Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die geheim van mooi oudword is om van jouself af weg te kyk deur jouself vir God en jou geliefdes te gee terwyl jy baie liefde uitdeel. Wie só liefhet, word in werklikheid nooit oud nie. Al takel die ouderdom sy lewe af, sterf hy jonk.
IS JY 'N LOOT, OF DOOD?
Ds Andrè van den Berg
“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” - Joh.15:2
Wingerde is ʼn baie bekende gesig in die Wes-Kaap veral as ʼn mens deur plekke soos Stellenbosch, Paarl en Franschhoek reis. ʼn Goed versorgde wingerd is ʼn lus vir die oog. Nogtans word wingerde vir een uitsluitlike doel aangeplant; vir vrugte. Wanneer ʼn wingerdboer druiwe aanplant, besluit hy op ʼn sekere soort wat syns insiens die beste oes sal oplewer. Die vrug wat ʼn wingerd oplewer, is ʼn bewys van die wingerdboer se arbeid aan die wingerd.
In Joh.15 sê Jesus dat Hy die ware wynstok en sy Vader die wingerdboer is. Dis ʼn baie mooi beeld waardeur ons die doel van Christus se koms na die aarde soveel beter verstaan. God het in die volheid van die tyd Jesus as die hemelse Wynstok kom plant. En die vrug wat Hy opgelewer het, het deur die eeue aan mense wat besig was om in hulle sonde dood te gaan, lewe gebring.
Weet jy waar die dood vandaan kom? Dis die gevolg van die sondeval. As daar nie ʼn sondeval was nie, sou niemand gesterf het nie. Maar toe was daar ʼn sondeval, waarna die dood alle mense getref het; nie net fisies nie, maar ook wat die ewigheid betref. Sonder die bekering sterf alle mense ʼn ewige dood.
Met Jesus se koms na die aarde het God met hierdie ewige dood ʼn plan gemaak. Elkeen wat Jesus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het, het God ʼn ewige lewe geskenk. Dit wat die mens by die sondeval verloor het, het God deur Christus vir die mens teruggee.
In die OT (Genesis) lees ons van die boom van die kennis van goed en kwaad wat niemand mag aangeraak het nie. In die NT lees ons van Jesus die ware Boom van die lewe wat almal aanraak. In Hom het God die ewige lewe binne elke mens se bereik geplaas. Almal wat van hierdie vrugte eet, sal vir ewig lewe. Dis die grootste belofte van die ganse Skrif en die hart van die Evangelie!
Joh.15 leer ons iets wonderlik - dat gelowiges nie net sal eet en lewe nie, maar op hulle beurt ook vrugdraende takke word. Die goddelike lewe wat deur die Ware Wynstok in sondaars se lewe gekom het, was nooit veronderstel om net in hulle te bly nie. God beskik dat ander mense ook van hierdie vrug geniet.
“En hy sal wees soos ʼn boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:3). “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:38).
Die hemelse Wynstok ontvang van die hemelse Wingerdboer lewe en op hulle beurt ontvang die lote weer hul lewe vanuit die wingerdstok. Daar is egter een groot voorwaarde – hulle moet ingeplant wees. As hulle nie ingeplant is, word die lewenslyn afgesny en raak hulle droog; net goed vir brandhout. In droë hout is daar geen lewe nie. Dis ook van die geestelike lewe waar. As ons nie by Christus ingeplant is nie, kan ons nie die vrugte dra wat Hy van ons verwag nie.
Wat beteken dit om by Christus ingeplant te wees? Om Hom te gehoorsaam. Die loot kan nie maak soos wat hy wil nie. Hy maak soos wat die wynstok maak. In Luk.23 lees ons hoedat die ware Wynstok hom selfs aan die wil van die hemelse Wingerdboer onderwerp het: “ ... Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied” (:42). Ingeplant beteken gehoorsaam tot die dood toe. “... deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis” (Fil.2:8).
Die loot se wil is geheel en al met dié van die ware Wynstok verweef. Deur die bekering het die mens deelgenoot in die goddelike natuur geword. Deur die gehoorsaamheid van Een het baie sondaars die ewige lewe deelagtig geword.
Jesus se gehoorsaamheid het aan sy verlossing die nodige krag gegee. Sonder gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader kon Jesus nie ʼn Verlosser wees nie. Sonder gehoorsaamheid aan Jesus kan ek en jy nie kind van God wees nie. Gehoorsaamheid aan Hom laat gelowiges die vrugte dra wat by die bekering pas. En hoe lyk die vrugte? “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22).
Alles draai om die as van gehoorsaamheid aan Christus. Daar is nie 'n ander manier waarop ons vrugbare lote wees nie. En dink daaraan : gehoorsaamheid is die enigste ding wat ons as sondaars aan ons Verlosser kan teruggee. Jesus het deur sy gehoorsaamheid ʼn Verlosser geword en ons as lote in staat gestel om aan God gehoorsaam te word.
Hierdie geloofslewe durf ons nie slegs vir onsself lewe nie. Die lote dra nie vir hul eie verheerliking vrug nie maar juis vir ander om dit te gebruik. Dis hoe Christus Homself gegee het. Daardie gees wat in Christus was, is die lewensap van die ware Wingerd. Die lewe in die loot is dieselfde lewe as in die wynstok. As ons vrug dra, kom dit net van die lewe en krag in die wynstok. Daarom sê Jesus tereg: “ .... want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5). En dit alleen is die resep vir doelgerigte geestelike diens – moenie iets sonder Jesus probeer doen nie; doen dit in gehoorsaamheid deur Hom.
Daar is ʼn groot verskil om vir God te werk, en om vrug te dra. Dis die verskil tussen godsdiens en godsvrug; iets wat mense nie altyd raaksien nie, so goed is godsdienstige oëverblindery. Wat laat ʼn mens vir Christus werk? Wat laat mens ʼn kerklike amp beklee, koor sing, verbondsonderrig gee? As ʼn heilige plig of as ʼn uiting van dankbaarheid vir jou verlossing?
Mense kan soms baie ywerig in ʼn gemeente werk met slegs genoegdoening, maar min seën op die dinge wat hy doen, ontvang. Is so ʼn persoon nie dalk net godsdienstig maar nie godsvrugtig nie? Werk wat uit dankbaarheid vir verlossing in Christus gedoen word, lewer altyd vrugte op. Dit kan nie anders nie! “En hy sal wees soos ʼn boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:3).
Indien dit nie vrug oplewer nie, moet so ʼn persoon homself voor die Here verootmoedig en vra: “Here, waarom is ek net godsdienstig maar nie godsvrugtig nie? Moenie godsdiens met godsvrug verwar nie. Dit was die probleem met die Fariseërs – hulle het hul werk was as ʼn plig teenoor God gesien en nie as die vrug op geloof nie; godsdienstig maar nie godsvrugtig nie.
Godsvrug is die spontane gevolg van ʼn gesonde, lewenslustige geestelike lewe wat deur die Heilige Gees in ons leef. En dis die enigste krag wat vrylik en sonder voorgee eerlik in ons kan werk. Daarom is dit noodsaaklik om by Jesus as die ware Wynstok ingeplant te bly. Dan alleen dra ons vrug.
Moet nooit vergeet dat hierdie vrugte wat ons dra nie uitsluitlik net vir ons medemens se voordeel is nie. God gee dit ook sodat ons dit self kan geniet. Ons is nie soos St. Bernard honde in die Alpe wat die houertjie wyn om die nek dra maar self nie daarvan drink nie. God wil hê dat ons self die vrug sal geniet. Voordat die sap deur die wynstok vloei om vrugte te vorm, vloei dit eers deur die loot om dit van krag te voorsien en daarna na die druiwe.
Wanneer ons die werk van Christus doen, moet ons sorg dat onsself elke dag in noue gemeenskap met Christus verfris word. Daarom lees ons Bybel en bid ons. Gevolglik moet die vrug van die Gees sy varsheid en prag eers in ons eie lewens waar wees voordat ons dit aan ander kan uitdeel.
Die toewyding aan God en wegkyk van onsself vir Christus getuig daarvan dat ons lote is. Daarbenewens is alles oëverblindery waarin God ʼn hekel het! Is jy godsdienstig of godsvrugtig? Is jy ʼn loot of dood?
Amen!