Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Troos jou daaraan dat die aarde geen droefheid het wat die hemel nie kan genees nie.
IN DIE POEL VAN VUUR
Ds AE vd Berg
“En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15)
Min dinge is so onaangenaam as ʼn nare lewenservaring, veral as jy dood kon gewees het bv. in ʼn motorongeluk, amperse verdrinking, motorkaping ens. Maar wat is die heel slegste ding wat ʼn mens kan oorkom? Om te sterf en jou naam staan nie in die boek van die lewe opgeteken nie!
Jy kan van alle ander nare ondervindings herstel, al vat dit ook jare want jy leef. Jy het tyd aan jou kant. Sonder tyd, is geen herstel moontlik nie. Dan is dit vir ewig te laat. Tyd is ʼn skip wat net eenmaal anker laat sak. Daarom moet ons wat aan boord is, die regte ding doen voordat dit vasmeer.
Dis byna ondenkbaar om te dink dat tyd eendag tot stilstand gaan kom en die aarde ophou bestaan. Maar dit gaan en dis nie baie ver nie. Alhoewel ons nie die datum weet nie, gee Jesus wel tekens as ʼn aanduiding dat die tyd naby is dat tyd gaan ophou. Tydens die hemelvaart sê die engele: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom sien wegvaar het” (Hand.1:11). As Jesus kom, gaan die horlosie van die wêreld vir altyd staan.
Hoe kom Jesus? As ʼn Regter. Met sy eerste koms het Hy as ʼn nederige dienskneg gekom. Met sy tweede koms kom Hy as Regter – ʼn verskriklike gebeure! “En ek het ʼn groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het....” (Openb.20:11).
Wanneer dit gebeur, is alles op die aarde weg. Tyd het nie gaan stilstaan nie, maar het ophou bestaan omdat die ewigheid aangebreek het. Almal wat ooit op die aarde geleef het, staan voor ʼn wit troon en wag soos verhoorafwagtendes op die oordeel van Christus. En dis nie ʼn dominee-maak-die-gemeente-bang storie nie. Dis die werklikheid. Ons gaan dit almal beleef!
By daardie geleentheid neem Jesus sekere boeke ter hand - die boeke van die oordeel. Dan neem Hy ook ʼn ander boek wat ingrypend van die ander klomp verskil, ter hand - die boek van die lewe. Die boeke van die oordeel is die klagstaat en daar is baie. Daarteenoor is die boek van die lewe – enkelvoud.
Wat leer ons daaruit? Dat meer mense in die hel as in die hemel gaan wees! Luister wat sê Jesus hieroor: “Gaan in deur die nou poort want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:13,14). Hierdie lewe is die ewige, geluksalige lewe. Daarom word die boek ook die boek van die lewe genoem. Dit gee op die oordeelsdag aan almal wat wedergebore is toegang tot die hemel.
Hierdie dag kom vir seker: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10). Mense word kragtens hul werke geoordeel: “En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (:12).
In die Gelykenis van die Talente keer die huisheer na ʼn lang tyd terug om rekenskap van sy gawes te eis. So ook God van elkeen wat geleef het. Die lewe ʼn gawe van God waarmee versigtig te werk gegaan moet word.
Die vraag wat die hemelse Regter sal vra, is: “Wat het jy met jou lewe gedoen?” en ons sal eerlik hierop moet antwoord omdat ons voor Een staan wat dwarsdeur ons sien. “Here, U deurgrond en ken my” (Ps.139:1). God word nooit ʼn rat voor die oë gedraai nie!
Die lewe is broos. Miljoene mens het dit al onverwags verloor. Daarom is die uitstel van die redding van die siel die grootste fout wat enige mens kan maak. Baie meer mense sterf sonder Christus as met Hom. In baie van die gevalle goeie mense wat bloot net redding uitgestel het omdat hulle nie besef hoe min tyd hulle werklik oorgehad het nie. God roep betyds tot bekering: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is”(Jes.55:6).
Mense is vandag baie meer veiligheidsbewus as ooit. Polisse, versekering en aftreeskemas is aan die orde van die dag. Voorsorg is beter as nasorg. Desondanks tref mense weinig voorsorg vir die hiernamaals. Waarom nie; dis dan so eenvoudig?Omdat baie mense nie aan ʼn lewe na die dood glo nie.
Jare gelede sterf ʼn omie waarna die tannie lank geen berusting kry nie. Toe ek weer ʼn keer met haar praat en haar verseker dat sy haar man weer sal sien, vra sy vir my of dit regtig so is en nie maar iets wat mense hoop sal gebeur nie? Ja, baie mense twyfel oor die hiernamaals al sê hulle dit nie!
Terug by die groot wit troon. Word almal geoordeel? Ja, maar nie almal word veroordeel nie. Slegs diegene wat sonder die bekering gesterf het. Oor die klagstaat van hulle wat wel tot bekering gekom het, is die bloed van Christus gestort: “...En die bloed van Christus reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7). Jesus se bloed is God se uitveër!
Om te weet dat jou naam in die boek van die lewe opgeteken staan, is ʼn gerusstelling waarsonder niemand sinvol kan leef nie. Dit bring rus vir die siel soos die Hebreërbriefskrywer van praat. Hierdie rustigheid gaan hand aan hand met die vrede wat Jesus vir gelowiges gee: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27). Wie seker is dat sy naam in die boek van die lewe opgeskryf is, leef in vrede.
Jesus sê dat ons vir rus na Hom moet kom. Ongelowiges is onrustige mense; en met goeie rede. As ek weet dat daar ʼn oordeel op my wag, sal ek geen rus vir my siel hê nie want die hel is ʼn verskikking! Hoor hoe praat iemand wat daarin verkeer: “Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water kan steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk.19:24).
Dit was so onnodig vir hierdie jongman. Hy kon dit deur sy bekering afgewend en soos die verlore seun uit sy sonde opgestaan en na sy vader teruggegaan het. Hy kon die U-draai gemaak het .... maar hy het nie!
Jesus het alles gedoen, om mense se name in die boek van die lewe opgeteken te kry; selfs ʼn wrede kruisdood gesterf. Die tekens van die Nagmaal herinner ons aan sy liefde. Met elke Nagmaal sê Hy: “Kyk waardeur is Ek om jou naam uit die boeke van die oordeel uit te vee en in die boek van die lewe in te skryf!”
Geen mens beërwe die hemel omdat hy goed is nie; slegs as sy naam in die boek van die geskryf lewe staan. En dit geskied slegs deur die bekering. Geen ander manier nie. Daarom is die oordeel van die teksvers hard en duidelik: “En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp”Wees wys en bekeer jou terwyl jy een baie belangrike ding aan jou kant het – tyd!