Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense het liefde nodig om te funksioneer – dit is die soort liefde wat God ons geleer het: onvoorwaardelik. Kyk net hoe gedy die persoon vir wie jy onvoorwaardelik liefhet!
DIE KERK VAN SATAN
Bruid in swart
Ds. A.E van den Berg
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8).
Inleiding
Bose dinge kom dikwels in golwe voor, selfs in kerklike kringe. Al hoe meer kerke beskou Satan bloot as ʼn mitologiese figuur en ouderwets om hom as ʼn werklikheid te ag. Die Bybel praat anders oor hom, veral die boek Job wat lesers insig in die karakter en optrede van God se teenstander gee.
Daar is egter ook groepe soos die Tempel van Satan wat hom met aggressiewe ywer aanbid en onlangs ʼn groot standbeeld van Satan in Detroit (VSA) sonder noemenswaardige teenstand opgerig het.
Sataniste is by verskeie heavymetal musici betrokke. In 2016 het Behemot, ʼn Poolse groep, in Suid-Afrika gereis en musiek uit hul album The Satanist gespeel. Gedagtig aan die ontsteltenis wat satanisme ʼn paar jaar gelede in die land veroorsaak het, is dit bedenklik dat so ʼn groep in die land toegelaat is!
Die SA Polisie het destyds ʼn okkulte-ondersoekeenheid op die been gebring en verskeie sataniesverwante rituele moorde suksesvol ondersoek. Dit was die enigste geregtelike eenheid in die wêreld wat vanuit ʼn Christelike standpunt gewerk het. Dis egter in 2006 ontbind nadat die SA Pagan Rights Society daarin geslaag het om dit as diskriminerend te laat beëindig en ʼn oorwinning vir Satan en sy magte.
1. Stigting
Die Kerk van Satan (KVS) is ʼn geregistreerde kerk en op 30 April 1966 deur Anton LaVey in die VSA gestig wat daarna sy leer in sy Sataniese Bybel (1969) verwoord het. Hy was tot en met sy dood in 1970 die leier met New Yorkas hoofkwartier.
Satan is ʼn misleier. So ook sy trawante. Satanisme word as ʼn onskuldige godsdiens voorgehou wat net misverstaan word. Die KVS glo kwansuis nie aan Satan, God of 'n hiernamaals nie en moedig eerder mense aan om lewensbevrediging sonder enige skuldgevoelens te ervaar. Die mens moet homself leer ken ten einde die vreugde van volle selfverwerkliking te ervaar.
Die KVS erken geen ander organisasies as wettige verteenwoordigers van Satanisme nie. Dit wat ná die stigting van die KVS ontstaan het, word nie erken en lede kan daarom nie dubbele lidmaatskap hê nie.
LaVey se omskrywing van Satanisme verskil ingrypend van die werklike siening daarvan wat dit tereg met die skadu-wêreld van bose geeste en Satan verbind. Hy skets Satan nie as die teenstander van God nie, maar as ʼn prototipe van die moderne mens waarmee hul hulself moet vereenselwig.
Ten spyte van hulle eie ervarings met bose magte tydens rituele, glo die KVS nie aan die bestaan van enige godheid nie. Daar word geen grootskaalse werwingswerk gedoen nie. Die enigste werwing is op minderhede toegespits.
Die KVS het ʼn sentrale organisasie wat deur twee hoëpriesters (man en vrou) en ʼn uitvoerende raad van nege lede bestaan. Lidmaatskap kan aktief of passief wees. Aktiewe lede kan by enige van die belangegroepe (grot genoem) aansluit. Die leier van so 'n grot mag slegs namens sy grot en nie namens die KVS praat of optree nie. Hierdie grotte het nie onderlinge bande met mekaar nie en deel slegs in ʼn oorkoepelende leer.
2. Wie is Satan?
Sataniste beskou Satan as ʼn simbool van die menslike natuur en die verkeerde siening van hom as ʼn skepping van die ou Jode en vroeë Christene wat die boosheid in hulle in die vorm van ʼn halfmens-dier voor te stel. Satanisme glo eerstens in die mens self en leer dat die strewe na selfvervulling sentraal staan.Satan is ʼn simbool van opstand teen godsdienstirannie.
La Vey skryf dat die mensdom van meet af met selfaanvaarding sukkel en daarom sy eie gode gemaak het. Hy omskryf Satan in sy Satanic Bible as volg:
- Satan staan bevrediging eerder as onthouding voor.
- Satan staan die werklike lewe i.p.v. geestelike hersenskimme voor.
- Satan staan vir onvervalste wysheid i.p.v. huigelagtige selfmisleiding.
- Satan staan goedheid na verdienste voor i.p.v. om liefde op ondankbares te vermors.
- Satan staan vergelding i.p.v. die ander wang te draai, voor.
- Satan staan verantwoordelikheid vir verantwoordelike mense i.p.v. besorgdheid oor “psigiese bloedsuiers” voor.
- Satan sien die mens bloot as net nog ʼn dier.
- Satan verteenwoordig alle sg. sondes wat fisiese, psigiese en emosionele genoegdoening inhou.
- Satan is die kerk se beste vriend want hy hou hulle in bedryf!
3. Lede
Sataniste is oral in gemeenskappe te vinde, selfs in geleerde kringe. Hulle bly liefs anoniem uit vrees vir moontlike vervolging. Die KVS het twee groepe lede – geregistreerdes en aktiewe. Eersgenoemdes is mense wat sonder voorvereistes as lede toegelaat is. Aktiewe lede moet werklik aktief betrokke wees.
Die KVS het ʼn vyf grade hiërargiese sisteem wat by die gewone lid begin waarna towenaar/heks, priester/priesteres, meester/meesteres en laastens magus/maga volg. Aansoekers moet mondig wees alvorens hulle toegelaat word. Kinders van lede ontvang wel beperkte lidmaatskap net totdat hulle mondig is en daarna volwaardige lede kan word.
Voordat 'n aktiewe lid aanvaar word, moet hy eers 'n lys vrae bevredigend beantwoord. Niemand kan aansoek om bevordering tot hoër grade doen nie. Bevordering geskied slegs op uitnodiging. Lede van die derde en vierde graad vorm die priesterskap en as reverend aangespreek en dié van die vyfde graad as doctor.
4. Literatuur en kenteken
Die seël van Baphomet is die KVS se amptelike seël. Boeke sluit die volgende in: The Satanic Bible, The Satanic Rituals, The Satanic Witch, The Devil's Notebook, Satan Speaks!, The Black Flame, The Church of Satan, The Secret Life of a Satanist en The Satanic Scriptures.
5. Strewe
Die KVS onderskryf geen politieke filosofie, party of kandidate se standpunte nie. Dit staan lede vry om enige politieke filosofie te onderskryf en aan die politieke lewe deel te hê. Die plaaslike KVS het alreeds bykans 2000 lede met ʼn algemene hoofkantoor in Century City (Kaapstad) en hoofkwartiere in Pretoria en Port Elizabeth. Durban en Bloemfontein is glo volgende op die lys.
Slot
Wie jou in die onskuld van die KVS kan laat glo, kan jou daaraan laat meedoen. Alle duiwels het nie gesplete hoewe nie en elkeen wie se leuens die waarheid verdryf, vervloek:
“Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mense moordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh.8:44).
Sataniste mislei mense met leuens wat in mooi taal geklee en vir nuwe insig aangebied word. Dis immers hoe Satan vir Eva in die tuin van Eden mislei het. As die KVS voorgee om Satan nie te aanbid nie, lieg hulle. Wie nie vir Jesus is nie, is teen Hom!
“En geen wonder nie! Want Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Kor.11:14).
Ongelukkig skuil boosheid agter die masker van mense se onkunde. Al wat dit nodig het om te floreer, is goeie mense wat geen teenstand bied nie. Wie ʼn boosheid nie teengaan nie, moedig dit stilswyend aan.
Die Bybel leer dat ware kerk die bruid van Christus is. Sy is onbesoedel en in wit geklee. Die KVS is die teenpool en die bruid van Satan. Sy is swart geklee en het baie strooimeisies – valse kerke!