. Ek het oortree!”
So ʼn belydenis van berou voor die hemelse Vader lei altyd tot ʼn geseënde, saligmakende gesindheidsverandering. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9). En dis wat hierdie jongman doen. In vers 12 hoor ons hom sê: “Vader, gee my....” In vers 19 smeek hy: “Vader, maak my soos een van u huurlinge” Berou maak mense nederig!
Op pad huistoe gewaar die vader hom eerste. Hy het geweet dat hierdie seun sy kop gaan stamp. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en gee hom sy ereposisie terug. Van prins tot varkoppasser was sy verdiende loon. Van varkoppasser na prins was sy genadeloon! Hy het absoluut niks van sy vader se goedheid verdien nie. Hierdie vader gee sonder verdienste. En dis wat genade is – onverdiende guns!
Hoe treffend skets Lukas die verhouding tussen God en die verlore mens. Die mens vlug van God af weg en loop hom lelik in die lewe vas. Waarom? Omdat die wêreld so anders is as wat mense dink. Hierdie jongman wou graag vry wees om te maak soos wat hy wou. Toe maak hy ʼn fout wat biljoene mense maak - hy het gedink dat al die lekker dinge van die lewe buite die vaderhuis lê. Eers toe hy hom vasloop, besef hy dat hy hom lelik misgis en sy erfporsie verkwis het. Die beste ding om te doen, was terug na die vaderhuis!
Ons maak almal foute in die lewe en dra die gevolge daarvan. Niemand is volmaak nie. Ons het egter ʼn keuse – draai om of gaan voort. Wat wil God hê moet ons doen? Omdraai! Ons hoor dit in die Gelykenis van die Verlore Seun uit Jesus se eie mond. Draai om; die Vader sal jou terugneem! Dis ʼn baie ou waarheid wat ook in die OT opgeteken word: ” Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer....” (Eseg.33:11).
Maar wat van die ander seun in die gelykenis? Hy is nie die wêreld in soos sy broer nie. Desondanks alles was hy ook verlore, en dit in die vaderhuis! In sy uitbarsting teen sy verlore broer sien ons geen gesindheidsverandering nie en is hy op die ou einde die eintlike verlore seun!
Die Gelykenis van die Verlore Seun is in Luk 15 opgeteken sodat ons lesse daaruit moet leer. Een van die belangrikste lesse is dat ʼn mens moet omdraai terwyl jy tyd het. Net een hoofstuk verder lees ons in Luk.16 van nog ʼn jongman wat ook wou omdraai, maar hy nie kon nie .... want hy was dood!
Hoor hoe pleit hy vir sy broers: “... Ek bid u dan, vader. Om hom (Lasarus) na my vader se huis te stuur – want ek het vyf broers – om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie” (:27,28). Om te kan omdraai, moet jy lewe. Jy kan dit nie na jou dood doen nie. Jy moet dit doen terwyl jy lewe (tyd aan jou kant het). Bekering geskied net in die tyd.
As jy in slegte lewensomstandighede beland, moenie dat Satan jou laat twyfel wat om te doen nie. Terug na die Vader! Wie deur Hom in Christus gevind is, kan nooit verlore raak nie. Hulle wat verlore is, word gevind om nooit weer verlore te gaan nie. Ons kan hierdie lewe nie van vooraf begin nie. Ons kan slegs deur die bekering ʼn ander eindbestemming bereik. Een enkele besluit maak die verskil tussen hemel en hel. Draai om terwyl jy tyd het!
Amen!