Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit wat op Kersdag gebeur het, was nie maar net ’n mooi gebaar van God nie, maar om die puin van sonde in ons lewens op te ruim sodat ons waarlik vry kan wees. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36). ’n Mens is of vry of gebind. Is daar iets wat jou bind?
NET EEN TREË
Ds Andrè vd Berg
“... daar is maar net een tree tussen my en die dood” (1 Sam.20:3)
Die lewe is ʼn gawe van God wat ons in staat stel om groot dinge te doen en te geniet. Daarom hou ons met alles moontlik aan die lewe vas. Nogtans is daar niks so seker as dat daar ʼn dag gaan aanbreek, dat ons die lewe moet teruggee nie. “en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:7)
Ons gaan almal ophou om verder met die lewe aan te gaan. Daar is van Rolls Royce motors gesê: “A Rolls-Royce never breaks down, it only fails to proceed”. Dis ook van die lewe waar - ons verloor nie die lewensspel nie; tyd gaan net een dag ontbreek om met die lewe voort te gaan.
Almal se uurglas loop uit - sommige mense s’n vinniger as ander. Dawid het as jongman gedink syne gaan vinnig uitloop omdat hy gedurig vir sy lewe moes vlug. Koning Saul het hom as ʼn bedreiging vir sy troon beskou, veral nadat hy Goliat verslaan en die eerste plek op die volk se gewildheidsleer beklee het. Dit het Saul so ontstel dat hy van hom ontslae wou raak. Dawid moes dood!
In 1 Sam.20 is Dawid in gesprek met Saul se seun Jonathan; sy beste vriend. Dawid was gelukkig om so ʼn vriend te hê want in tye van nood is vriende des te waardevoller: ”Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood” (Spr.17:17). Job getuig iets soortgelyks: “Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend ...” (Job 6:14).
Dawid het geweet dat Saul hom sou jaag totdat hy hom gekry het. Of hy goed of sleg doen, Saul wou hom dood hê. So het die dood vir hom op daardie tydstip onafwendbaargelyk. In die teksvers sê hy vir Jonathan: “... daar is maar net een tree tussen my en die dood”.
Hiermee bevestig Dawid ʼn groot waarheidvir alle mense – daar is maar net een tree tussen lewe en dood. Daar is vyf dinge wat ons van die dood moet weet:
(i) Van hierdie tree kan jy doodseker wees. Niemand word gespaar nie. Dis persoonlik. Op een of ander tyd gaan elke mens daardie tree gee. In elke mens se lewe sal ’n nuwe jaar aanbreek waarvan hy die Oujaar nie gaan sien nie.
(ii) Die dood is ʼn persoonlike tree; jy moet dit self neem. Niemand kan dit vir jou neem nie.
(iii) Daarby is die dood ʼn onverwagte tree. Geen dag of datum is vooraf beskikbaar nie. Jy kan nie die tyd van jou dood kies, uitstel vra of dit verskuif nie. Die dood maak geen onderskeid nie. Dit sny koppe af al dra dit krone. Ryk of arm, slim of dom, jonk of oud - die dood maak alles gelyk.
(iv) As jy die tree gegee het, kan jy nie terugtree nie. Luister hoe pleit die ryk man by vader Abraham in Luk.16 dat Lasarus sy broers moet gaan waarsku:
“En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister” (:27-29).
Die lewe is soos ʼn valskermsprong – jy moet dit die eerste keer regkry. Jy kan nie terugkom aarde toe om reg te maak wat jy verbrou het nie. Enige mens kan foute herstel solank as wat hy leef; nie na die dood nie. Daarom gebeur dit dikwels dat iemand wat op sterwe lê, nie tot rus kom omdat daar dinge is wat nie afgehandel is nie; ʼn vete of ʼn verhoudingsprobleem. Daardie persoon weet dat as hy gesterf het, hy nie kan terugkom om verkeerde dinge reg te maak nie.
(v) Die dood is ook ʼn tree waarvoor jy moet voorberei. Die lewe gee jou die kans om jou siel vir die ewigheid voor te berei. As jy vir jou lewe sorg, sorg Jesus na jou dood vir jou! Wie egter nie in die regte verhouding met Jesus verkeer as hulle die dag sterf nie, het alle rede om die dood te vrees!
Om reg te sterf, moet ʼn mens reg leef. Jy kan nie verkeerd leef en verwag om reg te sterf nie. ʼn Paar jaar gelede is die Satanis-sangeres Amy Winehouse aan dwelms oorlede. Sy was 25 jaar oud. Op haar begrafnis het ʼn vriend tydens ʼn huldeblyk gesê: “I hope her troubled soul finds peace”. Dwaas! Hy het geen benul gehad van dit wat na die dood met ʼn mens gebeur nie!
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Gevolglik moet ons nie net leer om reg te leef nie, maar ook om reg te sterf want dis waar ons die ewigheid gaan deurbring – oneindig langer as op aarde.God is regverdig. Daarom gebruik Hy die dood soos ʼn goue sleutel wat vir gelowiges die paleis van die ewigheid oopsluit. Vir ongelowiges is die dood die deur na die ewige verderf met al die pyn en smart:
“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:23,24)
Ons moet vir die dood voorberei. Dit word vertel van ʼn Middeleeuse koning wat soms baie neerslagtig geword het. Sy paleis-raad stel toe ʼn hanswors (court jester) aan om die koning op te vrolik en van sy neerslagtigheid te genees. Die koning het baie lief vir die koddige mannetjie geword.
Op ʼn dag gee die koning vir hom ʼn goue muntstuk met die opdrag om deur die koninkryk te reis en dit vir die persoon wat ʼn groter gek as hy self was, te gee. Die hanswors is daar weg en oral na so ʼn iemand gesoek, maar niemand gevind nie. Toe word die koning tot die dood toe siek en laat die hanswors haal.
“Ek gaan op ʼn baie lang reis waarvandaan ek nie gaan terugkeer nie” sê hy vir die besorgde hanswors. “Is u gereed vir die lang reis?” vra die hanswors. “Nee, ek is nie!” sug die koning. Toe haal die hanswors die goue muntstuk uit sy sak en gee dit vir die koning want hy het ʼn groter gek as hyself gevind!
Om dood te gaan, is geen kuns nie. Selfs die slegste mense kry dit reg. Maar om sinvol en in die regte verhouding met Jesus tot die dag van jou dood te leef, kos geestelike deursettingsvermoë. Daarbenewens is dit ʼn verantwoordelikheid wat ʼn mens vir homself kan neem. As jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem, neemJesus dit met jou dood. Jy is nie weg nie – jy het slegs met Jesus aan jou sy van rigting verander – na ʼn baie beter plek!
Luister na die woorde van Stefanus toe hy Jerusalem tydens ʼn steniging sterf:
“Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Hand.7:55,56).
Jare gelede sê ʼn sterwende gelowige musikant vir sy besorgde vriend: “Hoe nader ek aan my dood kom, hoe helderder word die simfonieë wat my na my hemelwoning uitnooi”.
Daar is werklik net een tree tussen ons en die dood. Die lewe is ʼn eenmalige aanbod. Onthou egter dat die lewe nie ʼn besitting is nie, maar ʼn lening. Ons is slegs die huurders. God is die Eienaar daarvan en kan die huur enige tyd opskort soos die jong Dawid kennelik van bewus was.
Wees elke dag voorbereid!