Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid saam in die gesin en lees saam uit die Bybel want niks maak 'n huwelik en 'n gesin sterker nie. Niks is 'n beter verdedigingsmeganisme teen die duiwel nie.
DIE KERK IS NIE DOOD NIE...
... MENSE SE GEESTELIKE LEWE WEL
Ds Andrè van den Berg
“En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons die onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” - Hebr.10:24,25
Daar is mense wat bely dat hulle Christene is, maar selde of ooit kerk toe gaan. Hulle voer gewoonlik ʼn paar geykte verskonings vir hul versuim aan. Een daarvan is dat kerkmense hulle by geleentheid so ernstig te na gekom het, dat hulle niks meer met ʼn kerk te doen wil hê nie. Ja, baie mense het al onder kerkmense se onchristelike optredes deurgeloop; vra maar vir enige leraar! Maar dis geen goeie verskoning om nie kerk toe te gaan nie.
Kerke is vol sondaars; hopelik oorwegend verloste sondaars. Maar hulle bly egter sondaars tot die dag dat Jesus op die wolke kom om verloste sondaars in absolute volmaaktheid in die Nuwe Jerusalem te laat woon. Gevolglik moet dit vir niemand ʼn verrassing wees as kerkmense ook oortree nie, want dis maar wat alle sondaars doen – hulle oortree: “...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:23).
As ons sondig, oortree ons eerstens teen God. Soms kry mense ook in die proses seer. Dis egter geen goeie rede om van die kerk af weg te bly nie, want dan verontagsaam jy die doel waarom God kerke laat ontstaan het. Het jy al ooit gewonder waarom daar al eeue lank kerke is? God het dit so beskik dat gelowiges gereeld saam met hul geestelike familie voor Hom verkeer. Bly jy dus weg, verontagsaam jy nie alleenlik God se doel daarmee nie, maar sê jy dat jy geen behoefte aan geestelike gemeenskap het nie. En dis sonde!
Nog ʼn rede wat mense aanvoer om nie kerk toe te kom nie is dat daar te veel huigelaars in die kerk is. By geleentheid vra ʼn predikant vir ʼn kerklos persoon wanneer hy weer kerk toe gaan kom? “Sodra ek die volmaakte kerk gevind het” antwoord hy. “Daardie dag sal dit die einde van daardie kerk se volmaaktheid wees! “ antwoord die predikant hom.
Daar bestaan nie ʼn volmaakte kerk nie. Kerke bestaan uit sondaars. Sommige dra selfs maskers. Dis egter nie die kerk se taak om sondelyste op te stel nie. Die kerk is nie ʼn klub vol engeltjies met klapvlerkies nie, maar huisves ook duiweltjies met krulstertjies! Desondanks huisves dit grootliks ʼn gemeenskap van sondaars wat in Christus Jesus vergifnis van sonde ontvang het.
Van huigelary gepraat , is mense wat Jesus bely, maar weier om met hul sondes te breek, nie juis huigelaars nie? Mense moenie vinger wys nie! Die geringste ding wat kerklos mense hinder, veral as hulle weet dat dit eintlik hul eie skuld is, hou diegene wat nie kerk bywoon nie, daarvan weg. Is dit nie huigelary nie?
Uit die briewe van die apostels is dit duidelik dat die probleem van huigelary in die eerste eeu in talle gemeentes voorgekom het. Dit sal ʼn probleem bly totdat Jesus weer kom. Dis egter geen goeie rede waarom daar van ʼn kerk weggebly moet word nie. Wat kan meer huigelagtig wees as om te sê dat jy ʼn Christen is, maar jy verseg om met die kerk as liggaam van Christus te verbind? Dan dra jy mos die grootste masker!
Nog ʼn rede wat kerklos mense aanvoer waarom hulle nie kerk toe kom nie, is dat hulle die Here kwansuis beter op hul eie dien as in ʼn kerk vol sondaars. Hulle glo dat hulle God direk deur Christus kan nader en het derhalwe geen kerk nodig het om hulle daarmee te help nie. Sommige bely selfs dat hulle verhouding met Christus verbeter het nadat hulle die kerk verlaat het. Sulke verskonings het almal een groot swakheid – dis op gevoelens gegrond. En as ʼn mens se godsdiens op gevoelens gegrond word, kom die hele geloofslewe op los skroewe te staan en val dit spoedig uitmekaar soos met kerklos mense gebeur.
Godsdiensbeoefening is egter nie sonder gevoelens en emosies nie. Mense durf egter nie toelaat dat hul gevoelens God se opdragte kanselleer nie. Niemand dien God beter deur sy opdragte soos wat dit baie duidelik in die NT uitgespel is, te verontagsaam nie. Kom ons kyk na ʼn paar daarvan.
Die eerste opdrag wat ons aandag verdien, is Heb.10:24,25:
“En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons die onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom”.
Die skrywer stel die probleem van die kerklosheid van sy tyd aan die kaak. Mense het nie soseer met die kerk probleme gehad nie, maar het net laks geword: “...soos sommige die gewoonte het...” Hy roep sy lesers op om hulle aan te spreek en met die oog op die wederkoms van Christus tot goeie werke aan te spoor. En dit was 2000 jaar gelede! Hoeveel te meer behoort ons dit nie vandag te doen nie!
Christus het gemeentes tot stand laat kom sodat mense geestelik versterk word. Geloof is soos ʼn baba wat net sterk kan word indien hy die regte voedsel kry. Dis ook van gemeentes waar: “En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal” (Hand.16:5). Versterking laat groei.
Paulus vergelyk ʼn sterk gemeente met ʼn pilaar: “Ek skryf hierdie dinge in die hoop om gou by jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ʼn pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim.3:14,15).
As ʼn mens na al die ouwêreldse pilare kyk wat die tyd oorleef het, besef jy dat dit ʼn ontsaglike gewig moes gedra en derhalwe baie sterk gebou was. So ook ʼn gemeente, aldus Paulus. Daarom het God voorgangers beskik om mense van die regte geestelike voedsel te voorsien sodat hulle sterk kon word: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebr.13:7). Vers 17 lui: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee..”
Waarom het Paulus destyds so baie gereis? Juis om die gemeentes in die geloof te versterk. “En hy het Sirië en Cilicië deurgegaan en die gemeentes versterk.” (Hand.15:41). By geleentheid stuur Paulus vir Timotheüs na Korinte en skryf aan die gemeente: “ ... Hy sal julle herinner aan my handelswyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer” (1 Kor.4:17). “Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes” (1 Kor.7:17).
Jakobus skryf aan die gelowiges in die verstrooiing: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is...” (Jak.5:2). Hier vind ons een van die mooiste beeldsprake vir ʼn gemeente – ʼn kudde van God. In Joh.10 skets Jesus Homself as ʼn goeie herder aan die voorpunt van ʼn kudde; die treffendste beeld van ʼn gemeente. “En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof...” (Ps.79:13).
Dis hartseer om te sien hoeveel van ons volksgenote geen behoefte aan so ʼn kudde het nie. Die Suid-Afrikaanse Navorsingstigting het in 2012 bevind dat Christene wat hul geloof uitleef in baie kort tydjie met meer as 25% gedaal het. In dieselfde tyd het kerkbywoning landswyd met 22% afgeneem!
Wat is fout? Jesus is immers die Rots wat vir sondaars geklief is en die kerk die skeur waardeur hierdie lewende water na almal wat dors het vloei. Hoe vergaan die kerklos mens nie van geestelike dors nie! Waarom wil mense so ʼn duur prys betaal om verlore te gaan as verlossing gratis is?
Hoe kan daar by iemand wat bely dat hy ʼn Christen is geen behoefte aan kerktoe gaan wees nie? In Ps.42 vergelyk Dawid hierdie verlange na die huis van God met ʼn bok wat in die woestyn na water smag.
Baie mense sê dat hulle nie kerk toe gaan nie omdat die kerk buitendien dood is. Nee, solank as wat Jesus leef, sal die ware kerk bly leef. Jy moet dit net op die regte plek gaan soek – daar waar die waarheid van God se Woord verkondig word. Dis nie die kerk wat dood is nie, maar mense se geestelike lewe. Net Jesus kan dit weer lewendig maak.
Ons het almal familie, vriende en kollegas wat tans kerklos is. En dis dinge wat hinder. Wat staan ons te doen? Satan wil hê dat jy niks daaraan moet doen nie. Jesus wil hê dat jy moet praat al het jy ook al 1000 maal gepraat. Moenie ophou nie! Al maak dit mense ongemaklik en al raak hulle vir jou kwaad, moenie swyg nie want die kans dat hulle hul van hul verkeerde weg gaan bekeer, is baie groter as jy praat as wanneer jy gaan stilbly.
Johannes die Doper het nie omgegee wat sy volksgenote van hom dink toe hy vir hulle gepreek het om die pad van die Here reguit te maak nie. En dis wat ons ook moet doen – tydig en ontydig, soos die Woord sê!
Amen!