Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ouderdom maak jou minder materialisties en meer realisties. Dan wil jy al daardie ydele dinge wat jy as jongmens nie kon kry nie, gelukkig nie meer hê nie.
HEILIGHEID SORG VIR VEILIGHEID
Ds Andrè van den Berg
“Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U:Geweld! – maar U help nie?
Mense is vandag baie meer veiligheidbewus as ooit. Vandaar die geweldige opbloei in die versekeringsbedryf wat feitlik elke lewensterrein dek – die dood, arbeidsongeskiktheid, aftrede, studiefondse ens. Desondanks ontbreek dit aan een baie belangrike polis - ʼn ongelukvrywaringspolis. Dit sou jou van alle lewensongelukke soos droefheid, beproewing en selfs die dood kon vrywaar. Indien so ʼn polis moontlik was, sou die versekeringsbedryf vertiendubbel!
Wie sal nie graag ʼn polis wou hê wat verhoed dat slegte dinge met jou gebeur nie? Dis nie juis moontlik nie omdat ons in ʼn sondige bestel verkeer met sy dorings en distels, sorge, siektes en die dood. Niks neem egter die verlange na so ʼn ongeluksvrywaringspolis weg nie. Daar is egter mense wat dit vir hulself met Christenskap probeer skep. Hulle sê vir die Here: Ek sal mooi leef, gereeld kerk toe gaan en werksaam wees in my gemeente. Maar dan moet U sorg dat niks verkeerds my lewenspad kruis nie. Ek sal my kant bring, maar dan moet God sy kant ook bring; net soos met ʼn polis.
Dis waarom mense die geloof verlaat as hulle in beproewing beland. Want dan wys hulle die vinger na God en sê: “U bring nie u kant nie!” Dis kontrakbreuk! Nee, God sal eerstens nooit so ʼn kontrak aangaan nie en tweedens skuld Hy ons niks nie. Rom.3 sê dat die loon van die sonde die dood is. Lewe is dus net genade! Daarom het die mens geen regte nie, maar slegs voorregte.
Desondanks worstel mense en selfs volke deur die eeue met die gedagte dat God hul iets in ruil vir hul kerkgang en toewyding skuld. Dit was Juda se probleem net voor die Babiloniese ballingskap. Juda het God verlaat en ten spyte van talle waarskuwings om hul van hul verkeerde weë te bekeer, nie geluister nie: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:4).
Nadat God lank gewaarsku het, was sy geduld met die Bondsvolk op: “Hoor die Woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! (:10). Die volk se leiers word met Sodom en hulself met die bewoners van Gomorra vergelyk! Ons weet wat hierdie twee stede se uiteinde was. Wat sê God hiermee vir Juda? Julle verdien dieselfde oordeel!
Habakuk, ʼn tydgenoot van Jesaja, was hewig ontstel oor die verval van sy volk. Alles het ten gronde gegaan. “Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd en twis.... Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nie meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn” (Hab.1:3,4). Wat ʼn droewige prentjie - verwoesting, geweld, godsdiensverval, korrupte regspleging, goddelose politici ens. Tragies!
Habakuk het egter geweet dat dit God se straf was. Hef aan het egter voor die deur gelê. In vers ses gee God hom te kenne dat Hy iets geweldig gaan doen wat niemand verwag nie – Hy gaan die vyand as tugroede in sy hand gebruik! En Hy kon, want alles is aan sy wil gebonde, selfs Satan. In die jaar 616vC is God se straf oor Juda voltrek toe die Babiloniërs ná ʼn inval, Juda in ballingskap na krygsgevangenskap weggevoer het.
Juda het Jerusalem met net die klere aan hulle liggaam vir die heidense vreemde verlaat. Jeremia was een van die laastes wat Jerusalem verlaat het. As hy vir oulaas terugkyk, hoor ons hom ontstel sê: “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ʼn weduwee geword, sy wat magtig onder die nasies was; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword!” (Klaag:1:1).
So werk God met elke volk wat Hom eers gedien en daarna afvallig geword het; Hy gebruik die vyand as tugroede in sy hand. Wie dink dat die pad weg van God die beste pad is, beland soos die verlore seun baie gou tussen die varke.
Dis onvermydelik dat volke tye van verval beleef. Volke bestaan uit mense en mense is sondaars. Die Bybel leer ons egter wat om met sulke afvalligheid te doen – dit moet teengewerk word. Sonde wat nie beteuel word nie is soos ʼn kleinvuurtjie wat spoedig ʼn reuse brand word. Die Bybel het net een voorskrif vir volksherstel: keer terug na die ou weë waar God sentraal was. “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir jul siel...” (Jer.6:16). In die Evangelies word hierdie terugkeer in die terugkeer van die verlore seun na sy vader die mooiste verwoord. Enkelinge en volke wat afdwaal, moet terugkeer!
Tydens die ballingskap is Juda telkens opgeroep om terug te keer. God het veral vir Esegiël gebruik om God se uitnodiging aan die krygsgevangenes oor te dra: “Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.18:31).
In Hab.1 kla die profeet oor die vervalle toestand in sy land waarna die Here hom op die oorsaak daarvan wys en medisyne aanbied waarmee Juda gesond kon word. Habakuk gooi soos ʼn lewensredder ʼn boei na sy volksgenote wat besig was om in die diep water van nasionale en geestelike ellende te verdrink.
Habakuk se taak is ook ons taak. Die raakpunte tussen die geskiedenis van die Bondsvolk en die van die Boerevolk is net te opvallend om te minag. Ons het presies dieselfde foute as Israel en Juda gemaak – om die Here te verlaat. Al verskil is dat ons dit deur verraad t.w.v. internasionale aansien gedoen het. Feit bly staan – ons het God verlaat en is daarvoor gestraf. ʼn Gomorra-volk verdien sy Sodom-owerstes!
In ons geestelike stiksienigheid wil ons soos Habakuk die Here verkwalik dat Hy nie ingryp nie. Ons volk is terminaal siek, maar glo nog steeds dat hulle sonder geestelike medisyne gesond sal word. Nee, die Boerevolk sal moet omdraai. God se voorskrif sê: Geen veiligheid sonder heiligheid!
Alvorens ons geestelike gesindheid nie gaan verander en ons terugkeer na die Here nie, gaan hierdie toestand voortduur. Dit laat my dink aan die dominee wat Sondag vir Sondag die selfde preek begin preek het. Toe die mense daaroor kla en versoek dat hy sy prediking moet verander, het hy ingestem en gesê: “Ek sal my preek verander sodra julle jul gesindheid verander”. God sou die lot van Juda verander as hulle hul geestelike gesindheid verander het!
Dieselfde geld vir die Boerevolk. God laat heidense magte as ʼn tugroede in sy hand oor ons regeer. Waarom tug God ons daarmee? Vir dieselfde rede waarom goeie ouers hul kinders tug – omdat God ons liefhet en nie wil hê dat ons verkeerd moet loop nie. As God Juda nie liefgehad het nie, sou Hy hulle afgeskryf en aan die verderf oorgelaat het. Hy doen dit egter nie, maar roep hul op om na die ou paaie van volksbestaan terug te keer omdat Hy daarin geëer word.
As ʼn dokter niks vir ʼn pasiënt omgee nie, sal hy nie die nodige medisyne voorskryf nie. As hy vir hom omgee, sal hy die regte medisyne voorskryf en daarop aandring dat dit gebruik moet word. Dieselfde met Juda – God kon hul afgeskryf het as Hy hulle tot niet wou laat gaan. Maar Hy wou nie. Daarom die aandrang deur die profete om genesing te soek.
God het die Boerevolk ook lief. Sy vinger kan nie in ons geskiedenis misgekyk word nie. Ons het nie bloot toevallig aan die suidpunt van Afrika ontstaan nie. God het dit so beskik omdat Hy ʼn doel met ons het – o.a. die uitdra van die lig van Christus onder heidene. En dit het vir baie jare goed gegaan.
Satan het hierdie laaste Christen-bastion in die wêreld se val begeer en sy bose agente teen ons gemonster. Hy het daarin geslaag om ons volk deur politieke- kulturele- en kerklike verraad van God te laat afdwaal. Kyk waar sit ons tans!
Wat kan ek en jy hieraan doen? Met die herstelwerk help! Ons is God se bodes en spreekbuise en moet ons volksgenote waarsku as hulle verkeerd loop. Ons durf nie swyg nie! Maar om jou volk te kan help, moet jy soos Habakuk ʼn visie van ʼn siek volk hê. Sonder hierdie visie sal jy niks regkry nie!
Om soos Habakuk net te bly kla oor die toestand in ons land, gaan niks aan die situasie verander nie. Dis tyd dat die Here ook vir ons, soos vir Habakuk, agter die nek vat en sê: “Hou op om te kla en doen wat Ek van jou verwag!”
Laat ons opnuut na ons volksgenote gaan en by hulle pleit om hul tot Christus te bekeer en hul lewens dienooreenkomstig te verander sodat die land genees kan word. God gee vir ons ʼn wonderlike belofte: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek, en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14). Let op hierdie laaste woorde” ... en hulle sonde vergewe en hulle land genees”. Dis ʼn voorskrif: heiligheid sorg vir veiligheid. Dis die kern van ons getuienis teenoor ontspoorde volksgenote!
God het jou nodig. Want hoe anders sal die Boerevolk hom bekeer as daar nie boodskappers is wat mense tot verandering oproep nie? Is jy besorg oor die land en jou volksgenote wat deesdae net soos heidene lyk en optree? God wil jou as spreekbuis gebruik al storter jy soos Moses of is jy ongeleerd soos Petrus. God roep nie bekwame mense om vir Hom te werk nie. Hy bekwaam eerder diegene wat Hy roep.
Waar staan jy werklik? Is jy maar net ʼn waarnemer van al die boosheid in ons land of gaan jy begin om dinge met God se hulp reg te stel? By geleentheid kla iemand by God dat daar geen redding of hulp vir sy volk meer is nie, waarop God hom antwoord: “Maar Ek het hulp gestuur!” Baie verbaas vra die man: “Maar wie het U gestuur, Here?” waarop die Here hom antwoord: “Ek het dan vir jou gestuur”. Hou op kla; die bal is in jou hande!
Amen.