Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom – Ps 18:7
AARDBEWINGS EN GOD
Ds Andrè van den Berg
Matt.24:1-44
"Van 1900-1945 was daar 19 groot oorloë in die wêreld. Statistieke toon ook dat natuurlike rampe grootskaals toeneem. Van 1945-1975 was daar 119! Amerikaanse seismoloë bewys ook dat aardbewings sedert 1990 aansienlik toeneem. In 1990 is daar bv. 2,268 aardbewings wêreldwyd aangeteken. In 1999 het die getal tot 3003 gestyg en in 2010 tot 8390. Vanaf 1990 tot 2010 was daar dus ʼn styging van 370% in aardbewings!"
Wanneer kom Jesus weer? In Mt.24:36 sê Jesus self dat geen mens, nie eens die engele in die hemel, die presiese tyd van sy wederkoms weet nie: “Maar van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemel nie, maar net my Vader alleen”. Die dissipels het Hom egter gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld” (:3).
Jesus het nie gesê dat die vraag onmoontlik was om te beantwoord nie, maar vir hulle tekens gegee wat kort voor sy wederkoms in die wêreld gesien sou word. En as ons kyk wat tans in die wêreld en met die wêreld gebeur, het ons goeie rede om te glo dat ons in die eindtyd is waarvan Jesus gepraat het.
Jesus gee vyf duidelike tekens:
Mt.24 praat van ʼn tyd dat:
- daar valse profete sal wees wat voorgee wat hulle as gestuurdes van Christus sal voordoen;
- oorlog en geweld die mensdom soos nog nooit tevore gaan teister nie;
- droogtes, hongersnood en aardbewings baie meer sal voorkom;
- daar van die waarheid afgedwaal sal word; en
- mense die toekoms gaan vrees.
Die wêreld het nog altyd probleme gehad, iets waarvan Jesus in sy tyd deeglik bewus was. Gevolglik kan ons uit sy woorde in Mt.24 aflei dat hierdie probleme nie maar net die gewone alledaagse probleme is nie, maar iets so geheel ingrypend anders, dat mense sal dink dat die aarde vernietig word!
Kyk ʼn mens na hierdie vyf eindtydtekens, bestaan daar geen twyfel nie dat ons tans in die peilvlak van Jesus se wederkoms verkeer. Oral ter wêreld mislei gevoelsgodsdienste mense. Kyk maar net hoe stroom ons eie volksgenote agter hierdie misleiers aan! En daarmee saam die onrusbarende afname in die beklemtoning van die belangrikheid om die Bybel fundamenteel te volg.
Daarbenewens neem oorlog en geweld oorhand toe. Elke nuusberig bevestig dit. Van 1900-1945 was daar 19 groot oorloë in die wêreld. Van 1945-1975 was daar 119!
Ons verneem ook deesdae al hoe meer van aardbewings in verskeie wêrelddele. Dink maar aan die verwoestende aardbewing wat Nepal onlangs getref en duisende lewens geëis het. Die mensdom besef dat daar iets met die aarde aan die gebeur is. Sommige sien dit as natuurlike dinge wat nog altyd gebeur het terwyl ander dit as iets buitengewoon betrag.
Statistieke toon dat natuurlike rampe grootskaals toeneem. Amerikaanse seismoloë bewys dat aardbewings sedert 1990 aansienlik toeneem. In 1990 is daar bv. 2,268 aardbewings wêreldwyd aangeteken. In 1999 het die getal tot 3003 gestyg en in 2010 tot 8390. Vanaf 1990 tot 2010 was daar dus ʼn styging van 370% in aardbewings!
Die vrees vir aardbewings is nie net tot die Ooste of watter ander vasteland beperk nie; mense leef oral ter wêreld in vrees vir skuddings! Die Bybel leer ons dat aardbewings van God kom. Niks gebeur toevallig nie. “Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom...” (Jes.31:2). God het ʼn doel daarmee.
Wanneer natuurrampe gebeur, sê mense baie gou sê dat dit God se oordeel oor huidige booshede is. Dis darem nie heeltemal waar nie. Toe Adam en Eva gesondig en die sonde in die wêreld gekom het, is die hele skepping daarmee besmet. “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (Rom.8:22). Ons leef in ʼn gevalle wêreld waar ons sulke rampe moet verwag. Daarom word sulke rampe natuurrampe genoem omdat dit heel natuurlik op enige plek in ʼn gevalle wêreld kan gebeur.
Daar is gevalle in die OT waar God wel natuurrampe gebruik het om sy oordeel oor mense uit te oefen. Dit was egter nooit die norm nie. Jesus leer ons dat tragedie nie noodwendig die gevolg van ergerlike sonde is nie. As dit wel so was, sou niemand van ons daarvan gespaar gewees het nie! Daarom moet ons versigtig wees om natuurrampe te beoordeel. Gelowiges moet rampe eerder as ʼn waarskuwing aan alle mense sien. Daarmee sê God vir hulle dat indien hulle hul nie bekeer nie, die grootste ramp hulle gaan tref – ʼn ewigheid in die hel!
Job se vriende het die fout gemaak deur sy beproewing aan sonde in sy lewe toe te skryf. Wie so ʼn siening het, sal nie die beproewings en die lyding van die profete en die apostels kan verklaar nie, eens van die bittere lyding van Christus self te praat nie! Ons moet dus nie aardbewings en ander natuurrampe as God se straf op spesifieke mense of volke beskou nie.
Wat is die doel van aardbewings indien dit nie God se straf op spesifieke mense of volke is nie? Het God enigsins ʼn doel daarmee? Ja, God het uiteraard met alles op die aarde ʼn doel: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom.8:28).
Baie van die onverklaarbare dinge wat in die wêreld en met die mensdom gebeur, sal egter vir ons verborge bly totdat Jesus weer op die wolke kom. “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagtes van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” (Rom.11:33,34).
Dis nie net Paulus wat hieraan dink nie, maar ook Moses: “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders...” (Deut.29:29). In Jes.55 sê die Here: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie...” (:8).
Aardbewings speel ʼn belangrike rol in Bybelse profesie. Openbaring praat in vier hoofstukke daarvan (6,8,11,16), Jesaja in drie (2,5,24), Esegiël in een (38), Joël in twee (2,3) en Sagaria in een (14).
Wat leer God ons deur aardbewings? Aardbewings is God se geduldige oproep tot bekering: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet.3:9). Die aardbewings van die eindtyd waarvan Openbaring praat, het juis ten doel om ongelowiges wakker te skud dat Jesus hulle in die hel sal laat beland indien hulle hul nie bekeer nie.
Jesus waarsku self: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnood wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ʼn begin van die smarte” (Mt.24:7,8). Soos wat die uurglas van die wêreld uitloop, sal daar al hoe meer opstand en aardbewings voorkom vir die mensdom om te weet dat Jesus se wederkoms baie naby is.
Wanneer duisende lewens tydens ʼn natuurramp beëindig word, is dit ʼn luide verklaring dat God se wil met sy eiendom geskied. Job roep in sy beproewing uit: “ ... Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd!” (Job.1:21).
Die les wat die mensdom uit natuurrampe moet leer, is dat die lewe uit meer as besittings bestaan. Die lewe behoort aan God. Dis ʼn gawe wat Hy aan ons leen. In die Gelykenis van die Ryk Man sê God aan die dwaas: “... Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereed gemaak het, wie s’n sal dit wees?” (Luk.12:20). God gee en neem lewens soos Hy goed dink. Gevolglik skuld Hy ons niks nie. Wie dit besef wy sy lewe aan sy Skepper, Wie dit minag sal sy fout te laat agterkom!
Hoor wat sê die onverskilliges vir wie dit te laat geword het: “...en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Openb.6:15,16).
Die krag van ʼn aardbewing openbaar die ontsettende almag van God. Daarom behoort elke mens God te vrees. En dis waar wysheid begin: “Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand” (Job.28:28). Alvorens jy nie besef hoe groot en magtig God is, sal jy Hom nooit as hemelse Vader leer ken nie.
Elke bekeerde mens is ʼn wyse mens want hy het die regte ding gedoen. Die meeste mense erken God egter nie as die Skepper nie en kom derhalwe wysheid kort. Gevolglik stoot natuurrampe, wat gelowiges nader aan God trek, ongelowiges van Hom af weg.
Die pyn en lyding wat op aardbewings volg, vergelyk geensins met die ewige pyn en lyding wat ongelowiges in die hel gaan ervaar nie! “... Want daar kom 'n uur dat almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Joh.5:28,29). Aardbewings dien as ʼn waarskuwing sowel as ʼn voorsmaak van die ewige straf wat op ongelowiges wag. God wil vir hulle sê: “As dit so op die aarde gaan, dink net hoeveel erger sal dit in die hel wees!”
Wanneer die aarde onder ons voete bewe, besef ons opnuut dat daar geen veilige plek is om na te vlug as na God toe nie. “God is vir ons ʼn toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge...” (Ps.46:2,3)
Die geweldige toename in aardbewings, getygolwe, siklone en ander natuurrampe veroorsaak dat baie mense God se goedheid bevraagteken. Dis jammer dat natuurrampe dade van God genoem word terwyl Hy geen eer vir die jare waarin dit met die mensdom goed gegaan het ontvang nie.
Die Bybel sê dat Christus die natuur in stand hou: “...want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol.1:16,17).
Kan God natuurrampe voorkom? Beslis! Beïnvloed God soms die weer? Ja, vir seker. Let maar net op Elia wat tot God gebid en dit vir meer as drie jaar niks in Israel gereën het nie. Num.16 wys vir ons dat God soms sonde met natuurrampe straf. Elke natuurramp is egter nie ʼn direkte straf van God nie.
Net soos wat God mense toelaat om bose dade te verrig, laat God die aarde toe om die gevolge van die sonde op die skepping te reflekteer. Die sondeval het alles aangeraak, ook die wêreld waarin ons woon. Gevolglik is sonde die uiteindelike oorsaak van natuurrampe net soos wat dit die oorsaak van siekte, lyding en die dood is. Een ding is seker – natuurrampe skud die mens se vertroue in hierdie lewe en dwing hulle om aan die ewigheid te dink. Dit maak dat mens die voorkeure in hul lewens herevalueer.