Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou – Spreuke 16. Hierdie woorde geld ook vir 'n hele volk; en as ons volk nie vrede met ons vyande het nie soos dit vandag die geval is, dan het die HERE mos nie behae in die weë van die Afrikanervolk nie!
OORDEEL IS GOD SE TAAK
Ds Andrè van den Berg
“Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” - Luk.19:10
Ons kyk hier na die vyf kenmerke van ʼn opregte, soekende hart na God; iemand wat gereed is om tot bekering te kom. Saggeus is een van die uitstaande figure wanneer dit kom by ʼn sondaar wie se hart gereed was om Jesus te ontvang. Hy was ʼn belastinggaarder wat in Jerigo gewoon en vir die Romeinse owerheid belasting ingevorder het; iets waarvoor die Jode hom verag het. Saggeus het nie net vir die verdrukkers gewerk nie, maar het, soos alle belastinggaarders destyds, die slegte reputasie gehad dat hulle meer as wat nodig was van mense geëis en in hul eie sakke gesteek het. Dit het hulle in die klas van uitvaagsels geplaas. So bid die Fariseër dan ook: “ ... o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie” (Luk.18:11).
Ons ken almal ongelowiges hetsy in ons eie familiekring, vriende of kollegas, mense wie se siele, indien hulle nou sou sterf, verlore is. As jy aan hierdie mense dink, is ek seker dat jy sommige van hulle meer en ander minder ontvanklik vir die bekering ag. En dit maak ons dikwels bevooroordeeld. Wie sou nou ooit kon dink dat een van die misdadigers op Golgota tot bekering sou kom? Mense het hom afgeskryf. Christus het hom aangeteken!
Ja, ons plaas ongelowiges dikwels in geestelike kategorieë – minder of meer vatbaar vir die Evangelie van verlossing. Voorkoms, beroepe en sosiale gedrag is die faktore wat ons aannames oor mense laat maak. Saggeus staan hier uit as een van daardie hoogs onwaarskynlike kandidate vir die bekering.
Hy het alles gehad wat die wêreld hom aangebied het. Vers 2 sê dat hy ʼn ryk man was. As die hooftollenaar by ʼn handelsleutelpunt soos Jerigo het Saggeus goed bondel gemaak, soos die mense aan die Weskus van iemand wat baie geld maak, sê! Belasting wat op die groot hoeveelheid goedere wat vanaf Rome deur hierdie stad ooswaarts geneem is, het vir baie tollenaars wat die boeke gekook het rykdom gebring. Gevolglik het Saggeus baie geld gehad, die ding wat die wêreld sê vir mense geluk bring. Hoe meer rykdom, hoe gelukkiger.
Is dit waar? Kom ons vra ʼn baie ryk man – Salomo: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs” (Pred.5:9). Jesus waarsku nie verniet teen geldsug nie: “En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ʼn kameel om deur die oog van ʼn naald te gaan as vir ʼn ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Mt.19:24).
Rykdom diskwalifiseer niemand vir die hemel nie. Abraham en Job was baie ryk, nie eens van koning Salomo te praat nie. Ek het talle skatryk mense in my lewe geken wat ook ryk in die Here was. Die gevaar is net dat rykdom jou onafhanklik van God kan maak. En hier kom Jesus se waarskuwing ter sprake: “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Saggeus het egter ʼn probleem gehad – hy was kort. Geen geld kon hom langer maak nie. Geen dokter kon hom rek nie. Saggeus was nie ʼn koning Saul wat kop en skouers bo die ander uitgestaan het nie. Gelukkig kyk God nie na die uiterlike nie. Toe Samuel by Isai kom om Dawid te salf en hy sy rysige seun Eliab sien, het hy gemeen het dat dit die een was wat hy moes salf: “Maar die Here sê vir Samuel: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan” (1 Sam.16:7).
Die arme Saggeus was alles behalwe rysig. Daarom was hy genoodsaak om sy waardigheid in sy sak te steek en in ʼn boom te klim om Jesus te kon sien toe Hy en sy dissipels inkom. Almal het van hierdie Jesus gepraat wie se boodskappe van sonde, vergifnis en nuwe lewe mense so aangegryp het.
Saggeus het hom nie gesteur aan wat mense sou sê nie. Hy was ʼn ware soeker en het volhard in sy strewe om Jesus te sien. “En hy het vooruit gehardloop en in ʼn wildevyeboom geklim.....” (vers 4). Paulus skryf aan gelowiges in Korinte: “Want let op julle roeping broeders: julle is nie baie wys na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie, maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyses te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Kor.1:26-29).
Saggeus het nie verniet gesoek nie. God laat Hom vind: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ʼn beloner is van die wat Hom soek” (Heb.11:6). Toe Jesus voor Saggeus gaan stilstaan, het Saggeus geweet dat sy gebed verhoor is – Jesus het nie net sy stad ingekom nie, maar ook in sy hart.
Dit was vir hom heerlik om oop kaarte met Jesus te speel omdat hy geen moeite gehad het om sondebelydenis te doen nie. ʼn Mens kry die indruk dat die Heilige Gees alreeds met hom besig was en van sonde en ongeregtigheid oortuig het. Daarom het hy aan armes en veronregtes begin teruggee.
Mense gee net aan Jesus oor as die Heilige Gees hulle van sonde oortuig. En dis wat Saggeus gedoen het – die Gees praat en die mens gee oor. Dit het die bekering gebring: “Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom aangesien hierdie man ook ʼn seun van Abraham is” (vers 9).
Hierdie woorde moes baie hard op die mompelaars (Fariseërs) neergekom het. “En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by ʼn sondige man tuisgegaan” (vers 7). Die Jode het tollenaars as verraaiers beskou wat hul regte as afstammelinge van Abraham prysgegee het.
Jesus het met die woorde: “... aangesien hierdie man ook ʼn seun van Abraham is” egter nie van Saggeus se fisiese afstamming gepraat nie, maar van iets nuut waarvan Paulus aan die vroeë Christengelowiges in die landstreek Galasië skryf: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). Jesus praat in vers 9 van hierdie geestelike afstamming – die geestelike Israel.
Paulus verduidelik dit ook aan die gelowiges in Rome wat bang was dat as hulle nie fisies van Abraham afgestam het nie, hulle ʼn agterstand het : “Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal” (Rom.4:16).
Toe Saggeus in sy opregtheid die vergifnis in Christus omhels het, het hy onmiddellik ʼn burger van die geestelike Israel geword. Geen mens kan iets belangriker bekom nie want sonder hierdie burgerskap kan niemand die hemel ingaan nie!
Jesus het vir geen ander rede na Saggeus huis gegaan nie as dat sy hart opreg voor God was. Hy het reg opgetree met die geld wat hy gesteel het en ware berou getoon deur dit vir armes te gee. Hy was opreg in sy begeerte om van sonde ontslae te raak wat hom soveel lewensvreugde ontneem het.
Kom ons vat die vyf kenmerke van ʼn soekende hart saam.
- Jy het wat die wêreld jou aanbied. Saggeus was welaf
- Jy besef jou tekortkominge. Saggeus was kort.
- Jy volhard in jou soeke. Saggeus het probeer om Jesus te sien en plan gemaak
- Jy erken jou sonde. Saggeus het oop kaarte gespeel
- Jy omhels die vergifnis in Jesus.
Mag God ons oë vir al die onwaarskynlike kandidate vir sy genade en redding in ons familie, vriende kring en kollegas by die werk open!