Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moses sê aan sy volk om kleinvee te slag vir die pasgaviering en die bloed aan hulle deurposte te smeer sodat die engel van die Here verby sal gaan en nie ook hulle eersgeborenes te laat sterf soos hy met die Egiptenare doen nie. Moses maan die volk ook om die pasgaviering geslag na geslag te onderhou as heilige instelling uit dankbaarheid dat hulle gered is en nie deur die dood daar in Egipte getref is nie. Presies so verwag die Here van al sy kinders, geslag na geslag, om uit dankbaarheid dat Hy ons van die ewige dood met sy kruising gered het, nagmaal keer op keer te vier as teken en seël van die nuwe lewe wat ons ontvang het.
LAAT U WIL ALLEEN GESKIED
Ds Andrè van den Berg
“Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ʼn guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja, gesteel uit die land van die Hebreërs en ek het ook hier niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie” - Gen.40:14+15
Daar is min ervarings so traumaties as tronkstraf. Jy is nie meer vry om te maak soos wat jy gewoond was om te doen nie, maar moet maak soos wat aangesê word. Die ergste is dat jy niks na buite kan doen nie. Tronkstraf kap in effek jou hande af. Jy het die wet oortree en betaal daarvoor met jou vryheid.
Kan daar iets erger as dit wees? Ja, daar kan; as jy onskuldig in die tronk beland soos wat met Josef gebeur het. Dit was die tweede keer dat Josef ʼn laagtepunt in sy lewe beleef en in ʼn put beland het; in beide gevalle onskuldig! “...en ek het ook hier niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie”. Die Egiptiese gevangenisse was basies groot ondergrondse uitgemesselde putte.
In die Bybel word die woord put ook metafories vir die voorkamer van die doderyk gebruik. En dis waar Josef hom in Egipte bevind het – in die kake van die dood. Wie het hom daarin laat beland? Was dit Potifar? Nee, nie in die eerste plek nie. God het hom daar laat beland om sy plan met Josef uit te voer. Dié jongman moes geskaaf word. God het vir hom ʼn lewenspad uitgelê wat deur ʼn hel-versengende Egiptiese tronk moes loop!
In die drome van die skinker en die bakker sien ons die twee uitweë uit hierdie situasie - die weg van die lewe en dié van die dood. Die skinker word uit die put uit opgetrek en keer na sy werk terug. Dis die weg van die lewe en niks anders as onverdiende guns nie (genade). Dieselfde lot as wat die bakker getref het, moes hom getref het. Beide het die dood verdien. Gevolglik het nie een van hulle geweet wat die toekoms vir hulle gaan inhou nie. Die koning sou op ʼn dag besluit wat met hulle sou gebeur!
So het Josef ook nie geweet wat met hom sou gebeur nie. Die koning kon hom enige oomblik hom laat haal en teregstel. Hy was immers in die tronk vir poging tot verkragting, altans so het Potifar se vrou getuig. Gevolglik het gevangenes elke dag in vrees vir die dag van more geleef. Elke dag kon hul laaste dag op aarde wees!
Van een ding was Josef seker – hy is onskuldig uit sy vaderland weggevoer. En wie het daar agter gesit? Die Satan wat hom van sy profetiese beloftes wou beroof – die twee drome wat hy as jong seun gedroom het van mense wat voor hom buig. Satan het geweet wat God se plan met Josef was en probeer om ʼn stokkie daarvoor te steek.
God se beloftes het soos ʼn veelkleurige kleed om Josef gehang. Satan het hom tweemaal daarvan probeer beroof. Die eerste keer toe sy broers hom in ʼn put gegooi en aan slawehandelaars verkoop het. Hulle het sy kleed uitgetrek en daarmee by hul vader aangekom met die leuen dat ʼn wilde dier Josef gedood het. Josef sou ʼn tweede keer sy kleed verloor toe hy Potifar se vrou se wellus veronagsaam het en sy Josef se werkskleed as bewysstuk ingedien het.
Waar Josef in die tronk gesit het, was hy van ʼn hele paar dinge beroof; sy kleed, sy vaderhuis, sy vaderland. en die ergste van alles, sy menswaardigheid. Daarbenewens het hy ook van sy drome van heerskappy beroof gevoel - die van die son en die maan en elf sterre wat voor hom buig. Die profetiese droom van God se beloftes het vir Josef ʼn nagmerriebestaan in ʼn Egiptiese tronk geword. O, hoe het hy nie na sy vryheid, sy land en sy mense verlang nie - die land wat God aan sy oupagrootjie beloof het nie; Kanaän, die Utopia van verwagtings!
Wat Josef op daardie stadium nie geweet het nie en ook nooit sou kon droom nie, was dat God al die tyd met hom besig was. Al het Josef dikwels alleen gevoel, was God besig om hom vir baie groot dinge voor te berei. Josef sou onbewustelik die drie ampte van die gelowige vervul – koning, profeet en priester.
God het Josef geseën om sy dienswerk koninklik onder sy medegevangenes te verrig. Almal het agting vir hom gehad omdat hy baie anders as al die ander gevangenes was. God het hom ook as profeet gebruik. Hy het die gawe gehad om drome uit te lê en op so ʼn wyse God se wil aan medegevangenes bekend te maak. Derdens het Josef ʼn priesterlike rol vervul deur aan medegevangenes hulp en leiding te gee en van die lewende God te getuig. Ek glo dat baie van hulle daar in die tronk hul harte vir God gegee het. Die mens se verleentheid is so dikwels God se geleentheid.
God het Josef beproef deur hom geduldig op die beloftes van die Here te laat wag. Die heersersdrome van hom as seun was nie bloot hersenskimme nie. God was handelend daarmee besig.
Josef is deur die beproewing van alle selfvoldaanheid gestroop. Hy was klei in God se hande. Josef het geleer dat geloof en geduld stalmaats is. Jy kan nie glo en ongeduldig op God se beloftes aandring nie.
Josef het in die tronk baie tyd gehad om te besin. Die groot vraag in sy gemoed was: Hoe gaan ek hier uitkom? Om uit die tronk te kom, het later sy denke so oorheers dat hy aan niks anders kon dink nie. Daarom het hy dit self probeer reël. Hy sê vir die skinker: “Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ʼn guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja, gesteel uit die land van die Hebreërs en ek het ook hier niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie”.
Josef se kommer het hom van God se belofte laat vergeet. Dit was net te stil op die geestelike front. Daar het van God se kant niks aangegaan nie; altans so het hy gedink. Daarom wou hy toe maar self plan maak om uit te kom. “God help those who help themselves”.
Wat Josef nie geweet het nie en in sy wildste drome nooit kon droom nie, was dat God op daardie oomblik besig was om van hom die onderkoning van Egipte te maak. God was besig om hom van ʼn putveroordeling tot byna troonbestyging op te lig - vanuit die diepste diepte na die hoogste hoogte. En Josef het gedink dat God van hom vergeet het! Nee, God het nie. Hy was met ʼn langtermynverlossing vir Josef besig en die verlossing was voor die deur.
Josef was bitter teleurgestel toe die skinker nie sy belofte nakom nie en van hom vergeet. Mooi beloftes in die tronk loop dikwels op leë beloftes uit. Dit was egter God se wil dat daar van die skinker se beloftes niks gekom het nie anders kon Josef dink dat die skinker se goeie woord sy ontslag bevorder het. God sou Josef op sy eie tyd uit die gevangenis bevry. Hy moes nie aan mense se beloftes vasklou nie, maar aan God s’n alleen.
Ongeveer 2000 jaar later het nog ʼn man Hom in die put van die lewe en in die aangesig van ʼn gewisse dood bevind. In die tuin van Getsemane sweet Christus bloeddruppels. En as Petrus en die ander dissipels die swaard wil trek om Hom te bevry, verhoed Christus self dit. Sy pad van vrywording en verlossing sou nie langs menslike weë geskied nie maar van God af kom. Daarom bid Hy: “Laat u wil geskied”.
Was 2015 vir jou ʼn goeie jaar of was dit ʼn jaar vol beproewing? Waar het jy hulp gaan soek? By mense of by die Here? Gelowiges weet wat om in tye van beproewing te doen en waar om hulp te soek. Nogtans gee ons so gereeld aan die versoeking toe om ons heil by mense te soek. En dan misluk dit, waarna die Here ons beskaam as Hy ons beproewing op sy eie wyse beëindig soos wat Hy met Josef gedoen het. Mag ons 2016 tegemoet gaan met die bede: “Here, leer my op U alleen vertrou en laat U wil in my lewe geskied!”.
Amen!