Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Enigiemand wat meer oor die lewe te wete wil kom kan maar net die Bybel bestudeer; dit is 'n Boek oor die lewe: oor konings, boere, huisvroue, siekes, soldate, diensknegte, elke mens is in die Bybel; ook jou en my lewe word direk daarin weerspieël. Maar as jy nooit jou Bybel bestudeer nie kan jy nie verwag om lewenskennis te hê nie.
DIE LAM EN DIE LEEU
Ds A.E. van den Berg
“Is U die een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag? (Mt.11:3).
Die Bybel maak van talle merkwaardige profete melding. Hierdie gelowiges het in moeilike tye en dikwels ook in lewensgevaar in God se diens gestaan om sy opdrag onverskrokke oor te dra. Elia, Jesaja en Jeremia was drie van hulle.
Johannes die Doper was egter die grootste van almal. Hy was Jesus se wegbereider en het destyds ʼn beroering in kerkgeledere veroorsaak. Tot op daardie stadium was die stem van die profete al vir vier eeue stil omdat God niks meer vir Israel te sê gehad het nie. Toe Johannes hierdie stilte verbreek, het mense in groot getalle opgedaag om na hom te kom luister want dit was wonderlik dat God na 400 jaar weer met Israel gepraat het!
In die gelese gedeelte in Mt.11 is Johannes in die tronk. Koning Herodes het hom laat vang omdat hy die koning op sy gruwelike sonde gewys het. Johannes was ontnugter en verneder wat hom in so ʼn vertwyfeling laat beland het, dat hy boodskappers met ʼn vraag na Jesus gestuur het:
“Is U die een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag?”
Jesus was baie teleurgesteld in hom. Johannes se vertwyfeling het ʼn onaangename inhoud aan Jesus se lydensbeker toegevoeg. Sy wegbereider het, van alle mense, aan Hom getwyfel!
Johannes se vertwyfeling was eg menslik. Geloofshelde is ook maar net mense wat stadiums van vertwyfeling en ontnugtering kan beleef. Let maar net op Elia, een van die grootste profete van die OT. Hy het vir koningin Isebel gevlug en later so moedeloos geword, dat hy onder ʼn besembos gaan lê en gewens het om te sterf. Gelowiges weet dat hulle slegs uit genade en nie weens enige voortreflikheid gered word nie.
Johannes was die eerste profeet wat die koms van die langverwagte Messias aangekondig het. Hy praat van die Leeu van Juda wat die dorsvloer sou deurtrap:
“Sy skop is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand” (Mt.3:11).
Daarmee het Johannes mense tot onmiddellike bekering opgeroep asof dit weldra te laat sou wees.
Maar nou sit Johannes in die tronk en sou nie lank hierna nie onthoof word. Hy was teleurgestel in Jesus. Waar was die vlamme van God se wraak wat die werkers van ongeregtigheid sou verteer? Johannes se aanvanklike vuur en ywer in die woestyn was skynbaar geblus. Daarom het hy gesante na Jesus gestuur om vir Hom te vra: Het ek my dalk met U misgis? Ek het U so geheel anders aan my hoorders voorgehou; was ek dan heeltemal verkeerd?.
Mense maak dikwels dieselfde fout as Johannes deur verkeerde voorstellings en verwagtings van Jesus toe te dig en nie na die Bybel terug te gaan om die kenmerke wat aan Jesus toegeskryf word, te toets nie.
Die OT onderskei twee duidelike lyne van die komende Messias. Hy sal ʼn kneg en ʼn koning wees; ʼn lam en ʼn leeu. Na Jesus se doop in die Jordaan rivier sê Johannes:
“Daar is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem” .
Johannes het net soos sy volksgenote heimlik na ʼn staatkundige Messias-leier gesmag. Israel het talle staatkundige geestelike leiers soos Moses en Dawid gehad. Waarom kon Jesus nie ook een wees nie? Dit was skynbaar die verwagting. Op pad na die hemelvaart word die vraag aan Jesus gestel:
“ Die wat bymekaar gekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Israel weer oprig” (Hand.1:6).
Die tyd was gunstig om van die Romeinse juk ontslae te raak. En, omdat Jesus uit die nageslag van Dawid was, sou Hy by verre die beste kandidaat wees!
Jesus het nooit met die politiek van sy tyd ingemeng nie. Hy het nie eens met hooggeplaastes omgegaan nie, maar was ʼn vriend van tollenaars en sondaars. Daarom het die Jode Hom nooit as ʼn moontlike staatkundige bevryder geag nie. Hy het volgens hulle in die verkeerde sosiale kringe beweeg.
Al hierdie dinge het Johannes se twyfel versterk. Het ek my dalk misgis? Het ek miskien verkeerde man as Messias aangewys? Wat nou?” Om Jesus te volg, was so anders as wat Johannes homself voorgestel het. Om verkeerde voorstellings van Jesus te hê, het sedertdien nog nooit verander nie.
Gelowiges moet hul voorstelling van Jesus veral in hierdie tyd aan die Bybel toets. Die stroom wat mense die godvyandige wêreld inspoel,word al hoe sterker. Min mense weerstaan dit:
“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:14).
Hierdie stroom vloei al hoe sterker van Jesus af weg. Dit bekommer gelowiges en laat hulle vra: Here, waarom laat U hierdie onreg en booshede toe? U kan tog iets hieraan doen” . So maak ons dieselfde fout as Johannes om verwagtinge te koester van beloftes wat Jesus nooit gemaak het nie. Johannes het die Leeu verwag en toe kom die Lam. Israel het ʼn politieke verlosser verwag; toe kom ʼnSielsverlosser.
Ons is tans in die Adventstyd waar ons aan die koms van Jesus na die aarde dink. Hy het egter nie aarde toe gekom het om gelowiges van siekte, pyn en teleurstellings te vrywaar nie. Ons moenie soos Johannes vergeet dat ons tans in die bedeling van die Lam leef nie. Die Leeu kom nog soos wat belowe is. Dis nou nog saaityd; oestyd het nog nie aangebreek nie, maar dit sal!
Ons moet nog deur die siftingsproses van die eindtyd gaan. En dit gaan hewig wees.
“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:21,22).
Ons verkeer tans nog in ʼn gunstige bedeling en moet geestelike skatte bymekaar maak want daar kom ʼn tyd dat aardse skatte geen waarde sal hê nie behalwe vir diegene wat hul siele aan Satan verkoop en aan die Antichris onderdanig geword het. Ons verkeer nog in genadetyd.
By die Lam is dit moontlik om versoening te kry, maar nie by die Leeu nie want dan is dit vir ewig en altyd te laat. Dis nou nog lyding en nie heerlikheid nie; dis werkstyd en nog nie rustyd nie. Die Leeu waarvan Johannes getuig het, sal in krag en majesteit kom soos wat beloof is. Laat ons hierdie Kerstyd met dankbaarheid aan die Lam wat vir ons gestuur is dink maar ook ernstig op die Leeu wag wat aan die kom is. Verlustig jou in die genade van die Lam totdat die Leeu kom!