Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is tog so besorg oor ons kinders, maar ons doen ook soms groot skade daarmee. Ons kinders is nie óns kinders nie; hulle behoort aan God – ons moet hulle ons liefde gee en hulle liggame huisves maar nie hulle siele nie, dit behoort aan God. Ons moet ook nie probeer om hulle te maak soos ons is nie want die lewe beweeg nie agteruit nie. Vertrou hulle net aan God toe terwyl julle hulle in liefde versorg.
WARE NEDERIGHEID KOSBAAR VOOR GOD
Ds Andrè van den Berg
“Hy moet meer word, maar ek minder”.
ʼn Woordvoerder is iemand wat namens ʼn hooggeplaaste persoon soos ʼn koning of president praat. Hulle is bloot spreekbuise wat vir mense sê wat so ʼn persoon vir hulle wil sê. Gevolglik luister mense na hierdie woordvoerders asof hulle na die koning of president self luister.
God het die profete van ouds as spreekbuise gebruik om sy boodskappe oor te dra. Gevolglik het baie van die boodskappe met “So spreek die Here” begin. Mense wat nie na die profete wou luister nie, wou in effek nie na God luister nie. En dit was vir profete ʼn ernstige saak, nie omdat dit hulle eer aangetas het nie, maar God se eer.
Die profete van ouds het ʼn baie belangrike rol as skakel tussen God en mens vervul. So ook die priesters wat ʼn skakel tussen God en die gemeente was. Sien u die verskil? Profete was die skakel tussen God en mens in die algemeen terwyl priesters die skakel tussen God en ʼn spesifieke gemeente was.
Soos wat die gemeente nie altyd na die priester geluister het nie, het die volk ook nie altyd na die profete as gestuurdes van God geluister nie. Jesaja beween dié situasie: “Wee die sondige nasie; die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:14).
Jesaja kla nie hier oor die volk wat nie na hom wil luister nie. Hy kla oor die volk wat nie na God wil luister nie. Dit gaan nie oor die boodskapper nie maar oor die Sender.
In die OT ontmoet ons talle groot en uitstaande profete soos Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniel. Wie was die grootste van alle profete in die Bybel? Een wat nie in die OT by die naam genoem word nie; slegs sy optrede, en dit is Johannes die Doper. Jesus sê van hom: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie ...” (Mt.11:11).
Die Jode het die Messias eeue lank verwag soos die profete deurgaans voorspel het. Dink aan Jesaja wat 750 jaar voor die geboorte van Jesus van die maagd gepraat het wat swanger sal raak (Jes.7:14) en ʼn lig wat met die geboorte van die Messias oor die sonde duisternis sal skyn (Jes.9:1). Jesaja voorspel voorts dat die Messias ʼn wegbereider sal hê: “ ’n Stem van een wat roep: ‘Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ʼn groot pad vir onse God!” (Jes.40:3).
Tot en met die profeet Maleagi het God gereeld met die volk gepraat, self toe hulle in ballingskap was. Esegiël het sy profesieë in Babel ontvang. Na Maleagi het die stem van die profete vir 400 jaar stil geword omdat God niks meer vir Sy volk te sê gehad het nie.
Toe God die vier eeue lange stilte verbreek en Johannes in die woestyn begin profeteer, het dit ʼn hele opskudding onder die Jode veroorsaak. Na 400 jaar het God weer vir hulle iets te sê! Toe die mense Johannes vra wie hy is, het hy gesê: “Ek is die stem van die een wat roep in die woestyn; Maak die pad van die Here reguit...” (Joh.1:23). So is die profesie van Jesaja bewaarheid. En op sy bekendmaking het ʼn salige aankondiging gevolg: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh.1:29).
Johannes het ongeveer ʼn jaar voor die kruisiging van Jesus ʼn martelaarsdood gesterf toe hy oor sy onverskrokke getuienis teen die koningshuis onthoof is. Hy was ongeveer 33 jaar oud. Desondanks ʼn baie kort bediening het hy ʼn belangrike rol as woordvoerder van God in die bekendstelling van Christus as die Messias gespeel. Hy is vir elke gelowige ʼn rolmodel van wat dit beteken om Christus tot die dood toe te volg.
Benewens Johannes se onverskrokke getuienis is daar een aspek van sy lewe wat gelowiges se aandag verdien – sy nederigheid. Ten spyte van sy aansien as enigste profeet van sy tyd, het Johannes nooit die kalklig by Jesus probeer steel nie. Sy bediening het slegs om die verheerliking van Jesus gegaan. “Hy moet meer word, maar ek minder”.
Johannes kon met die aanhang wat hy gehad het, so maklik sy eie beuel geblaas het. In Mt.11 lees ons dat hy selfs dissipels gehad het; mense wat hom gevolg het om meer van Jesus te leer. Desondanks het Johannes altyd na Jesus gewys. “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16). God se grootheid het in Johannes se nederigheid geskitter. Nederigheid is ʼn gawe van God wat ʼn mens, al besit jy die wêreld, niks as sy eie laat ag nie.
Die koninkryk van God is anders as aardse koninkryke. Burgers van aardse koninkryke meet met ander maatstawwe as dié van die koninkryk van God. Die wêreld sê dat as ʼn mens groot wil wees, hy vir homself naam moet maak. Om in die koninkryk van God groot te wees, moet jy van jouself vergeet!
Hoe doen ʼn mens dit? Deur klein voor God te word. Hoe kleiner die mens, hoe waardevoller is hy vir die koninkryk van God. En dis hier waar die meeste mense misluk, want almal wil tog te graag groot wees.
Die Bybel leer ons: Groot in die wêreld, klein voor God; klein voor die wêreld, groot vir God. ʼn Nederige mens sien mense vir wat hulle werklik is vir die eenvoudige rede dat hy nie teen sy eie belangrikheid vaskyk nie.
Wie groot in die wêreld wil wees, werk nooit sinvol vir God nie. Nederigheid is ʼn absolute vereiste vir sinvolle geestelike arbeid. Daarsonder kan niemand skatte in die hemel bymekaar maak soos Christus beveel nie. Sonder hierdie skatte is ʼn mens geestelik bankrot.
Nederigheid is een van die mooiste eienskappe in ʼn gelowige se lewe. Wat ʼn nood het die kerk nie daaraan nie! Kerkmense is soms so vol van hulself dat daar vir Christus geen plek in hulle lewe is nie. Baie sit so stewig op die troon van hul eie lewe dat die stootskraper van die Evangelie hulle nie daaruit lig nie!
Ons leef in ʼn wêreld wat in ʼn soeke na eie eer en roem vergaan. Dit lei tot geestelike armoede. Geestelike rykdom lê juis in ʼn klein-wees voor God. Jesus het by geleentheid die dissipels gevra om die pasga voor te brei en toe niemand die gebruiklike voetewas wou doen nie, het Jesus dit self gedoen.
Leer van die vrugteboom – die tak wat die laagste hang, is die een wat die meeste vrug dra. Die gelowige wat die laagste buig, is die vrugbaarste in God se koninkryk. Wie die meeste van homself dink, dink die minste aan God.
By geleentheid vra iemand vir Augustinus wat die belangrikste eienskap in ʼn gelowige se lewe is: “Die eerste, tweede en derde belangrikste eienskap is nederigheid” was sy antwoord. Ja, nederigheid is die wortel waaruit alle ander goddelike deugde spruit en ʼn nederige hart die mooiste tempel vir God.
In die NT lees ons van die Fariseërs wat baie godsdienstig, maar nie nederig was nie. Hulle wou graag vroom wees, maar het nie kans gesien vir die nederigheid wat dit moes vergesel nie. En dis vandag nog waar. Daar is baie mense wat vroom voorkom, maar in wie se lewens nederigheid opsigtelik ontbreek. Dit gaan oorgesien te word.
Nee, die Bybel leer ons dat nederigheid die altaar is waarop ons ons offers vir God neerlê. Nederigheid laat jou nie minder van jou dink nie, maar minder aan jouself dink. Trots, daarenteen, het al van engele duiwels gemaak. Nederigheid maak weer van duiwels engele.
Wie vol van homself is, is nie net vir God onbruikbaar nie; mense vermy ook so ʼn mens. Wie leeg van homself is, word vir God bruikbaar en ʼn liefling onder mense. Luther het gesê dat God die wêreld uit niks gemaak het nie; iets wat ook vir die mens geld. Solank as wat ons niks is nie, kan God iets van ons maak. Mag God ons met nederigheid bedeel en met dankbaarheid vervul vir dit wat Christus vir ons aan die kruis gedoen het. “Hy moet meer word, maar ek minder”.
Amen!