Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy aan die einde van jou lewe kon terugkyk, sou jy vind dat die herinneringe wat die helderste blink, dié is toe jy iets gedoen het uit spontane, onvoorwaardelike liefde, nie vir eie gewin of uit dwang nie.
DIE LEWE IS SOOS ‘N TREINRIT
Ds A.E. van den Berg
“Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? (Ps.34:13).
Ons het almal iets in gemeen – ons lewe. Die lewe is ʼn gawe van God. Dis egter nie net maneskyn en rose soos koning Dawid diep bewus van was nie. Hy het die soet en die suur van die lewe geken; hoogtepunte soos sy troonbestyging maar ook laagtepunte soos toe hy tydens ʼn burgeroorlog vir sy eie seun uit sy paleis in Jerusalem moes vlug.
In Ps.34 aanvaar Dawid dat elke mens gelukkig wil leef. Gelukkige lewens bestaan egter nie uit die hoeveelheid jare wat ʼn mens leef nie, maar uit die gehalte van daardie jare. Dit kan of wys of dwaas deurgebring word.
In Ps.90:12 bid Moses:
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!”
Gehalte lewens gaan nie oor die aantal jare wat ons leef nie, maar oor kleiner eenhede – sinvolle dae. Dawid vra:
“Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? (Ps.34:13).
Die lewe is kort, nogtans duur dit onophoudelik voort:
“Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Pred.1:3,4).
Die lewe is baie soos ʼn treinrit. Ons is vanaf ons geboorte soos passasiers op ʼn trein. Met ons geboorte het ons opgeklim, ons ouers ontmoet en geglo dat hulle vir altyd met ons sou reis. Dit gebeur nie. Die trein hou vir elke mens op ʼn vooraf bepaalde dag by ʼn vooraf bepaalde stasie stil om af te klim waarna die ander passasiers die reis sonder jou voortsit.
Daar is passasiers wat ons lewens verryk soos gesinslede, die liefde van ons lewe en ons eie kinders. Sommige sal gedurende die rit op ʼn bepaalde stasie afklim en leemtes in ons lewens laat; miskien selfs van ons eie kinders.
Vir sekere passasiers kom die treinrit vinnig ten einde. Luister na Dawid toe hy van die dood van Absolom verneem:
“En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My seun Absolom! Absolom, my seun, my seun!” (2 Sam.19:4).
Ja, kinders kan voor ons van die trein afklim. Niemand is te jonk om af te klim nie!
Sekere passasiers sal weer so ongesiens afgeklim, dat ons dit nie eers bemerk nie en eers later hoor dat hulle nie meer op die trein is nie. Ja, die net van die lewe is van goeie sowel as slegte garing gemaak. Daarom is die treinrit van die lewe vol vreugdes maar ook hartseer; vol drome maar ook teleurstellings. Ons verwelkom maar groet ook van die passasiers.
Gelowiges, moenie mismoedig word as die treinrit soms onaangenaam raak en skud en stamp nie. Dis maar die verloop van die lewe. In sulke tye staan God ons by. Hy sê vir Josua:
“Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9).
Die lewe kan ons rondpluk. Al kan ons nie die wind beheer nie, gee God ons die krag om ons seile in die storms van die lewe reg te ontplooi. Die lewe is soos fotografie; ons het ook die negatiewe nodig om mooi foto’ste verkry.
Om die treinrit van die lewe aangenaam te maak, moet ons goeie verhoudings met ons medepassasiers hê. Sulke verhoudings bepaal grootliks die genot van die rit. Moet egter nooit verhoudings met passasiers hê wat verhoed dat jy jouself kan wees nie. Jy bestuur jou lewe; moenie dat iemand anders die stuurwiel oorneem nie. Soms moet ʼn mens maar onsigbare mure om jou bou, nie soseer om ander mense uit te hou nie, maar veral om dit wat binne-in is te bewaar.
Wees egter versigtig om nie net vir jouself te leef nie. Die geskiedenis van die mensdom is in ‘n sekere opsig die tragiese verhaal van mense wat net vir hulself geleef het. Niks bederf die treinrit van die lewe soos selfsugtige passasiers nie. Andersyds is niks so aangenaam as mense wat aan ander goed doen ongeag of hulle ’n vragmotor of ʼn besigheid bestuur.
Ons moet nooit die lewe aan die oes wat ons insamel beoordeel nie. Beoordeel dit eerder aan die saad wat jy saai. Niemand is ooit vir wat hy ontvang het vereer nie maar wel vir dit wat hy gegee het. Gee jouself want jy weet nie op watter stasie jy gaan afklim nie. Dit kan die volgende een wees!
Hou egter in gedagte dat die lewe nie ’n besitting is nie, maar ʼn lening. God gaan dit op sy bepaalde tyd oproep. Daarom moet ons reg leef. Die lewe is die enigste geleentheid wat ons kry om ons siele vir die ewigheid voor te berei. As die lewe verby is, kan verkeerde dinge nie reggemaak word nie.
Steek die hand in eie boesem. Hoe vrugbaar is jy vir God? Grond lewer altyd iets op. As dit nie blomme, groente of vrugte is nie, dan onkruid en dorings. So is dit ook in elke mens se lewe. Wat lewer jy op?
Die lewe te kort om tyd met beuselagtighede te verkwis en te kosbaar om dit met onvergewensgesindheid te besmet. Moenie wag om iemand te vergewe nie. Ons weet nooit wanneer regmaak te laat gaan wees nie. Johan Stemmet sing tereg van ʼn ruiker vir vandag want ʼn krans is more te laat.
Sien die lewe as ʼn lig wat God aan ons leen. Ons moet dit helder laat skyn voordat ons by ons afklimstasie kom en hierdie lig aan die volgende geslag oorhandig. Dawid vra in die teksvers:
“Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?”
Wie goeie dae het, verlaat die trein van die lewe sonder hartseer. So ʼn mens se vingerafdrukke verdwyn nie van die lewens wat hy gedurende die rit aangeraak het nie.
Al is die treinrit vir die meeste mense aangenaam, weeg die vreugdes daarvan nie teen die vreugde wat vir gelowiges by die ewige terminus wag nie. Sorg dus dat as jy die dag jy jou stasie bereik, jy wonderlike herinneringe vir hulle wat nog met die rit voortgaan nalaat. Mooi herinneringe aan ʼn onvergeetlike mens sterf nooit nie!
Onthou, as jy van die trein afklim, is die dinge wat jy vir jouself gedoen het eens en vir altyd verby. Al wat bly staan, is dit wat jy vir die ander gedoen het. Dis jou nalatenskap. Al is die lied verby, duur die melodie wat jou lewe gelaat het in die passasiers se harte voort. Bid vir ’n lang rit maar leef asof jy vandag nog op jou bepaalde stasie gaan aankom.