Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, sal U asseblief ons volk vergewe wanneer ons so maklik swig voor die versoeking om die waarheid se effe te wysig? Selfs heelwat te wysig? Here, help ons asseblief om weer 'n biddende volk vir U te word, 'n volk wat in gehoorsaam u Waarheid erken en uitleef. Dan alleen sal dit weer met ons volkslewe wel wees.
ʼn ONMISBARE VERHOUDING
Ds A.E. van den Berg
“Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef... My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie... U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!”(Ps.139:13-17).
Niemand het iets belangriker in die lewe nodig as ʼn verhouding met God nie. Alle ander dinge is ondergeskik daaraan. Ons verhouding met God begin met ʼn besef dat Iemand ons gemaak het. Ons het nie onsself iewers in die buitenste ruimte gemaak en op ʼn dag op die aarde verskyn nie. In Ps.139 sê Dawid dat Iemand anders hom gemaak het; dieselfde Persoon wat die ganse mensdom gemaak het. Paulus sê vir die Atheners:
“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand.17:26)
God het bepaal dat ons na sy Beeld geskep word. Dit beteken nie dat ons soos Hy lyk nie. Hierdie uitdrukking beteken dat Hy vir Hom in die mens ʼn gespreksgenoot geskep het om die pad na ʼn verhouding met Hom oop te maak.
Let op die skepping van Adam reg in die begin:
“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Gen.2:7).
Die proses wat God in die tuin van Eden begin het, word sedertdien daagliks voortgesit.
Hierdie skepping is as sulks nie genoegsaam om die mens in ʼn verhouding met God te plaas nie. Sonde het die skepping so erg beskadig, dat ʼn geestelike herskepping nodig was om die mens in die regte verhouding met God te bring. Dit word die bekering genoem – ʼn terugkeer na die oorspronklike sondelose ontwerp.
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Eers skepping, daarna herskepping. Is jy al herskerp?
Paulus maak van twee Griekse woorde gebruik. Die een beteken nuut in die sin van ʼn herbouing; ʼn sondebesmette verhouding wat ten gronde gegaan en herbou is. Die ander Griekse woord beteken splinternuut en dui op die mens wat deur die bekering nuut geword het en alles wat saak maak. Hy kry ʼn nuwe geestelike familie (gemeenskap van die gelowiges). Hy meet met ʼn nuwe stel waardes (vrug van die Gees). Hy het nuwe dryfkrag en ywer vir die saak van die Here en maak ander skatte as stoflike dinge bymekaar. So ʼn verhouding met God, plaas ons hart en siel by die Here.
“Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie” (Ps.119:14-16).
By geleentheid vra ʼn jongman my hoe hy sal weet dat hy ʼn verhouding met God het? Hy was op daardie stadium smoorverlief op ʼn meisie. Ek vra hom toe hoe weet hy dat hy ʼn verhouding met haar het? Hy sê toe dat hy baie lief vir haar is, baie by haar is en alles moontlik vir haar doen. “Kan mense sien dat julle in ʼn verhouding is?” vra ek hom. Hy het bevestigend geantwoord.
So werk dit ook met ons verhouding met God. As ons vir Hom lief is, doen ons vir Hom dinge en mense sien dit raak. Wie in so ʼn verhouding met God leef, ervaar amper iets soos God wat die hek na die Tuin van Eden vir ons oopmaak en ons weer binne nooi om ons liefde vir Hom te betoon.
Wanneer ons na ʼn pragtige meubelstuk, skildery of mooi borduurwerk kyk, het ons bewondering vir die een wat dit gemaak het. Niks vergelyk met God se skeppings nie. In Ps.139 verwonder Dawid hom daaraan. Die Psalm sê dat God ons geskep het en die jare wat ons op die aarde gaan wees vooraf bepaal het.
“My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie.... U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie....”
Dit was vir my altyd mooi om my ouma uit stringetjies hekelgare doilies en mooi lappies te sien maak. God het as’t ware stringetjies DNS bymekaar gebrei toe Hy ons gemaak het:
“Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef...”
Benewens sy skeppingsmag, beskik God ook oor ʼn onpeilbare wysheid. Hy ken ons diepste geheime, selfs die verbintenis tussen liggaam en siel.
“My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie...”
Niks is vir God verborge nie.
Wat van mense wat met liggaamsgebreke gebore word en waarvan die liggame onvolmaak is? Het God iewers misluk? Nee, beslis nie! Hou in gedagte dat na die sondeval allerlei slegte dinge die mensdom binnegedring het, selfs in sekere fisiese liggame. Dawid sê:
“Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps.51:7).
Daar is net een ding wat sonde nie kan skaad nie – ons siele; mits ons tot bekering kom anders vernietig sonde ook ons siele en gaan ons hel toe. God wil dit verhoed. Daarom het Hy sy Seun gestuur om aan ʼn kruis vir ons sonde te sterf en sondaars deur die bekering skoon kan kom. God gee ons tyd daarvoor:
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!”(Ps.90:2).
In Ps.139 sê Dawid dat God ons aantal lewensjare vasgestel het.
“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie”.
Sommige mense hou dagboeke aan om dit wat daagliks gebeur op te skryf. Niemand kan egter vooruit sien nie. Net God ken al ons dae. Ons moet egter verantwoordelikheid vir elke dag neem. Daar is geen verskoning om te sondig nie.
Die toekoms is soos die blanko bladsye van ʼn dagboek en alles in God se hande. Hy weet alles tot in die kleinste besonderheid.
“HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (:1-6).
Dit maak nie saak wat die toekoms gaan oplewer nie, niks sal met die gelowige sonder God se wil gebeur nie. Moet jou nie oor die dag van more bekommer nie Verheug jou in die wonder van jou Skepper, want kyk hoe Hy jou gemaak het:
“Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef...”
Al raak tye soms sleg, bly God goed. Hy word nooit te moeg om vir sy kinders te sorg nie:
“Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps.103:13,14).
Hy sorg vir ons van ons geboorte af totdat ons die laaste asem uitblaas om vir ewig by Jesus in die paradys te wees. Hoe wonderlik is God se werke nie! Is jy ernstig met God? Sien mense jou verhouding met Hom raak?