Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal wil tog graag gelukkig voel maar weet nie altyd hoe om dit te bereik nie. Ware geluk spruit uit die wete dat elkeen van ons 'n taak in die wêreld het wat met dade gepaard gaan, en as ons daardie werk met 'n rein gewete doen sal ons verbaas staan oor die genoegdoening wat ons ervaar, die gevoel van gelukkig wees.
KULTUSSE
Vanghokke van die Satan
Ds Andrè vd Berg
Inleiding
Met kultusse keer Satan miljoene mense ter voorbereiding van die koms en regering van die Antichris in die hok van gesamentlikheid vas. Dit begin by ʼn afwyking van die grondliggende leer van die Christendom waarna Skrifgetroue kerke vir vreemde leer verlaat word.
Kultusleiers bied hulself as moderne profete aan en verkondig dat hulle die enigste kanaal is waardeur die Godswaarheid na die mensdom vloei. Dis ʼn leuen! Hulle verwring in werklikheid die sentrale Bybelse boodskap deur van randsteensake hoofpad-geloofsake te maak. Hulle ag hul geroepe om spesiale boodskappe oor te dra, al het dit geen Bybelse begronding nie.
Kultusse het ʼn bose invloed op volgelinge en dwing deur wettiese voorskrifte en bedekte vervolgingsdreigemente gesag by hul af. Dit bepaal lede se gedrag, denke, inligting, emosies, taal en metode van Skrifverklaring.
1. Mensebeheer
Kultusse draai om die as van mensebeheer. Om die organisasie te gehoorsaam is om God te gehoorsaam en om van hulle te verskil, is om van God te verskil. Die organisasie is as’t ware God in hul midde. Derhalwe bepaal dit wat reg of verkeerd is en bestaan daar geen plek vir persoonlike besluite nie.
Alle ernstige sondes,soos deur die kultus omskryf, moet bely word. Lede wat reëls oortree, moet aangekla word om moontlike verdere oortredings te verhoed. Sulke inligting kan maklik ʼn sweep in die hand van die leier word waarmee hy lede kasty.
Kultusse maak op waterdigte logika aanspraak net om die skyn van waarheid aan die organisasie te verleen en teenspraak te verhoed. Lede moet dan ook alle beskouings in stryd met die kultusleer summier verwerp sonder om enigsins daaroor na te dink. Kultusse het onbuigsame standaarde vir lidmaatskap. Dit word streng toegepas en waar nodig selfs tug toegepas. Kultusleiers dra altyd ʼn knuppel onder die toga. Wie uit die organisasie geskop word, verloor vriende, familie, lewensdoel en God se guns; aldus die waarskuwing.
2. Denkebeheer
Kultuslede dink baie eenders. Daarom verkry vrae oor hul leer en organisasie dikwels eenderse antwoorde. Wie logies met hul probeer geredeneer, loop hom altyd teen ʼn denkblok vas. Dis asof hulle die waarheid nie kan insien nie.
Satan verblind sulke mense se verstand:
“...naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor.4:4).
Hierdie gedagtegang-stoppertegniek is die gevolg van breinspoeling. Daarmee word lede se gedagtegang op die kultusleer gevestig gehou en hul denke beheer. Daarom gaan die meeste persone wat ʼn kultus verlaat deur ʼn onttrekkingsfase alvorens hulle werklik vry is.
3. Gedragsbeheer
In 1978 is die wêreld deur die selfmoord van meer as 900 lede van Jim Jones se kultiese Peoples Temple geruk. Dit was die rampspoedige gevolg van kultiese gedragsbeheer; ʼn mosaïek van gekweekte abnormale gedragspatrone wat in ʼn teologiese raamwerk ingebed is.
Die kunsmatige eenheidsgevoel wat kultusse onder lede bewerk, beïnvloed en beheer hul persoonlike gedrag. ʼn Lid sal bv. baie anders binne die organisasie optree as daarbuite omdat hy binne die groepsverband vir meer dinge kans sien. Hy beskou homself deel van ʼn groep uitverkorenes met ʼn dringende boodskap van God aan die wêreld.
Omdat hulle met mense omgaan wat krities op hul sienings is, voel hulle des te meer op mekaar aangewese - soos ʼn gesin wat saam die aanslae van die wêreld moet verduur. Hierdie band kan so sterk wees, dat hulle hul lewe vir die groep sal aflê soos Jim Jones se mense gedoen het. Hy het hulle laat glo dat die dood die enigste uitweg was om aan die bose wêreld te ontkom en daarna ewige heerlikheid te geniet.
Kultiese groepsgevoelens stem baie met die eenheidsgevoel tussen lede van geheime klubs ooreen. Hierdie emosionele gom wat hulle aan mekaar verbind, besiel hulle om nuwe lede te werf. Laasgenoemdes geniet aanvanklik baie aandag om te verseker dat hulle nie deur kritiek afgeskrik en na hul vorige kerkverbande terugkeer nie. Na verloop van tyd verdwyn hierdie besondere aandag en moet hulle weer nuwe lede gaan werf.
4. Gevoelsbeheer
Kultusse beheer ook mensegevoelens met vrees. Hulle literatuur is gewoonlik deurspek van naderende onheile en die organisasie as die enigste uitweg uit die verderf voorgehou. Hierdie vrees word so aangedik, dat lede enigiets sal doen om aan die verderf te ontsnap. Dit hou hulle getrou aan die organisasie en onwillig om met kritici te praat.
Lede word ook graag wysgemaak dat Satan mense op hul weg gaan bring om hulle van die “goeie”weg te vervreem. Die negatiewe reaksie wat lede van familie en vriende ervaar, versterk dit. Kultuslede verwag deurentyd ʼn duiwel om elke hoek en draai wat wag dat hulle ʼn voet verkeerdsit en saam met hom hel toe gaan!
Mense vrees oor die algemeen om niks in die lewe te wees nie. Kultusleiers buit hierdie vrees uit deur lede te oortuig dat betekenisvolle lewens slegs binne die parameters van die betrokke kultus geleef kan word en nie daarbuite nie. Lidmaatskap ondervang dus hierdie vrees. Dis ʼn leuen wat mense hul vryheid kos. Kultusleiers skroom nie om by lede ʼn vrees aan te wakker dat wie die groep verlaat, ernstige dinge gaan oorkom nie; selfs hul dierbares!
Deur gedurig ʼn donker prentjie van die wêreld buitekant die groep te skets, word mense slaafse navolgers van kultusse. Hoe langer ʼn lid by die groep is, hoe moeiliker word dit vir hom om daarmee te breek. En om van voor af nuwe vriende te moet maak, is iets waarvoor baie nie kans sien nie.
Negatiewe reaksies teenoor kultusse dryf lede dikwels verder in die arms van die kultus in. Daar ervaar hulle liefde, aanvaarding en aanmoediging. Daarom skilder kultusse Christenkerke altyd so donker dat lede die geborgenheid wat die organisasiebied vir niks sal wil verruil nie.
Kultiese lidmaatskap bied lede die geleentheid om ʼn nuwe begin te maak. Dis asof hulle ʼn stukkie hemel betree omring deur mense wat vir hulle omgee. Hierdie ervaring duur egter nie baie lank nie waarna groepsgevoel alles van getroue deelname en werwingsresultate afhang.
5. Inligtingsbeheer
Inligting is die brandstof wat die verstand benodig om te kan werk. Gevolglik neem mense besluite met die inligting waaroor hulle beskik. Derhalwe waak kultusse sorgvuldig oor dit wat hul lede sien, hoor, lees en skryf en peper hul met gekeurde inligting.
6. Taalbeheer
Kultusse het ook hul eie woordeskat. Dis gewoonlik bekende woorde waaraan hulle ander inhoude gee of selfontwerpte woorde. Taal gee aan mense die nodige woordeskat om te kan dink. Daarom kan denke ook deur woordeskat beheer en misbruik word om kultuslede eenders te laat dink. Dit vorm ʼn onsigbare muur tussen lede en buitestaanders en laat eersgenoemdes valslik beter ingelig as laasgenoemdes voel.
Kultiese taalgebruik breinspoel lede om nie vir hulself te dink nie. Dis duidelik in kultusse se hervertolking van die woordeskat van die Bybel te sien. Hulle heromskryf Bybeltekste om by hul leer te pas. Dis buikspraak! Om so met die Bybel om te gaan, slaag nie die toets van die Bybelse verband waarin dit geskryf is nie; ook nie die grammatika of teksuitleg nie. Die Israel Visie se misbruik van die Bybel om te bewys dat slegs blankes hemel toe gaan, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.
7. Standaardbeheer
Kultusleiers maak daarop aanspraak dat hulle met goddelike gesag optree en matig hul die reg aan om oor reg of verkeerd te besluit. Dit laat lede weinig ruimte vir persoonlike besluitneming oor. Daar bestaan gewoonlik ʼn lys van moets en moenies en dit waaroor daar geen direkte uitspraak is nie, word na die leiers vir uitspraak verwys.
Kultuslede skep graag die indruk van ʼn heiliger lewenswandel in vergelyking met mense daarbuite. Kultusse blaas dit aan om te verseker dat geen lid sal wil wegbreek nie. Hulle leesmateriaal is deurspek van voorbeelde van hoe sleg dit met diegene buite die groep gaan en hoe goed met hulle daar binne.
8. Geskiedenisbeheer
Kultusse glo dat hulle die enigste ware kerk op aarde is en trek hul geskiedenis na die eerste gemeentes in die NT tyd terug. Hulle glo dat in die eeue daarna geen ware kerk bestaan het nie omdat Satan die kerk afvallig laat word het. God het egter met hulle stigting ingegryp en die geskiedenis van sy kerk herstel. Dus is hulle na ʼn eeuelange onderbreking die voortsetting van die ware kerk wat die wederkoms van Jesus inwag.
9. Godsbeheer?
Kultusse bely dat God in beheer van hul organisasie is en dat Hy hulle gebruik om ay doel met die mens op aarde te verwesenlik. Dis in werklikheid net anders om; hulle “beheer” God en laat hul eie wil geskied. Dit wat die organisasie besluit, het God besluit en wat hulle doen, is wat Hy gedoen wil hê. Om uit die organisasie te bedank of, erger nog, uitgeskop te word, haal God se straf en die ewige verdoemenis oor hom!
10. Verlossingsbeheer
Kultuslede glo dat hulle alleen hemel toe gaan en niemand anders nie. Daarteenoor sê die Bybel dat elkeen wat waarlik in Christus glo, die ewige lewe het:
“En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe(1 Joh.5:20).
Kultusse verwerp die Bybelse uitverkiesingsleer en glo dat niemand tot op die laaste minuut sekerheid van sy ewige eindbestemming het nie. Dis ʼn leuen en ʼn ontkenning van Jesus se verlossingsmag en werking van die Heilige Gees. Gehoorsaamheid aan die kultusleer en volharding in sekere voorgeskrewe goeie werke bepaal die eindbestemming. Die Bybel praat anders:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Efes.2:8-10).
Die verwarde sondaar wil nie van God afhanklik wees nie maar sy eie heil uitwerk. Daarom verwerp kultusse die Hervorming se genade alleenbeginsel.
“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie” (Rom.11:6).
11. Bybelverklaringbeheer
Vir onkundiges lyk dit asof kultuslede baie erns met Bybelstudie maak. Dis alles voorgee. Hulle ken die Bybel glad nie so goed as wat hulle voorgee nie. Hul Bybelkennis is slegs ter verdediging van hul dwaalleer. Tekste word links en regs buite verband aangehaal. En dis onverantwoordelik. Om iemand buite verband aan te haal, is oneties, maar om God buite verband aan te haal is lasterlik.
12. Kerkleerbeheer
Die groot verskil tussen kerk en kultus is die gesagsbron wat gebruik word. Vir kerke is die Bybel die hoogste gesag en kerkleeraltyd daaraan gemeet. By kultusse is dit andersom; Skrifgesag is aan die sg. nuwe lig wat die leiers ontvang ondergeskik. Daarom kan hulle leer enige tyd verander. Lede durf dit nooi bevraagteken nie omdat God dit glo so aan die nuwe profete openbaar het.
Kultusse verskil ernstig van die basiese leerstellings van die Christendom. Om waarlik kerk te wees, moet daar minstens in die Drie-eenheid, die Godwees van Christus, sy versoening, liggaamlike opstanding, verlossing uit genade en sigbare wederkoms geglo word. Talle kultusse aanvaar dit nie.
Belydenisskrifte en Sinodes het deur die eeue aan die grondliggende leer van die kerk gewerk om eenstemmigheid in die kerk te verseker. Kultusse het dit kom versteur. Die verwarring wat dit in sommige godsdienskringe veroorsaak, is niks anders as die herhalings van debatte wat al in die verlede met ketters gevoer is nie.
13. Lidmaatbeheer
Kultusse meet hul sukses aan stygende ledetalle. Hoe meer lede hulle het, hoe suksesvoller is die organisasie en geesdriftiger is die werwingswerk. Hulle doen hulle as ywerige gelowiges voor om buitestaanders te beïndruk. Namate die teikenpersoon belangstelling toon, lei hulle hom in dwaalleer in. Baie van die werwers word in die oorredingskuns opgelei.
Kultusse het gewoonlik streng standaarde vir lidmaatskap waaraan ʼn persoon moet voldoen alvorens hy lid kan word. Daar word dan ook streng teen lede wat van die kultusleer afwyk opgetree. Indien so ʼn persoon nie tot besinning kom nie, word hy met al die sielswroeging wat daarmee gepaard gaan geskors. Dis makliker om by ʼn kultus aan te sluit as om dit te verlaat. Talle mense het al met hul lewens daarvoor geboet!
Slot
Kultuslede se geesdriftige toewyding aan dwaalleer is tragies. Hulle ontsien geen tyd of moeite om hul leuens aan mense op te dwing nie. Dis een van die aspekte wat kultusse graag gebruik om hulleself vir buitestaanders aanloklik te maak.
Gelowiges behoort ʼn baie deeglike studie van die basiese Bybelse leer te maak. Dit sal nie net hul Bybelkennis aansienlik verbeter nie, maar hulle ook leer om Skrifgetroue kerke te verdedig. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Al gee kultusse voor om oor besondere Skrifkennis te beskik, is dit alles oëverblindery. Hulle het in werklikheid geen begrip van die volle raad en al die aspekte van die verlossingswerk van Jesus Christus nie.
Hulle erns met evangelisasie moet Skrifgetroue kerke beskaam. Mense neem kennis van hul uitsonderlike ywer, maar is self nie bereid om iets soortgelyks vir die waarheid aan die dag te lê nie. Gelowiges doen nie hul werk nie. Daarom het al hoe minder mense erg aan die kerk.
“Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet.3:15).