Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel – Psalm 31:24
ARMOEDE, GEWELD EN PLUNDERY
Ds. A.E van den Berg
“Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).
Satan dans gereeld in leë broeksakke rond en maak graag van armoede die broeikamer van misdaad. Armoede is hoofsaaklik aan oorbevolking te wyte waaruit ʼn gepeupel met ʼn hartstog vir mag en geweld ontstaan. Afrika is ʼn sprekende voorbeeld hiervan waar miljoene mense nie deur hul verstand nie maar deur hul gevoelens gelei word om van die reëls van ʼn ordelike gemeenskap ontslae te raak.
Dis vir booswigte met politieke strewes baie gerieflik dat massas nie vir hulself dink nie. Gevolglik doen hulle hul as “beskermers van veronregtes” voor wat ʼn toestand van verwarring en wilde gedrag skep en mense nie met wette en reëls beheer kan word nie.
Geweld is ʼn gewilde toevlugsoord vir onbevoegdes en maak dat misdaad selfs beter as die wet georganiseer is. ʼn Staat wat deur geweld tot stand gekom het, kan uiteraard slegs daarmee in stand gehou word! Geweld is deel van die politieke mondering en politici se beloftes van voorspoed, rus en vrede net so onbetroubaar soos ʼn waarsegster met ʼn vuil kristalbal.
Nuwe misdaadstatistiek toon dat Suid-Afrika van die hoogste geweldsvlakke ter wêreld het en nie veel van ʼn oorlogsgebied verskil nie. Meer as 40 nuwe misdade is bv. sedert 1994 aangeteken, booshede wat tydens die vorige bedeling onbekend was. Weersinswekkende straattonele speel hul gereeld in eens rustige woonbuurte af, nie eens van plaaswerwe te praat nie!
Wetsgehoorsames het die slagoffers van mense met barbaarse neigings geword. Desondanks word hierdie staatkundige bedeling as demokrasie opgehemel. Dis eerder ʼn skrikbewind en guerrilla-oorlogvoering teen wetsgehoorsames waar niemand meer van ʼn veilige aankoms of tuiskoms verseker is nie.
Die huidige politieke klimaat maak dit vir boosdoeners maklik om misdaad te pleeg, selfs vir diegene wat veronderstel is om dit te bekamp. Korrupte geregsdienaars word toenemend vir misdaadaangekeer, selfs in die hoogste gestoeltes. Dit laat wetsgehoorsames wonder wie hulle dan beskerm?
Korrupsie is een van die grootste vyande van ʼn regering. Politici wat belastingbetalers se geld as hul persoonlike kitsbank gebruikis gereeld in die nuus. Hulle wedywer met mekaar in die afwaartse spiraal van ellende en hang soos vlermuise onderstebo en geniet die onderstebo wêreld aan die suidpunt van Afrika!
Daar kan nooit van bokke tuiniers gemaak word of honde met wors vasgebind word nie. Staatsinstellings sal geplunder word. Politici en hul kaders het geen kuns so gou aangeleer as om die staatskas te plunder nie. Geen pen kan ooit die skade daarvan aan ons land beskryf nie - booswigte wat in weelde leef terwyl eerbare burgers in armoede versink!
Misdaad is peperduur. Versekeringspremies word gedurig weens diefstal en knoeiery verhoog. Winkels moet ook gereeld hul pryse verhoog om vir diefstal uit hul rakke te begroot en veiligheidspersoneel gehuur word om mense in winkelsentrums teen kitsrowers te beskerm.
Dis bitter hartseer om die son oor ons eens vooruitstrewende land te sien ondergaan. En dit deur eie toedoen! Iets moet hieraan gedoen word. Mooipraat help nie. Korrupte politici sal net so min verander as om ʼn stuk steenkool met seep te probeer wit was. Uit verrotte hout kan niks goed gekerf word nie
Suid-Afrika het ʼn ingrypende staatkundige hervorming nodig met nuwe leiers wie se harte in die bloed van Jesus Christus gewas is. Die einde van hierdie korrupte regering sal ongekende vreugde, vrede en voorspoed verseker. Net God kan ons help!
”... Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugte Here en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14).