Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u geweet die Nuwe Testament se oudste manuskripte dateer om en by die einde van die 2de eeu n.C.? Daar bestaan geen oorspronklike Griekse teks nie, maar slegs kopieë van manuskripte. Ons is egter baie gelukkig om manuskripte te hê wat 100-150 jaar ná die oorspronklikes gekopieer is.
MOENIE UITSTEL NIE
Ds Andrè van den Berg
“ ... Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ʼn damp wat vir ʼn kort tydjie verskyn en daarna weer verdwyn” (Jak. 4:14).
Mense is geneig om slegte dinge met mooierklinkende woorde te versag. Sulke woorde word in die taalkunde eufemismes genoem. Mense praat bv. van kinders wat buite die eg verwek is as liefdeskinders.Is kinders wat binne die eg verwek is dan nie eerder liefdeskinders nie? Van iemand wat gesteel het, word gesê dat hy dit of dat gegaps het, of as iemand besope is, dat hy te veel gekuier het. Alles pogings om sonde met ʼn suikerlagie bedek en beter te laat klink!
Gelowiges moet op hul woordgebruik let. ʼn Gevaarlike woord wat dikwels gebruik word, is die woord môre.
Iemand sê: “Ek kan dit nie vandag doen nie, maar sal dit môre doen” terwyl hy dit vandag kan doen, maar nie lus is nie. Iemand skryf onlangs: “Môre is ʼn hersenskim, môre is skone illusie, dit is kaf; ja, môre is soete bedrog, want jy leef nie môre nie, maar vandag”.
Waarom is woord môre gevaarlik? Omdat mense dit graag as ʼn rookskerm vir uitstel gebruik. En dis bitter gevaarlik veral wanneer dit by geloofsake kom want dit kan sondaars die hemel kos. Let op ʼn paar Bybelse voorbeelde van mense wat môre gesê het toe hulle eerder vandag moes gesê het.
Die eerste voorbeeld is Absolom; Dawid se oudste seun. Absolom beteken ironies vader van vrede, iets wat hy allermins was! Hy het juis die vrede in Israel in ʼn burgerlike opstand teen sy eie vader versteur toe hy die swaard opgeneem en die koningskap probeer bekom het!
Absolom het daarin geslaag om sy vader uit Jerusalem tot anderkant die Jordaan te verdryf en Dawid se leër vas te keer. Toe hy die finale slag moes lewer, het Absolom getwyfel oor wat hy moes doen. Een van sy raadgewers, Agitofel, het hom aangeraai om daardie selfde nag met sy 12,000 uitgesoekte manskappe Dawid aan te val en te oorweldig. ʼn Ander raadgewer, Husai, het hom weer aangeraai om die aanval tot die volgende dag uit te stel. Agitofel sê: vandag! Husai sê: môre! En Absolom stel uit.
In die daaropvolgende geveg is Absolom se mag vernietig en het Dawid se manne hom gedood. Daarna is sy lyk in ʼn sloot gegooi en het soldate klippe daarop gegooi. Waar Absolom, indien hy met sy staatsgreep sou slaag, later in ʼn praalgraf in Jerusalem begrawe kon word, het hy dood in ʼn sloot gelê omdat hy gesê het: “Nie vandag nie, maar môre”.
ʼn Tweede voorbeeld kom uit die NT. In Handelinge vertel Lukas van Felix die Romeinse goewerneur van Judea wat Paulus moes verhoor. Die Joodse leiers het Paulus destyds van dwaalleer aangekla wat die godsdiens ondermyn het; veral sy verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood!
Felix en sy Joodse vrou, Drusilla, het waarskynlik iets van die Christelike geloof geweet, maar omdat hulle goddeloos geleef het, hul nooit bekeer nie. Ondanks sy sondige lewe het Felix by geleentheid vir Paulus na hom laat kom om meer van die Christengodsdiens te wete te kom. Paulus het die geleentheid aangegryp om van Jesus en redding uit sonde te getuig en nie doekies omgedraai nie. Soos ʼn kragtige getuie het Paulus reguit oor die lewe van gehoorsaamheid aan God, selfbeheersing, die komende oordeel asook die opstanding uit die dode gepraat.
Hierdie vreeslose getuienis het Felix so bang gemaak, dat hy die gesprek stop gesit en Paulus aangesê om vir eers te gaan. Hy sou, so het hy belowe, as hy weer tyd kry, weer met Paulus praat. Felix se gewete het hom gepla. Hy was skuldig en het God se oordeel gevrees. Hy was by ʼn kruispad.
Toe maak Felix die fout van sy lewe; hy gee nie sy hart vir Jesus nie, maar stel dit eerder uit. Môre is nog ʼn dag! Daardie môre het nooit aangebreek nie. Kort daarna is Felix deur Festus opgevolg en het hy nooit weer die geleentheid gehad om met Paulus te praat nie. Felix is later in sy sonde oorlede waarna sy siel in die ewige verderf beland het waar dit tot vandag toe nog is!
Die laaste voorbeeld van ʼn fatale uitstel kom uit een van Jesus se gelykenisse; dié van die dwase boer in Luk.12. Jesus vertel van ʼn vooruitstrewende boer wie se oes een jaar so groot was, dat sy skure te klein was om alles te stoor. Hy besluit toe om die ou store af te breek en groteres op te rig waarna sou hy ophou boer omdat daar genoeg vir môre en oormôre en die res van sy lewe was.
Terwyl hy met sy beplanning vir die dag van môre besig was, het God soos ʼn verkeerskonstabel voor hom kom staan en sy aardse reis beëindig. Hy is dieselfde nag skielik oorlede. Die mense wat die fondament van die nuwe skuur sou kom grawe het, sou die volgende dag sy graf grawe. Ander mense het die opbrengs van die oes geniet.
Wat leer Jesus ons met dié gelykenis? Dat ons nie ons sieleheil na more moet uitstel nie want ons weet nie of daar ʼn more in ons lewe sal wees nie. Gister is verby en more moet nog kom. Gevolglik het jy net vandag om jou saak met God reg te maak. Daarom is die woord môre in geestelike sin baie gevaarlik!
Kom ons steek die hand in eie boesem en vra onsself eerlik: Waar staan Jesus werklik in my lewe? Binne of buite? Waar wil Hy graag wees: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openb.3:20).
Dieselfde waarheid kry ons ook in die OT. “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE:, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom moet bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11).
Waar staan Jesus op hierdie oomblik in jou lewe? Durf iemand sê: “Jesus staan so halfpad in my lewe. Ek gaan Hom binnekort heeltemal inlaat?”Dit kan ewigheidsgevolge hê!
Jakobus skryf aan mense in die verstrooiing wat harde bene gekou en soms so besig was om te oorleef, dat hulle geestelike dinge wat vandag gedoen moes word uitgestel het. Hy roep hulle tot besinning op: “ ... Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ʼn damp wat vir ʼn kort tydjie verskyn en daarna weer verdwyn”(Jak. 4:14).
Die probleem met uitstel is dat ons nie weet of ons môre nog gaan leef nie. Dit wat jy met jou siel en vir die saak van Christus doen, moet jy vandag doen. Elke dag wat jy uitstel is ʼn dag wat jy nie gaan inhaal nie. En wat nie vandag begin word nie, kan nie more klaargemaak word nie. Daarbenewens kan niemand jou ʼn more waarborg nie!
Jakobus sluit hoofstuk vier met harde woorde af:“Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jak.4:17).
As jy sou weet dat jy oor ʼn uur gaan sterf en jy kyk nou terug op jou lewe - is jy reg om jou Skepper te ontmoet? Uitstel is dikwels die broeiplek van groot mislukking. Hoeveel te meer nie as jy as gevolg daarvan die hemel mis! Die skrywer van die Hebreër brief gee die beste raad: “... Vandag, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie...” (Hebr.3:15).