Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oumense moet ophou om hulle te verknies oor hul uurglas wat uitloop; wees liewer tot nut vir God en jou geliefdes. Jy mors kosbare tyd!
DIE TWEEDE BABILONIESE BALLINGSKAP
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Tydens die Babiloniese ballingskap (597vC) is duisende mense van Juda na Babilonin gevangenskapweggevoer. Dit was God se straf op Juda se volhardende sonde en minagting van die profete se herhaaldelike waarskuwings om hul van hul verkeerde weë tot God te bekeer.
In die OT was Babilon ʼn geografies aanduibare stad. In die NT is dit nie geografies nie maar die simbool van ʼn bose geestesryk. Babilon kom in die OT met die bou van ʼn toring ter sprake. Die Babiloniërs wou die hemel bestorm om vir hulle ʼn naam te maak (Gen.11). Daarna tree Babilon eers weer met die verwoesting van Jerusalem en die wegvoering van die inwoners in ballingskap in die prentjie.
Die Babiloniërs was hooghartig en het geglo dat hulle ryk vir ewig sou bestaan. God het hulle egter tot ʼn val gebring soos wat Hy deur Jesaja in hoofstuk 47 belowe het. Die geskiedenis vertel dat hierdie ryk baie vinnig geval en van die inwoners slawe van die Persiese veroweraars geword het.
1. Herverskyning
Ongeveer 600 jaar later het Babilon weer op die toneel verskyn; hierdie keer as ʼn geestelike mag in opstand teen God en aan die anderkant van die destyds bekende wêreld.
Petrus skryf:
“Die mede-uitverkorene in Babilon en Markus, my seun, groet julle” (1 Pet.5:13).
Petrus was nie naby Babilon toe hy hierdie woorde geskryf het nie. Hy was in Rome, die simboliese Babilon. Hierdie Babilon is ʼn nuwe wêreldgees wat met God se waarheid en gelowiges oorlog voer en word as ʼn hoer voorgestel:
“En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (Openb.17:3-6).
Soos wat die geografiese Babilon in opstand teen God was, is die simboliese een ook in opstand. Sy verkry weer wêreldmag en word weer op God se tyd vernietig. Voordat dit gebeur, gebruik Satan haar om kerke binne te sypel en met ʼn afgodiese kultuur te mislei.
2. Ekumene
Die eerste Babilonies ballingskap was geskiedkundig. Die laaste een is geestelik – ʼn wegvoering deur onderworpenheid aan die valse profeet wat die weg vir die koms van die Antichris voorberei. Kerke trap toenemend in die strik van ʼn internasionale strewe na strukturele kerkeenheid wat ekumene genoem word. Ekumene is ʼn wurgketting wat in Rome gesmee is waarmee Protestante, die draers van die ware evangelie, verwurg word.
Die toenemende skakeling tussen Protestantse kerke en die Roomse Kerk (RK) is dus uiters verontrustend. Gemeenskaplike dinge word saamgegooi terwyl kerngeloofwaarhede ter wille van samewerking en aanvaarding opsy gesit word. Dit plaas kerke in die greep van sinkretisme – ʼn vermenging van die waarheid met die leuen.
Ekumene streef nie godsdienstige ideale na nie. Dit gaan alles oor politieke en maatskaplike doelwitte. Godsdiens is slegs ʼn werktuig op dit te laat slaag. Daarom is ekumene niks anders as ʼn herlewing van die ou Babiloniese heersersmodel nie – heers deur mense in die hok van gesamentlikheid in te jaag.
So ʼn kunsmatige eenheid voer mense weg van die land van die waarheid na die land van die leuen en ʼn lugspieëling in die woestyn sonder lewenswater. Ekumene snoer nie kerke tot eer van Christus saam nie. Dis ʼn werktuig in die hand van die valse profeet om die ryk van die Antichris te laat kom!
Die apostel Johannes sien iets van hierdie eindtydregering:
“En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, en sy pote soos dié van ’n beer, en sy bek soos die bek van ’n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Openb.13:1,2).
3. Die nuwe Inkwisisie
Die dier ontvang sy mag van Satan, laster teen God en tree soos ʼn wilde dier op. Dis ʼn ongeëwenaarde magsbestel met ʼn sterk militêre ondersteuning:
“En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer” (Openb.13:4).
Daarna volg ʼn ontstellende waarskuwing:
“Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openb.13:7).
Wie die een-wêreldgodsdiens teenstaan, sal doodgemaak word; ʼn herhaling van die Middeleeuse Roomse kerkvervolging (Inkwisisie).
Die dier met die staatkundige mag word deur ʼn godsdiensvennoot ondersteun:
“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is” (Openb.13:11,12).
Hierdie vennoot is ʼn spieëlbeeld van die eerste dier met ʼn opdrag van Satan om almal in ʼn globale kerklike staat-ryk in te dwing. Johannes noem hierdie kerk die valse profeet wat mense met wondertekens betower en aan boord kry:
“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openb.13:13,14).
Die geskiedenis word herhaal as ʼn kerklike vervolging die mensdom tref. Om die eenwêreld-godsdiens te laat verwerklik, moet alle mense eenders dink. En dis hier waar ekumene inkom. Miljoene mense word met drome van samewerking, eenheid en wêreldvrede mislei.
4. Klemverskuiwings
Kerke se klemverskuiwing na sigbare eenheid, getuig van ʼn groeiende onderhorigheid aan die ekumene. Die kerkeenheid waarna gestreef word, is nie duidelik omskryf nie. Dit sluit verhoudings in wat vreemd aan die Skrif en derhalwe ware evangelisasie is. Die “ontsondiging” van homoseksualisme is een van die duidelikste toegewings.
Wolfgang Borowski van die Evangelisch-Lutherische Kirche in Duitsland noem ekumene die voorportaal van die hel. Tragies genoeg sien ontspoorde kerklui dit nie as ʼn wurgketting nie maar as ʼn sierlike halsband van liefde en heilige strewe na sigbare kerkeenheid. En dit terwyl die Bybel nêrens van ʼn sigbare geestelike eenheid voor die wederkoms van Jesus melding maak nie.
Ekumene poog van meet af aan om ʼn breë broederskap op die dunste moontlike geloofsbelydenis te verkry. Daardeur word ʼn kweekhuis vir ongeloof gekweek wat lidmate in ʼn stroom van roekelose godsdiens laat beland. Kerke se gebrek aan profetiese visie laat die teologiese en morele inbors van talle Protestantse kerke in skerwe.
Sulke onverskilligheid laat Protestantse kerke op die drumpel van ʼn algehele ineenstorting van die evangeliese Christendom beland. Al hoe meer kerke draai hul rug op hul geestelike erfenis en beoefen ʼn patroon van nuwe kerk-wees wat God nie tot eer strek nie. Dis oppervlakkig, misleidend en veroorsaak dat Protestantisme tans die laagste punt van leersuiwerheid na die Hervorming bereik het.
Die skadelike invloed van ekumene word duidelik in die NG Kerk se inkleding van haar eredienste gesien – haar Roomsgeorkestreerde Bybelvertaling, bediening van kindernagmaal, die gebruik van die Roomse wafeltjie (hostie) tydens nagmaal en die brand van kerse by spesiale geleenthede verraai haar gedienstigheid aan magte groter as syself!
Slot
Naas die sondeval is die ideologiese samesmelting van Protestantse kerke met Rome die grootste ramp wat die mensdom ooit getref het. Hierdie kerke gaan nie uit die droom van ekumeniese samewerking ontwaak nie maar hul eerder al hoe meer laat toespin en na die vreemde wegvoer. Die droom gaan net voor die wederkoms van Christus in ʼn nagmerrie verander.
Mense staan op die vooraand van die verskyning van die een wêreldkerk soos gras op ʼn grasperk en sing ekumeniese liedere terwyl die Antichris soos ʼn reuse grassnyer in aantog is!