Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is so geneig om kwaad te word en op te hou goed aan ander doen wanneer dit lyk asof hulle dit nie waardeer nie. Petrus sê egter ons is geroep om goeie dade te doen en die lyding te verdra wat daarmee saamgaan omdat Christus hierin vir ons 'n voorbeeld was, en ons in sy voetspore moet volg.
NG KERK: SATAN BESTAAN NOU NIE MEER
Om te doleer of nie?
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Die Algemene Sinode gee aan die NG Kerk leiding oor leer en lewe en verklaar dat alle besluite aan die hand van die Bybel geneem word. Dis egter nie so nie. Al hoe meer besluite word sonder Bybelse begronding en eerder volgens die wil van die mens geneem. Die NG Kerk probeer so tegemoetkomend te wees dat sy soos ’n omvattende polis alles wil dek en die nodige ruimte vir uiteenlopende Skrifbeskouings skep om nie lidmate te verloor nie.
Een van die onlangse besluite het oor die bestaan van die satan gegaan. Die NG Kerk het na ernstige besprekings besluit om op twee stoele te sit en ruimte vir lidmate wat in die bestaan van die satan glo asook nie glo nie, te gee.
Een van die ergelikste besluite is in 2019 geneem toe die NG Kerk ten spyte van ʼn baie duidelike Bybelse standpunt selfdegeslagverhoudings goedgekeur het. Dit het twee botsende standpunte in die kerk laat ontstaan wat die saak van Christus nie tot eer strek nie, maar bewustelik benadeel.
Enersyds bely die NG Kerk dat ʼn huwelik die verbintenis tussen een man en een vrou is. Andersyds sê sy dat daar ook ruimte vir selfdegeslagsverbintenisse moet wees en laat leraars toe om sulke verbintenisse met die seën van die Here te voltrek. Daar word selfs aan ʼn formulier vir die voltrekking van sulke onheilige verbintenisse gewerk!
1. Vyf grondbeginsels
Die NG Kerk is ontrou aan haar Gereformeerde leer wat uit die Hervorming spruit. Hierdie leer berus op vyf grondbeginsels t.w.
- Sola Scriptura. Die Skrif is die hoogste norm vir leer en lewe.
- Sola gratia. Die verlossing uit sonde is aan genade en sonder enige menslike verdienste te danke.
- Sola fide. Die mens word slegs deur die geloof in Jesus alleen gered.
- Sola Christus. Christus is die enigste Hoof van sy kerk.
- Soli Deo Gloria. ’n Omvattende Calvinistiese lewens-en-wêreldbeskouing waardeur God alleen in kerk en staat, gesin en skool, kerklike ampte en daaglikse beroepe geëer word.
2. Om te doleer
Die NG Kerk leer vanaf hoogaangeskrewe kateders en kansels dat die Bybel anders as voorheen verstaan moet word. Hiervoor is moderne politieke sienings en sosiale agtergronde bepalend en geld wat jare lankgegeld het, nie noodwendig meer vandag nie.Dit het stormagtige debatte in meerdere vergaderings ontketen wat tot hewige onderlinge verskille oor grondliggende geloofsake gelei het.
Dis egter nie die eerste keer dat ʼn kerk van Gereformeerde belydenis van die Skrif afdwaal nie. Die Protestantse Hervorming is juis uit die roeping om die kerk na die Bybel te laat terugkeer, gebore waarna al afgedwaal is soos in Nederland gebeur het. Dit het in 1886 ʼn beweging in die kerk onder leiding van Abraham Kuyper laat ontstaan wat oor die toestand in die kerkgetreur het; die doleansie. Gemeentes wat destyds gedoleer het, het bymekaar aangesluit en die kerk suksesvol na die beginsel van Woord alleen teruggeroep.
Die NG Kerk leer skynbaar nie uit die geskiedenis nie. Daar is tot op hede na beraming al 77 dolerende gemeentes. Die doel van dolering is nie om van die kerk af weg te breek nie, maar om te treur totdat sy na die suiwere Woord van God terugkeer.
3. Dwaalleer
Dolerende NG gemeentes is ʼn staat van rou oor die kerk se dwaalleer soos bv. die aanvaarding van die evolusieleer dat God nie die Skepper van alles is nie. So ook oor lidmate se keuse oor die aanvaarding van die bestaan van Satan of nie. Lidmate hoef ook nie aan Jesus se maagdelike geboorte of sy opstanding uit die dood te glo nie. Daarbenewens is Jesus ook nie die enigste weg tot die hemel nie. Elke mens kan deur sy eie gode te dien, gered word.
Die ergste is dat Bybel deur talle NG teoloë en leraars nie meer as die onfeilbare, Gees geïnspireerde, duidelike en genoegsame Woord van God beskou word nie, maar slegs as ʼn woord oor God. Kateders en kansels word as ʼn platvorm gebruik om hierdie dwaalleer as nuwe teologiese insig aan te bied.
Ontspoorde kerklui verkondig dat die Bybel in ʼn ander tyd geskryf is en dat die skrywers daarvan gevolglik oor geen kennis van moderne sake beskik het nie. Dus is die Bybel volgens hulle nie op die moderne lewe van toepassing nie en kan mense nie met sedelike gedrag help nie.
Gelowiges glo dat die Bybel vir sondaars geskryf is om hul lewens na God se wil en nie na eie sin te verander nie. Die waarheid het uiteraard niks met die aantal mense wat dit glo te doen nie en sal altyd die waarheid bly al glo niemand dit meer nie. Die son skyn nie flouer omdat blindes dit nie kan sien nie. So ook nie die lig van die Evangelie net omdat geestelike blindes dit nie sien nie.
Alle ontsporing en gevolglike dwaalleer begin by die verwatering van Skrifwaarhede waarna die kerklike lewe op los skroewe te staan kom soos tans in die NG Kerk gebeur. ’n Kerk wat Skrifbeginsels versaak, begin by een waarna nog ander volg totdat daar niks meer oorbly as die begeerte om nog te verander nie.
Die NG Kerk se ontkenning dat die huwelik slegs tussen een man en een vrou voltrek mag word, maar ook tussen mense van dieselfde geslag, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Daarbenewens glo sy dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal en verander. Kerkrade kan self besluit of hulle so ʼn persoon as lidmaat gaan toelaat.
4. Waarheen nou?
Wat gaan van die NG Kerk word? Sy het alreeds van die Bybel as haar morele kompas ontslae geraak en sodoende Jesus, die Ware Woord, uit die oog verloor. Strenggesproke bly daar vir haar niks anders as ʼn valse vertoon oor nie. Geen kerk durf ʼn vraagteken plaas waar God ʼn punt gesit het sonder om die gesag van die Bybel in gedrang te bring nie. Korrupte Skrifgesag is die kanker wat aan die siel van die NG kerk vreet en haar gaan verteer as sy haar nie bekeer nie!
Ongelukkig is die NG Kerk horende doof vir die luide protes uit verskillende oorde oor haar onbybelse besluite. Tydens die Algemene Sinode se sitting in 2019 is meer as 600 bladsye opgehoopte pleitskrifte en gravamina oor haar dwaalleer van die tafel gevee.
Slot
Om twee onversoenbare beleidsrigtings te bely, is ten diepste ’n de facto-skeuring wat gerieflikheidshalwe nie raakgesien word nie. Daarbenewens lig leraars ook nie hul gemeentes oor die opsporing in nie, maar swyg daaroor net om nie hul salaris en pensioen te verloor nie. Leraars wat nie na God se Woord luister nie het niks om vir mense te sê nie!
Weens die aansienlike uittog van lidmate preek hulle wat mense wil hoor:
“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).
Die NG Kerk se skynvertoon as ʼn byderwetse nie-statiese kerk wat verskillende standpunte en menings kan huisves, het klaaglik misluk. Dit laat ʼn mens aan die mislukking van die reënboognasie op politieke terrein dink.
Gevolglik moet lidmate baie ernstig besin en by ʼn duidelike keuse volstaan. Hulle kan nie langer saam met die hase hardloop en saam met die jagters jag nie. Daar is een van twee keuses – bly of ry. Dit help nie om op ʼn verkeerde trein te wees en dan in die gangetjie in die teenoorgestelde rigting te wil hardloop om jou bestemming te bereik nie. Jy sal moet afklim en die regte trein haal!