Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het jy al gesien wat dankbaarheid aan mense doen? Geen selfsug, geen eie-ek op die voorgrond, geen stryd in jou binneste nie, dus geen stryd meer tussen mense wat vir mekaar omgee nie. Daar is slegs die allesoorheersende wete dat jy op die regte plek is, ongeag jou omstandighede, en hieroor kan jy verskriklik dankbaar bly!
STAAN VAS, JY EN JOU GESIN
Ds Andrè van den Berg
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” - Rom.12:2
In 1994 is geweld en ontwrigting in ʼn bont vlag toegedraai in ons land afgelaai. Dis oral in Afrika deel van heidene se politieke mondering. Ongelukkig het die verwarring wat dit veroorsaak, ook na die plaaslike kerktoneel uitgekring. Mense raak al hoe meer daarvan bewus dat hoofstroomkerke verkeerde koerse inslaan en hul lidmate verwar. Kerke wat veronderstel is om die dwaasheid van die wêreld aan die lig te bring, omhels eerder die dwaasheid daarvan en versaak toenemend die waarheid van God se Woord.
Kerke het weens verraad op verkeerde paaie beland. Dit wat jare gelede op die politieke terrein gebeur het, het ook na die kerklike terrein oorgespoel.
Dit het begin toe teologiese skole deur volksvyandige kerklui gekaap is. Ontspoorde teoloë het die kerkbeleid wat jare lank gevolg is as ʼn teologiese hongerdiëet veroordeel en aan die werk gespring om lidmate van hul ou idees te probeer bevry. Mense moes onder andere daarvan oortuig word dat evolusie tog waar is, dat daar nooit ʼn sondeval was nie, dat homoseksualisme en saamwoon nie sonde is nie en dat Christus nie die enigste brug tussen God en mens is nie.
Tragies genoeg was al hierdie kerke aanvanklik skriftuurlik korrek. Toe hulle egter die gesag van die Skrif begin bevraagteken en van die waarheid begin afwyk, was die skrif aan die muur. Gelukkig het alle lidmate die dwalings nie gelate aanvaar nie en die dwaalleraars teengestaan. Ja, daar was mense wat geweet het wat die Bybel sê en vir hulself gedink het!
Hoe lyk ʼn kerk wat Christus en die waarheid liefhet? Die Bybel sê dat dit anders as die wêreld lyk. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed...” Die versoeking was destyds groot om toegeeflik teenoor die heidene te wees en sodoende ʼn meer positiewe beeld uit te straal.
Dit was ʼn lokval van Satan. Daarom waarsku Paulus hulle om anders as die heidene te wees. Die kerk beteken die meeste vir God as dit die minste na die wêreld lyk. ʼn Kerk wat alles vir almal probeer wees, beteken op die lange duur niks vir niemand nie!
Die kerk mag haar egter nooit van die wêreld onttrek nie. Sy het immers ʼn opdrag van Christus om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Die kerk mag egter nooit so in die wêreld opgaan, dat sy daarin verdwyn nie. En dis die dilemma - kerke lyk te veel na die wêreld en raak die koers onder die dekmantel van vernuwing kwyt. Ondeurdagte koersverandering maak van kerke karikature en van eredienste sirkusse.
Daar word vanaf kateders geleer en van kansels af verkondig dat die kerk by die wêreld moet aanpas of sterf; adapt or die. Dis ʼn set! Daar is vir die kerk net een sinvolle aanpassing - terug na God en sy Woord! Leraars moet die Evangelie weer vreesloos verkondig, die Bybelse tug op dwaalleraars toepas en vreemde elemente uit die liturgie en inkleding van die erediens uithaal.
Kerke wat dit doen, kry nie net nuwe lewe nie, maar herwin ook hul verlore geloofwaardigheid want dis die dinge waarin God behae het: “...maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”. Verandering geskied slegs deur die vernuwing van die gemoed.
As kerke openlik erken dat hulle oor bepaalde sake verkeerd was en die Bybelse aanwysers volg, sal daar nuwe lewe kom wat mense tot ʼn geloofseenheid sal saamsnoer. Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde tans – kerke verbrokkel en gaan ten gronde. Moenie deur oppervlakkige vertoon geflous word nie. Visse wat doodgaan, dryf pens na bo. Dis maar hulle manier om onder te gaan!
Daar is vir die kerk net een regstellende optrede - terug na God en die waarheid. Daar is net een Evangelie, dié van Jesus Christus wat sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom”. ’n Veranderende wêreld verander niks aan wie God is, of wat Hy sê of gebied nie. Sy Woord is onwrikbaar vas.
Kerke se versugting na verandering en modernwees spruit uit sonde. Dis daardie ingesteldheid wat sê: “Dis my reg om te leef soos ek wil en ek sal hierdie reg nooit prysgee nie. Ek is my eie god!”. Die mens verhef homself tot die middelpunt van die heelal soos wat Paulus aan die Romeine skryf: “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Rom.1:25). Dis tragies dat hierdie vernietiging onder die dekmantel van godsdiens geskied!
Onderdane wil graag die wil van hul koning doen. So ook die burgers van die koninkryk van God. Niemand word burger van hierdie koninkryk as die Gees van God hom nie daartoe roep nie. En waar dit gebeur, staan die ewige Koning se wil voorop. Daarom leer Jesus ons bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”
Oral waar God se wil onder mense geskied, groei sy koninkryk en geniet gelowiges ʼn besondere band van eenheid soos in die Twaalf Artikels bely word. As hierdie eenheid ontbreek, heers die sonde en probeer die ontspoorde kerke gruwels soos bv. homoseksualisme te regverdig. God se Woord is tog baie duidelik: “Of weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” (1 Kor. 6:9).
Ontspoorde kerklui is nie net ontrou aan die waarheid nie, maar ook aan hul eie hart. Hulle vermy doelbewus voor die handliggende betekenisse van sekere Skrifgedeeltes net om die heidene ter wille te wees. Wie van die eenvoudige, grondliggende waarhede oor sonde, dood en die mens se nood aan redding afwyk, maak spoedig met die Bybel net wat hy wil. Gelowiges daarenteen glo die Bybel van Genesis tot Openbaring want as die waarheid nie by die eerste boek begin nie, waar begin dit dan?
Die leuen dat God sondaars ongekwalifiseerd liefhet, rig die kerk oneindige skade aan. As dit waar was, sou God bv. nie homoseksuele daadbeoefenaars in die hel laat beland nie, so ook nie mense wat buite Christus is en nooit die bekering gesmaak het nie. Die gevolg sou wees dat God nie ’n probleem met sonde sou hê nie. Waarom dan ’n Christen word? Waarom sending- en evangelisasieveldtogte loods? Dit sal mos alles tydvermorsing wees!
Ewolusioniste sê dat Ewolusie die ware wetenskap en Genesis verkeerd is. As daar dan nie ʼn Skepper is nie, is daar gevolglik geen nood aan ’n Verlosser nie. As daar nie ʼn eerste Adam was nie, wat is die sin van ʼn laaste Adam (Jesus)?
Die Evangelie van verlossing is nie moeilik om te verstaan nie. Ons leef in ’n sondebesmette wêreld en gaan derhalwe almal sterf. Ons kan onsself nie red nie. Is dit derhalwe ʼn hopelose situasie? Nee, God is ’n God van liefde en het vir ons voorsiening gemaak: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom.5:8). “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh.3:17). Dis die hart van die evangelie!
Kerke glo en verkondig dit nie meer nie. Daarom verloor hulle hul greep op lidmate. Duisende lidmate verlaat hul kerke op soek na kerke waar God nog die fokuspunt is. Duisende mense uit verskeie kerkgenootskappe stroom na mense soos Angus Buchan omdat hulle geen behoefte aan oppervlakkige kerklike vermaak het nie, maar aan geestelike voedsel.
Dalende lidmaattalle maak dat kerke gedurig na metodes soek wat sal keer dat lidmate die kerk verlaat. Indien hulle nie op die regte plek begin soek nie, gaan al hul pogings tevergeefs wees. Dit help nie om meer ruimte vir ander denke te maak as dit nie met God se Woord strook nie. Die aandrang op strukturele kerkeenheid is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Die Bybel eis dit nêrens nie. Strukturele kerkeenheid soos wat die Belhar-belydenis bepleit, is in werklikheid niks anders as ʼn verskoning vir kerklike rassevermenging nie. Die kerk is daar om mense te verbroeder en nie te verbaster nie! In Openb.2 en 3 waarsku Christus ses van die sewe gemeentes in Klein Asië dat hulle dinge in hul gemeentes toelaat wat nie by kerke hoort nie!
Wat gaan van die kerk van Christus aan die suidpunt van Afrika word? Is daar nog enige hoop vir hierdie kerk? Sal dit die getygolf van dwaalleer oorleef? Ja, dit sal, maar in die proses baie kleiner word, maar nooit ten gronde gaan nie. “Hou Christus self sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede!” (Ges.266).
Christus gee in Openb.2:10 aan kerke wat die waarheid liefhet en tot aan die einde aan sy Woord getrou gaan bly ʼn wonderlike belofte: “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee”.
Staan vas; jy en jou huisgesin!
Amen!