Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat verstaan die Bybel onder reg? Waarom wil God dit hê? Sodat mense in gehoorsaamheid aan God se Woord rustig kan saam leef. Gevolglik verskil dit wat vandag met menseregte bedoel word, ingrypend van die Bybel se idee van regte. Vandag word die skepsel bo die Skepper gedien (Rom.1:25)!
ROOMSE PRIESTERSKAP
‘n Uitgediende amp
Ds A.E. van den Berg
As die hoof korrup is, is die res van die liggaam ook korrup soos in die Roomse Kerk (RK) die geval is. Roomse kerklui vertolk almal ’n heidense rol vanaf die pous tot by die priesters en skiet ver tekort by die Bybelse voorskrifte vir kerklike ampsdraers (1Tim.3:1-7).
Evangeliedienaars voed God se skape deur sy Woord (Mt.4:4). Nie Roomse priesters nie. Hulle bedien ‘n uitgediende amp waarvan die geestelike voedsel geen kilojules bevat nie. In die OT het priesters vir sondaars by God ingetree en deur offerande versoening vir sondes verkry. Hierdie priesters was egter ‘n voorafskaduwing van Christus, die volmaakte Hoëpriester, wat die priesteramp met sy kruisiging afgesluit het. Daarna het sondaars God direk en sonder tussenganger genader.
Die OT priesterskap is met ‘n nuwe amp vervang. Elke gelowige is ‘n priester met Christus as Hoëpriester:
“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom …” (I Petr. 2:9).
“ … Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader …” (Openb. 1:5-6).
Sondaars word alleenlik op grond van Christus se soenverdienste met God versoen. Gevolglik is die offer aan die kruis genoegsaam. Toe Hy in pyn uitroep: “Dit is volbring” (Joh. 19:30) en sterf, het Hy die volmaakte offer gebring wat op geen manier herhaal, aangevul of vernuwe kan word nie.
Gevolglik maak die NT nêrens van ‘n voortsetting van die OT-priesterskap of offerandes melding nie.
“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk …” (Ef.4:11,12).
Geen woord word oor priesters gerep nie. Die brief aan die Hebreërs handel onder andere juis oor die wegdoen van die priesterskap.
Die RK verstaan nie God se pad van versoening nie. Dit leer dat God steeds deur priesters genader moet word. Daarenteen glo gelowiges dat sondaars slegs op grond van Christus se versoeningsdood vrye toegang tot God het. Om priesters tussen God en die mens in te druk, maak die pad na die hemel bewustelik toe en ‘n ergerlike dwaallleer!
“Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Jesus Christus” (I Tim. 2:5).
Toe Christus aan die kruis op Gólgota gesterf het, het die gordyn in die tempel middeldeur geskeur (Luk.23:45). Daarmee het God duidelik te kenne gegee dat Christus ‘n direkte verbindingslyn tussen God en mens geskep het. Met haar voortsetting van ‘n uitgediende amp, werk die RK die geskeurde gordyn as’t ware weer aanmekaar!
Die vroeë Christendom het geen priesteramp geken nie. Nêrens in die NT word dié woord vir ‘n kerklike voorganger gebruik nie. Petrus stel hom as volg voor:
“Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is …” (I Petr. 5:1).
Paulus het nie priesters nie, maar ouderlinge in gemeentes aangestel. Titels soos aartsbiskop, kardinaal of pous kom nêrens in die Bybel voor nie. Daarbenewens stem geen funksie van die NT leraars met dié van Roomse priesters ooreen nie.
Christus het wonderlike voorregte vir sy kerk bestem. Met die voortsetting van die priesteramp gooi Rome dit as’t ware terug in sy gesig. Terwyl die Bybel leer dat gelowiges voor God gelyk is, stel Rome geestelike diktators aan.
“Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie” (I Kor.7:23).
Die Christendom is wesenlik demokraties en die RK verstikkend outokraties. Die vroeë kerk het uit ‘n groep georganiseerde, gedoopte gelowiges bestaan wat die NT voorskrifte stiptelik nagevolg het. Toe die gemeente in Jerusalem meer organisasie benodig het, is dit op demokratiese wyse gedoen. Almal het saam besluit:
“En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: … Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel” (Hand. 6:2,3).
Die RK leer dat ‘n priester ‘n man van God is. Elkeen wat hom verag, verag God. Elkeen wat na hom luister, luister na God. Daarbenewens kan hy net so goed as God sondes vergewe. Gevolglik leer die RK mense om die gesag van die priester oor die hele spektrum van hul morele, sosiale en politieke lewe onvoorwaardelik te aanvaar. Dit gee aan hulle ‘n vrye hand om enige inhoud aan godsdiens te gee. Daarom glo mense enigiets wat die kerk sê; selfs dat brood en wyn tydens die misoffer werklik liggaam en bloed van Christus word!
Die RK dring op gerelede bieg aan. Dis die gedwonge onthulling van sondes aan ‘n priester ten einde vergifnis te verkry en maak dat hulle alles van almal weet. Inligting is uiteraard mag. Skuldbelastes word in ’n bieghokkie ondervra en moet ‘n volledige belydenis doen. Om iets weg te laat, maak die bieg glo waardeloos.
Die NT leer dat gelowiges hul sonde op grond van Christus se soenverdienste sonder ‘n tussenganger aan God bekend maak. Daarom maak dit geen melding van die bieg nie. Die vroeë kerk het dit ook nooit beoefen nie. Dis eerder ‘n bedenklike gebruik waardeur priesters mense se siel en verstand as’t ware op ‘n altaar offer en verdien heilge weersin!
@