Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit gebeur so maklik dat ons as gevolg van ons emosies sondig; die oomblik as jou 'eie ek' seergemaak word, veg jy terug vir die beste vir jouself maar sonder om te dink hoe selfs onskuldige mense dikwels in die proses seerkry. Al wat ons in hierdie verlore toestand kan red, is die genade van God. Bid dat die Here jou wysheid, insig, geduld en 'n vergewensgesindheid sal gee sodat jy met selfbeheersing kan leef.
GOD SE LIEFDESBRIEF AAN JOU
Ds Andrè van den Berg
“Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudigste verstandig” - Ps.119:130
Het jy al ʼn Bybel in ʼn vreemde taal onder oë gehad? Ek glo die meeste van ons het. Gestel dit was jou enigste Bybel; sou jy geestelik groei? Nee, jy sou maar in die duisternis wees. Tereg sê die teks: “Die opening van U woorde gee lig;...” Om die Bybel in eie taal te hê, is onontbeerlik vir geestelike groei.
Luister wat sê die aanwesiges in die tempel toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is: “en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? - ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Hand.2:7,8, 11).
Ons voorsate het vir eeue slegs die Nederlandse Statevertaling of King James Bybel gehad. Daar was nie ʼn Afrikaanse Bybel nie omdat Afrikaans as ʼn kombuistaal beskou is. Selfs skoolonderrig, prediking en kategese was alles in Nederlands. Mense het Afrikaans gepraat, maar Nederlands geskryf.
God was die Boerevolk egter baie genadig en het vir hulle ʼn eie taal laat ontwikkel waarin sy Woord opgeteken kon word. En so het die eerste Afrikaanse Bybel 82 jaar gelede op 28 Augustus 1933 verskyn. Wat ʼn vreugdevolle dag was dit nie om die Bybel oop te maak en te lees: ” In die begin het God die hemel en die aarde geskape...” O, hoe kosbaar is die moedertaal nie, veral om die verlossing in Jesus Christus in jou eie taal te hoor!
God se hand van genade is duidelik in die geskiedenis van ons volk te sien. Let op hoe wonderlik Hy die vertalers destyds gelei het om die regte woorde te skryf en as geestelik verrykte werktuie in sy diens van hul vertalers tafels op te staan. Hulle het ook Jesus se opdrag aan Petrus: “Laat my skape wei” uitgevoer.
Die teksvers lui: “Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudigste verstandig” Ongeveer 300 jaar nadat hierdie woorde geskryf is, het koning Josia van Juda hierdie waarheid in die praktyk beleef. Hy was ʼn goeie koning wat God en sy mense liefgehad het. Al wat slegs was, was dat die Woord van God weens die onverskilligheid van sy goddelose voorsate verlore geraak het. Al wat Josia van God geweet het, was dit wat deur die priesters en oorlewering aan hom oorvertel is. Verder niks nie.
Toe Josia koning geword het, was die Assiriese mag aan die kwyn en het Juda wat onder hierdie heidense verdrukking gebuk gegaan het stelselmatig die simbole van Assiriese oorheersing uit die land begin verwyder en volksgoedere begin opbou. Josia het by die tempel begin en werkers gehuur wat onder toesig van die hoëpriester Hilkia die vervalle gebou begin opknap het.
Terwyl hulle besig was, is daar ʼn boek onder die stof van die puin gevind. Hilkia kon sy oë nie glo nie – dit was die Woord van God soos dit destyds bekend was! Hierdie ontdekking was so groot dat dit dadelik na Josia geneem en voorgelees is. Toe die koning dit hoor, het hy sy klere as teken van berou geskeur. God het duidelik met hom gepraat!
Josia kon in ʼn spieël sy eie gesig sien. In die Bybel het hy sy siel gesien! God het die waarheid van sy Woord soos spykers in Josia se siel ingeslaan en hom laat besef dat daar vir ʼn regering geen beter wetboek as die Bybel is nie.
En wat ʼn beroering het hierdie Bybel nie 700 v.C. veroorsaak nie! Daarmee het Josia die koningshuis en staat geëvangeliseer. Daarmee het die kerk weer kerk geword. Dit was ʼn OT hervorming in die ware sin van die woord. Juda het in God se lig die lig gesien! “Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudigste verstandig”
Dis een manier om met die Bybel om te gaan. Daar is ook ʼn ander manier waarvan ons in Jeremia 36 lees. Na Josia se dood is hy deur sy seun Jojakim opgevolg. Hy was ongelukkig nie van dieselfde geestelike stoffasie as sy vader nie. Tydens Jojakim se regering het die profeet Jeremia ʼn opdrag van God ontvang om ʼn boekrol te skryf. God het dit self gedikteer. Daarna het Jeremia dit aan Jehudi, die voorleser van koning Jojakim gegee om voor te lees. En wat doen hierdie koning met die Woord van God?
“En elke keer het hy, as Jehudi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ʼn skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi ... totdat die hele rol in die vuur .... verteer was” (Jer.36:23).
Hoe het hierdie twee konings nie van mekaar verskil nie! Josia ontvang die Woord met vreugde omdat dit vir hom die lig gebring het. Jojakim verbrand dit omdat hy in die lig daarvan sy duisternis ontdek het. Hy het soos ʼn grotdier die duisternis bo die lig verkies.
Wat maak jy met God se Woord? Jy het ook een van twee keuses – jy kan soos Josia toelaat dat dit spreek om ʼn ommekeer in jou lewe bewerkstellig of jy kan dit in jou gees verbrand en geen plek in jou lewe gee nie. Wie die Woord van God hoor en besluit om nie te luister nie, doen wesentlik dieselfde daarmee as wat Jojakim daarmee gedoen het.
Watter plek het God se Woord en die waarheid daarvan in jou lewe? Is dit ʼn riglyn vir jou lewe? Indien jy voor ʼn moeilike besluit te staan kom, weet jy wat God se Woord sê? ’n Deeglike kennis van die Bybel is meer werd as ’n universiteit vol geleerdheid. Wat maak jy met die Bybel? Luister jy daarna soos Josia of volg jy jou eie kop soos Jojakim? Daar is nie ʼn tussen-in nie; dis of die een of die ander!
Wie met die dinge van die duisternis besig is, hou niks van die Bybel nie. Ons teks sê: “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudigste verstandig”. As die lig van God se Woord op werke van die duisternis val, het sondaars een van twee keuses – verwyder die kwaad soos Josia gedoen het of verwyder die Bybel soos Jojakim. Wat doen jy?
Geen boek word vandag so knaend aangeval en belaster soos die Bybel nie. Die afvalligheid wat vandag op kerklike gebied heers, is aan ʼn verwatering van die Bybel te wyte. Vooraanstaande teoloë van hoofstroomkerke verkondig deesdae openlik dat die Bybel nie God se woorde aan die mens is nie, maar mense se woorde oor God. Gevolglik kan dit foute bevat. En onthou: Vandag se kateder-teologie is more se kansel-teologie!
Nee, die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders. Wie niks daarvan verstaan nie, lees iemand anders se pos! Want luister wat sê die Bybel van die Bybel self: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Om die Bybel te verstaan, moet die leser in ʼn liefdevolle verhouding met God, die Skrywer daarvan, staan. En dis wat vandag in die meeste teologiese skole ontbreek; die noodsaaklikheid van ʼn persoonlike geloofsverhouding met Christus as Verlosser.
Bose magte wat daarop uit is om ons volk te vernietig, skuil toenemend agter die skild wat ontspoorde kerklui se dwaalleer hulle bied. Daarom is geen misleiding so skadelik soos kerklike misleiding nie. Dit stuur siele hel toe! Koester die Woord van God soos nog nooit tevore nie en dank God opnuut dat jy dit al vir baie jare in jou eie taal kan lees!
Amen!