Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense wonder wat die geheim van gelukkig wees is, in die allesdaagse rondom hom. Jy kan nie die vreugde wat jy aan iemand anders gee deur iets mooi aan hom te sê of te doen, beleef sonder om self daardie gelukkige gevoel te ervaar nie – vandaar die spreekwoord dat dit saliger is om te gee as om te ontvang!
JESUS DIE ENIGSTE PAD HEMEL TOE
“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word....” (Joh.10:9).
Daar is na beraming 10,000 godsdienste in die wêreld. Hoe het godsdiens as sulks ontstaan? By mense se bewuswording van iets groter en heiliger as hul eie bestaan; iets buite hul normale begripsvermoë. En so het godsdienste deur die eeue ontstaan, elkeen met sy eie gode en volgelinge. Te midde van al die verskille het alle godsdienste iets in gemeen – die hoop op ʼn lewe na die dood.
Desondanks is daar net een godsdiens wat ʼn lewe na die dood waarborg – die Christendom. God het dit so beskik dat sy verlossingsplan vir die mens slegs deur die bekering tot Jesus Christus geskied. Geen ander godsdiens bied verlossing en ʼn ewige lewe nie; slegs die Christendom met Jesus as die enigste brug tussen God en mens. Jesus sê self:
“... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Maar waarom juis Hy? Omdat God Hom deur Jesus aan mense bekend gemaak het. By geleentheid vra Filippus vir Jesus:
“ Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien...” (Joh.14:8,9).
As Jesus nie mens geword het nie, sou ons min van God geweet het.
Gevolglik is alle pogings om God buite Jesus te probeer ken, sinneloos. Daar is net een ware godsdiens – die Christendom. Al die ander is afgodsdienste omdat dit nie die verlossing van sonde deur Jesus Christus verkondig nie. Gevolglik is daar net een deur waardeur mense die hemel kan ingaan en dis Christus.
“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word ...”
Die tradisionele Afrika-mens begryp dit glad nie. Die rede hiervoor is dat hul godsdiens en kultuur vermeng en met allerlei booshede soos toordery, goëlery en voorvader-geesaanbidding deurspek is. Hulle onderskei nie tussen godsdiens en kultuur nie. Dis vir hulle dieselfde ding. Godsdiens is kultuur en kultuur is godsdiens. Daarom kom die boodskap van sondeverlossing moeilik tuis!
Afrika-godsdienste word aan ʼn ongekende geestesarmoede gekenmerk. Dit beskik bv. oor geen heilige geskrifte soos die Christendom se Bybel of Islam se Koran nie. Daarbenewens het dit ook geen uitstaande godsdiensleiers nie. Godsdiens is deur die eeue mondelings van die een geslag na die ander oorgedra. Niks is ooit op skrif gestel waarna iets verwys kan word nie.
Daarom is die Christendom se godsbegrip vir die Afrika-mens vaag en die noodsaaklikheid van sondeverlossing vreemd. Hulle aspireer om na die dood ʼn voorvadergees te word. Dis vir hulle moeilik om te verstaan dat slegs die Christendom na God toe lei en dat Jesus die enigste deur na die ewige lewe is.
Die verlossing van sonde en die verkryging van ʼn ewige lewe verhef die Christendom bo al die ander godsdienste. Nie een van die ander het ʼn duidelike verlossingsweg nie en gaan derhalwe ʼn ewige verderf tegemoet. Vandaar Jesus se laaste opdrag:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Die Bybel is baie duidelik dat daar net een deurgang na die hemel is – Jesus Christus. Ongelukkig word hierdie heilsfeit vandag in sekere vrysinnige teologiese kringe bevraagteken. Etlike teoloë verkondig openlik dat Jesus nie die enigste deur na die hemel is nie. Daar is ook ander. En onthou dat vandag se kateder-teologie more se kansel-taal is!
Ontspoorde teoloë beskou die Christendom nie bo ander godsdienste verhewe nie, maar eerder gelykwaardig en verklaar dat Jesus ook net vir Christene betekenis het. Sy volgelinge het glo destyds iemand van Hom gemaak wat Hy nooit wou wees nie. En om na Hom as Seun van God te verwys, is mitiese taal. Hy is nie die enigste deur na die hemel nie.
Een van die berugste teoloë wat die dwaling verkondig het, was ene Tutu. Hy het openlik verkondig dat Jesus nie die enigste weg na die hemel is nie en dat God almal se vader is hetsy Hindoe, Boeddhis of Moslem. Almal behoort aan een groot familie en niemand staan buite nie. Nodeloos om te sê, het Tutu geen benul van die wedergeboorte, noodsaaklikheid van bekering of Jesus se lyding aan die kruis verstaan nie en is so die ewigheid in!
Nee, die Christendom is uniek en nie ʼn klomp reëls en rituele soos by die ander afgodsdienste nie. Die Christendom is Jesus. Hy sê self dat Hy die enigste deur na die hemel is.
“Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape” (Joh.10:7).
Die toneel van Joh.10 was ʼn algemene gesig – ʼn skaapstal waar herders hul skape laat oornag het. So ʼn stal het ʼn deurwagter gehad wat kon keer dat diewe inkom en steel. Die stal het net die een deur gehad. In die OT lees ons dat die tabernakel en latere tempel ook net een deur na die verbondsark gehad het. So is daar ook net een deur na die hemel – Jesus Christus. Skape wat by die deur die stal in gegaan het, was veilig. Om snags buite te wees, was gevaarlik. So ook met Jesus – binne Hom is daar redding. Buite Hom is daar gevaar. Elke mens is of binne of buite die stal. Strofe vier van Ges.100 lui: “Laat dit weerklink in alle ore, herhaal dit Heer van uur tot uur. Wie buite My is gaan verlore, die dorre rank is vir die vuur...”
Omdat die pad na die hemel deur Jesus Christus gaan, leer Protestantisme dat daar net een Middelaar tussen God en mens is – Jesus. Hy is vir gelowiges ʼn skans teen die bose. Ges.265 lui tereg:
“ʼn Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom, die sterke. Hy is ʼn vesting in die nood – vir ewig staan sy werke. Al kom die bose aan in sy oorwinnaars-waan, ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis – God self stel aan hom perke”.
Om in die stal te wees, het die skape se veiligheid gewaarborg. Buite was hulle aan talle gevare blootgestel. Hulle kon teen kranse afstort of prooi van rowers of roofdiere word. Net so is daar vir siele buite Jesus geen veiligheid nie. Binne in die stal wel. En wat meer is, was dit vir die skape binne die stal ʼn ander wêreld. So ook vir God se kinders – ʼn goddelike gemeenskap soos die kerk vir ons is.
Vir wie maak die hemelse Deurwagter oop? Vir almal wat deur die bekering kinders van God geword het. Dit word nie vir onverskilliges oopgemaak nie. Dink aan die Gelykenis van die Tien Maagde:
“Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:10.11).
Van al die plae wat die mens kan tref, is kerklike misleiding die skadelikste. Kyk maar net wat in die tyd van Jeremia gebeur het toe leraars die volk mislei om hulle die dood vir die lewe te laat aansien het. Dit het op ballingskap uitgeloop:
“Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here....., aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe .... Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here” (Jer.23:1,2).
Die verstand van die kerklike publiek word maklik getiranniseer. Wat ʼn oordeel wag daar nie op vandag se dwaalleraars wat mense laat glo dat daar nog ander deure na die hemel is nie!
“Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:31).
Dank God dat sy kinders in sy liefdevolle arms val en nooit verlore gaan nie.