Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die herstel van ’n volk deur sy godsdiens te herstel, is ’n wenresep vir elke volk op aarde; ook vir die Boerevolk. Ons kla graag oor die onreg van die ANC-regering, maar wat het ons volk in hierdie penarie laat beland? Dieselfde ding wat Juda as volk in ’n penarie laat beland het - godsdiensverval. As ’n volk se godsdiens verval, verval die volk.
TYD VIR VOORRAAD- OPNAME
Ds Andrè van den Berg
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink” - Ps.137:1 (Jer.25:1-11)
Nuwejaarsvoornemens is altyd gewild, maar hou gewoonlik nie lank nie. Maar wat van die einde van ʼn jaar? Maak mense ooit ʼn voorraadopname van hul geestelike welstand? Is dit nie juis die aangewese tyd om jouself die vraag af te vra: Het ek die nodige vrugte gedra wat by die bekering pas? Wat het mense hierdie jaar in my lewe gesien?
Met so ʼn geestelike voorraadopname is dit noodsaaklik dat gelowiges eerlik na binne sal kyk en introspeksie beoefen soos wat die Judese krygsgevangenes dit meer as 2500 jaar gelede onder baie moeilike omstandighede gedoen het. Dis vir ons in Ps.137 opgeteken.
Die Psalms in die Bybel is nie net gedigte nie, maar ook liedere wat in die OT gesing is. Wie Ps.137 geskryf het, weet ons nie; waarskynlik ʼn onbekende krygsgevangene in Babel. Dis egter een van die hartseerste psalms. God het Juda eeue lank met die reuk van vryheid bederf en nou sit hulle in tente by ʼn onheilsame rivier met slegs die stank van krygsgevangeskap in hul neusgate.
In plaas van God se seëninge te geniet, het hulle onder ʼn nasionale ramp gebuk gegaan. Hul eertydse vreugde het in bitterheid en hul vreugdeliedere in sugte verdwyn. Wat het tot hierdie nasionale ramp aanleiding gegee? Volksondes.
Juda is nie na Babel weggevoer weens nasionale swakheid nie, maar nasionale sonde. God het hulle vir 250 jaar lank deur die profete gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie en van die lewende God afvallig geword. Dit het met die land soos met ʼn mens gegaan. As ʼn mens aanhou sondig en weier om hom aan God se oproepe tot bekering te steur, dra hy die bittere gevolge daarvan. Dit het met Juda gebeur. Hulle is na ʼn vreemde land weggevoer met net die klere aan hulle lyf!
God het al Juda se verdedigings in duie laat stort waarna Hy ʼn heidenkoning gebruik het om sy straf te voltrek en Juda in ballingskap na Babel weg te voer. Babel was geen vakansie nie! Dit het barheid en verlatenheid beteken en vir gelowiges geestelike gebrokenheid. Die enigste mense wat in Babel gelukkig was, was die Babiloniërs self.
Babel is in die Bybel die beeld van die godvyandige wêreld van Genesis tot Openbaring. Hierdie stad is die beeld van die wêreld van afgodery en sedeloosheid wat teen God in opstand is en mense deurmekaar maak. Die naam Babilon beteken verwarring. Daarom word daar van ʼn Babelse verwarring gepraat as iets baie deurmekaar is.
Al was Juda fisies in Babel, was hulle harte in Sion. En wat doen hulle? Hulle huil! “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink”. Sion is ʼn ander naam vir Jerusalem wat stad van vrede beteken. Hulle kon Jerusalem, die aardse setel van God, nie uit hul gedagtes kry nie. Daar aan die riviere van Babel het hulle na die dae verlang toe hulle daar gewoon het want toe was hulle verhouding met God opreg en hulle gees gesond.
Let vir ʼn oomblik op die twee groot stede in die Bybel – Jerusalem en Babel. Alhoewel hulle lynreg van mekaar verskil, was hulle nogtans op ʼn vreemde manier magneties tot mekaar aangetrokke; Babel die bose stad en Jerusalem die heilige een; Babel die setel van boosheid en Jerusalem dié van heiligheid.
Toe Juda in 586vC na Babel weggevoer is, was daar ʼn tweërlei inwonertal in Babel - slawe (krygsgevangenes) en meesters. Die slawe was die kinders van God en die meesters dié van Satan. God se kinders was aan Satan s’n onderdanig; die droewige verhaal van geestelike afvalligheid. Wat ʼn donker wolk van mismoedigheid het daar nie oor hul hoof gehang nie! Die son van vreugde wat eeue lank oor hulle geskyn en hul lewens verlig het, was nêrens te sien nie soos wat hul toekoms met iets anders as die nag donker geword het.
Wat ʼn reuse verskil is daar nie tussen redding en verlorenheid nie! Beide verlore en geredde mense sondig. Die verskil is egter dat die verlore mens die sonde geniet, maar nie die geredde mens nie. Sonde bring eerder trane in die oë en hart van God se kinders. God het sy kinders so liefgehad dat Hy hul selfs na Babel laat wegvoer het om hulle te tug en tot besinning te laat kom. God sou egter nie toelaat dat hulle hul verblyf daar in die heidenstad geniet nie. Ps.137 spreek boekdele daarvan!
Juda was hartseer om uit Jerusalem, die setel van God, weggevoer te word en in Babel, die setel van Satan, te beland. Wat hulle egter die hartseerste gemaak het, was die rede wat daartoe aanleiding gegee het - die verhaal van Jer.25.
God het aan Israel drie belangrike dinge gegee – ʼn land, ʼn wet en ʼn lewende God. Wat het hulle met die land gemaak? Dit verontreinig. En met die wet? Dit vergoddelik. En met God? Hom ontken! En toe hulle dit doen, het God hulle lank gewaarsku en later getug en Nebukadneser as ʼn tugroede in sy hand gebruik. Luister hoe noem God hom in Jer.25:9 “... Nebukadneser, die koning van Babel, my dienaar....” God slaan ʼn bitter harde hou met ʼn bitter krom stok!
God gebruik ʼn heidenkoning met ʼn groot heidenleër, heidense wette en verfoeilike afgode as tugroede in sy hand. Hoekom God so ʼn iets doen as Hy sy volk liefgehad het? Dis juis omdat Hy Juda liefgehad het, dat Hy dit gedoen het. “Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Heb.12:6). God tree hier soos ʼn goeie ouer teenoor sy kind op. Dis nie vir ouers lekker om kinders te tug nie, maar ʼn plig omdat dit op die ou einde vreugde-resultate vir beide ouers en kinders bring soos met Juda gebeur het.
Die Judese krygsgevangenes het op die rivierwalle van Babel gesit en treur as hulle aan Jerusalem dink en as ʼn gebaar van hul gebrokenheid hul siters aan die wilgers opgehang. Daarom word daar van treurwilgers gepraat. Wat ʼn teenstelling het hulle nie beleef nie - Jerusalem, die stad van vrede waar hulle God se teenwoordigheid kon aanvoel. En nou Babel, ʼn hekse-pot van onheil waar die teenwoordigheid van Satan met ʼn stok aangevoel kon word; omring deur vyande, bedroef oor hul mislukking en vasgeketting aan hul vrese. Wat sou die toekoms vir die eens trotse volk van Juda oplewer?
Gelowiges voel altyd jammer vir mense wat Jesus nie as Verlosser ken en nog nooit die vreugde ʼn verhouding met Hom ervaar het nie. Die ellendigste van alle mense is egter die een wat op ʼn stadium in ʼn verhouding met God gestaan het, maar afvallig geword en die geestelike gemeenskap met Jesus verloor het. Daarom leef duisende kerkgangers soos duiwels – daar is geen behoefte aan die bekering of enige gemeenskap met God of medegelowiges nie. Daar is geen ywer vir die saak van die Here en geen berou oor sonde nie.
Dis miskien waarom so baie mense die kerk verlaat - hulle het nooit deel van die kerk uitgemaak nie. “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh.2:19).
Kerk is meer as bloot ʼn gebou; dis ʼn liggaam. Daar is ʼn groot verskil om aan ʼn gebou te behoort of deel van ʼn liggaam te wees! ʼn Bosluis kan hom aan my liggaam vassuig sonder om ooit deel daarvan te wees. So suig sommige mense hulle aan ʼn kerkgebou vas net om sekere voordele te geniet. Op ʼn stadium los hulle die kerk om hul net weer aan ʼn volgende gebou te heg. Hulle word nooit deel van die liggaam nie. Ware gelowiges kan nooit met Babilon tevrede wees nie. As jy eers een maal die saligmakende waarheid van Jesus gesmaak het, sal jy nooit met leuenagtige spyse tevrede wees nie.
Terwyl die Judese krygsgevangenes daar op die rivieroewer gesit het, het die onderdrukkers hul by geleentheid gevra om vir hulle ʼn lied te sing. Dis was eintlik ʼn sarkastiese versoek en spot. Die gelowiges se antwoord was duidelik: Ons sing nie vir die vyand nie! Daarvan het die Babiloniërs nie gehou nie. Die wêreld hou nie van mense wat anders is nie, maar wat eerder konformeer. “.... Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh.15:19).
Die wêreld geniet dit om sy propaganda-kanonne met die verhale van gelowiges wat gestruikel het te laai! Daarom skreeu die spotters en teenstanders van die Christengeloof baie hard wanneer gelowiges, veral diegene met sterk openbare beelde, in die lewe struikel. Een van die eerste Bybelse supersterre wat tot so ʼn openbare val gekom het, was Simson; God se keuse en Israel se held. Toe hy oor sy eie sonde struikel, het sy vyande sy oë uitgesteek en ʼn bespotting van hom gemaak. Dit was baie hartseer! Sy grootste hartseer was die skande wat hy die Godsnaam aangerig het! Wie aan Jesus behoort en daarvan getuig, is met die naam Christen gebrandmerk. En as so ʼn persoon in sonde verval, sleep hy die naam van Jesus deur die modder.
Die krygsgevangenes in Babel het die versoek om vir die onderdrukkers ʼn lied te sing nie toegestaan nie. Hulle was in ʼn vreemde land en gebonde. Slegs hy wat vry is, kan sing. “U is ʼn skuilplek vir my; U bewaar my vir die benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding” (Ps.32:7).
Dis wonderlik om vir God te kan sing. Ons moet dit baie meer doen. Daar is egter een ding wat ʼn gelowige van sy lied beroof. Is dit droefheid? Nee, selfs as die nag op sy donkerste is, gee God ʼn lied in die hart. Is dit gevangenisstraf? Nee, Paulus en Silas sing nadat hulle geslaan en in die tronk gegooi is. Nee, die enigste ding wat ʼn gelowige van sy lied kan beroof, is sonde in sy lewe; dit wat in Babel gebeur het. Die veragterde gelowige moes eerder na God teruggekeer en daarna hul siters geneem en vir God gesing het. Wat ʼn getuienis sou dit nie vir die heidene wees nie!
Sing hang nie van politieke vryheid af nie, maar van geestelike krag: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here” (Efes.5:19). Gelowiges moet dit te alle tye kan doen.
Dit bring ons terug by die geestelike voorraadopname. Miskien het jy hierdie jaar geestelik teruggesak en voel soos die ballinge mismoedig daaroor. Jy hoef egter nie so voort te ploeter nie. Jesus het sy kosbare bloed vir jou gestort en wil jou van die mag van die sonde wat jou hierdie jaar kasty het bevry. Gee Hom die kans. Al voel dit vir jou om jou siter in hierdie heidenland op te hang, moet dit nie doen nie. Neem jou siter en laat almal hierdie Kerstyd hoor dat Jesus ʼn nuwe lied in jou lewe gesit het. Doen dit vir Jesus!
Amen!