Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons. Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree. As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.
HOU VAS WAT JY HET
Ds. A.E. van den Berg
“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom” (Openb.2:25)
Vyf eeue voor Jesus se geboorte het die Perse die Babiloniërs verslaan om die nuwe wêreldheersers te word. Van die Babiloniese priesters het na Pergamus gevlug en hul afgodery daar voortgesit. Soos wat Jerusalem God se setel op die aarde was, het Pergamus ʼn provinsie van die Romeinse ryk, dié van Satan geword. Die priesters het ongekende mag oor hul onderdane verkry en van Pergamus ʼn satans-hool gemaak. Die stank van afgodsoffers was in elke afgodstempel en selfs op straat. Satan het daar geheers!
“Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is...” (Openb.2:13).
Toe die Romeinse ryk begin kwyn en hul reënboognasie-onderdane opstandig raak, het die keiser die priesters in Pergamus besoek om by hulle uit te vind hoe om mense te beheer. Hulle het iets reggekry wat die keiser nie kon regkry nie.
Die keiser het geglo dat dit wat in godsdiens werk, ook in die politiek kon werk. Politiek kan met godsdiens beheer word. En dis hoe die Roomse Kerk ontstaan het; ʼn karikatuur van die ware kerk wat vir eeue mense beheer.
Thiatire was naby Pergamus en het ook in die spervuur van Satan beland. Dit was ’n sterk gemeente wat ongelukkig meer op getalle as op gehalte ingestel was. Desondanks begin God met ’n aanprysing:
“Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof….” (:19).
Hy kla hulle egter aan dat hulle dwaalleer geduld het:
“Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei…” (:20).
Hierdie Isebel was nie ’n werklike vrou nie, maar die simbool van die bose invloed wat dwaalleer op die gemeente gehad het. Dit herinner aan die bose Isebel wat koning Agab die Baal-godsdiens in Israel laat wettig en ’n tempel vir Baal in Jerusalem laat oprig en priesters uit die staatskas besoldig het.
Agab se huwelik met hierdie heiden was doodsake vir Israel. Die Hollanders sê: “Twee geloven op een kussing, daar slaap de duiwel tussen!” En hoe was Satan nie tuis op die koning se bed nie! Baie Israeliete was gegrief maar te bang om te praat. Isebel kon hulle laat doodmaak het – godsdienstirannie!
Isebel het geweet dat Israel se godsdiens nie sonder meer met afgode bestorm kon word nie. Sy het ’n ander taktiek gebruik om hul geesteswaardes af te takelen die kerk met heidense elemente begin besoedel. En dit het gewerk!
Dit wat in oud-Israel gebeur het, het ook in Thiatire kop uitgesteek; die kerk is met heidendom besoedel. Mense het met die dieptes van Satan” (:24) kennis gemaak. Satan gebruik dwaalleer om met God se waarheid te spot.
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (Gal.6:7).
Dwaalleer het in Thiatire vastrapplek gevind toe die eertydse kerklui die kerk vir heidene meer aanvaarbaar wou maak. Kerk en wêreld moes mekaar op eie terrein ontmoet om mekaar beter te verstaan. En so het die gemeente uit haar nate gebars en die kerk byderwets en baie gewild geword het.
Hierdie blink muntstuk het egter ʼn dowwe keersy gehad. Toe die heining opgelig is, het klein jakkalse binnegestroom, die wingerd verniel en God se heilige akker onteer. Thiatire was nie soos haar beginselvaste buurgemeente Smirna nie wat nie van haar beproefde geestelike waardes afgewyk het nie.
Christus praat baie hard met die gemeente en noem gemeenskap tussen kerk en wêreld hoerery:
“En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer en sy het haar nie bekeer nie” (:21).
Die kerk is die bruid van Christus en moet haar derhalwe van alle onheilige gemeenskap onthou!
Thiatire het as kerk misluk. Die kerk het toe nie die wêreld verbeter nie, maar het die wêreld toegelaat om haar te besoedel. Die kerk is geroep om vir Jesus afgesonder te wees. Sodra sy haar beginsels vir nouer samewerking met die wêreld laat vaar, beland sy in die spoelsloot van die lewe. Dan voer die godsvyandige wêreld haar net waarheen dit wil. Dit wat destyds in Thiatire gebeur het, het ook in Suid-Afrika gebeur – die wêreld het die kerk inbeweeg!
Christus laat vaar egter nie die werk van sy hande nie. As dit lyk asof die kerk tot niet gaan, voorsien Hy gelowiges wat vasstaan:
“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”.
Waaraan moes hulle vashou? Aan die waarheid. Dis per slot van sake waaroor alles gaan. Gelowiges is in ’n gedurige stryd met die leuen gewikkel. Baie mense weet wat die waarheid is, maar is nie lief daarvoor nie; die leuen is baie gewilder!
Wie die waarheid praat, is nie gewild nie en kry sterk teenstand. In tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid ʼn rewolusionêre daad:
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:10-13).
Om die waarheid te praat, kan lewensgevaarlik wees. Nogtans mag dit nooit nagelaat word nie. Vir gelowiges durf die stryd om die waarheid nooit te veel word nie. Niks onderskei gelowiges soos ’n liefde vir die waarheid nie.
Gelowiges het die opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Geen kerk mag haar in ’n tipe van kloosterlewe van die wêreld onttrek nie. Sy moet egter voortdurend waak dat die wêreld nie ʼn vastrapplek in haar verkry nie. Die kerk van Christus beteken die meeste vir die wêreld as dit die minste daarna lyk. Ongelukkig het kerke die wêreld omhels i.p.v. die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Daarom woed afvalligheid orkaansterkte in kerke.
Dis hartseer om te sien hoe oppervlakkig die kerklike lewe in ons land geword het. Die kerklike wêreld het van al die oppervlakkige vermaak hol van binne geword. Kerke wat ʼn denkwyse in pas met die wêreldmening huldig, bars uit hul nate. En dit alles oor leuens wat verkondig en deur duisende volksgenote geglo word!
Gelowiges sal baie sterker vir die waarheid moet stry en die Bybel beter moet leer ken. As ons nie by mekaar gaan staan en die waarheid verdedig nie, kan God ons lig afskakel. Hy sê vir Efese:
“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb.2:5).
Baie kerke sit vandag sonder krag. Hulle ligte werk nie meer nie. Ek praat nie van beurtkrag nie maar van teologiese onverskilligheid; hulle het die hoofskakelaar self afgesit want dis lekkerder in die donker!
Ons kerk se leuse is: LIG IN DUISTERNIS. Hierdie lig kan net brand as ons die duistermis uit ons kerk hou. En dis net moontlik as ons liefde vir God en die waarheid nommer een is en bly totdat Jesus weer kom. Jesus se raad aan Thiatire is ook vir ons: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”.