Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons land het baie donker geword. Daar is bykans geen terrein wat nie aangetas is nie. Die kerklike terrein is die hartseerste! Dis asof die hel se magte oor ons eens sonnige land ontketen is. Wat ’n behoefte het ons volk nie aan die lig van Jesus as die blink Môrester nie!
WEGRAPING
Ds. A.E. van den Berg
“... En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mt.24:11).
Dwaalleer neem ontstellend onder volksgenote toe. Mense eet leuens vir soetkoek op omdat hulle geestelik honger is, maar op die verkeerde plekke na geestelike voedsel gaan soek en in die slagyster van fabels trap. “...want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie .... en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
God gee vir ons die waarheid in sy Woord. Om dwaalleer te glo, is om met God te spot. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie...” (Gal.6:7). Een van die dwalings wat die meeste mense mislei, is die leer van die Wegraping. Dit leer in werklikheid twee wederkomste. Met die eerste vertoef Jesus in die lug terwyl Hy sekere gelowiges oppluk om hul die groot verdrukking te spaar. Later kom Hy vir ʼn finale keer as Regter aarde toe.
Klink hierdie eerste wederkoms en die wegraping reg? Beslis nie! Ongelukkig glo duisende volksgenote dit omdat hulle met tweedehandse kennis tevrede is. Hulle lees en bestudeer nie self die Bybel nie en aanvaar sondermeer oor wat ander daaroor sê. Dit laat mense baie leuens en fabels soos die wegraping glo. Dit staan glad nie eens in die Bybel nie!
Die wegraping het sy oorsprong by John Nelson Derby, ʼn 19de eeuse prediker wat dit die kerk se plig geag het om die koninkryk van God op aarde te laat verwerklik. Die Onse Vader sê dat God sy koninkryk moet laat kom. Derby sê nee, dis die kerk se taak. Hy het geglo dat dit ʼn nuwe waarheid was wat God aan hom openbaar het om aan mense van die laaste dae te verkondig.
Nòg die Bybel nòg die kerkgeskiedenis weet enigiets van ʼn wegraping. Dit as sulks laat alreeds die gevaarligte brand, “...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet.1:20). Die wegraping is eie uitleg. As dit Bybels was, sou dit duidelik in die Bybel gestaan het, veral in Mt.24 wat Jesus se eie woorde oor die einde van die wêreld is.
Derby dwaal deur ʼn onderskeid tussen die dag van Christus en dag van die Here te maak. Die dag van Christus verwys glo na die wegraping en dag van die Here na die wederkoms. Dis onwaar. Albei uitdrukkings verwys na die wederkoms van Christus. Die dag van Christus en dag van die Here is een en dieselfde ding!
Wegrapingverkondigers voer vyf tekste vir hierdie dwaling aan. Nie een van dit verwys na ʼn wegraping nie maar na die wederkoms. I Thess. 4:16,17 is hul gunsteling teks: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees”.
Wat is die verklaring hiervan? Die gelowiges in Thessalonika het destyds ʼn vraag gehad toe sommige van die gemeentelede wat pas tot bekering gekom het, skielik oorlede is. Die vraag was of die oorledenes nie dalk ʼn agterstand gehad het teenoor hulle wat langer gelowig was nie?
Paulus antwoord: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1Thess.4:13). Wat ʼn troos; die ontslapenes het geen agterstand nie! “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (I Thess. 4:14).
Om 1 Thess. 4:16,17 as ʼn bewys vir die wegraping aan te voer, is ʼn mistasting en bots met vers 15 en 18: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”.
Die dwaling van die wegraping bots ook met die boodskap van Openbaring. Openbaring praat nêrens van Jesus wat sekere gelowiges die groot verdrukking gaan spaar deur hul op te pluk nie. Hy sê dat Hy hulle in daardie tyd van beproewing sal bystaan. Dwaalleraars maak van die wegraping ʼn ontsnaproete wat amper soos Monopoly se “Get out of jail free” werk. Dis pure onsin!
Ons is in die pylvak van die wederkoms en ervaar ʼn verbete aanslag van Satan teen gelowiges, veral met leuens wat vir sommige bemoedigend klink. Die Bybel leer geen wegraping nie maar wel ʼn enkele wederkoms. Gelowiges wat ontslaap het, staan wel eerste op om Jesus in die lug tegemoet te gaan. Dis ʼn beeld so eie aan Bybelse tyd. As ʼn koning ʼn stad binne gekom het, het die lojale onderdane hom eerste gaan ontmoet. So sal dit ook aan einde van die tyd wees wanneer die Koning van die konings na die aarde terugkeer en deur gelowiges ontmoet word.
By geleentheid vra die dissipels vir Jesus wat hulle aan die einde van die tyd moes verwag. Hy het sondermeer gesê dat die laaste gelowiges en die Antichris terselfdertyd op aarde gaan wees. Hierdie waarheid trek ʼn streep deur die leuen van die wegraping. Dwaalleraars ontspoor as hulle sê dat God die uitverkorenes vóór die verskyning van die Antichris in die hemel sal op pluk.
God sal wel by geleentheid al sy uitverkorenes op aarde bymekaarmaak: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mt. 24:31). Dis juis hulle wat deur die grootverdrukking gegaan het. Die feit bly staan dat hulle terselfdertyd op die aarde as die Antichris sal wees en nie voor die tyd weggeneem gaan word nie.
Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op mense wat al hulle hoop op ʼn wegraping voor die groot verdrukking plaas nie! Hulle glo almal dat daar ʼn groot verdrukking gaan plaasvind, maar dit sal hulle nie raak nie want hulle sal dan alreeds weggeraap wees! Wat ʼn valse hoop skep dit nie by mense nie en dit terwyl die donker onweerswolke van vervolging alreeds begin opsteek. Wat ʼn ontnugtering wag daar nie op hulle nie!
Duisende goedgelowige mense staar in die bek van die leeu, maar glo nog steeds dat hulle op ʼn verebed die hemel ingedra sal word. As hulle maar net na die Bybel wil luister!
Dwaalleraars se weerspreking van die Bybel laat ‘n mens aan Satan se metodiek in die tuin van Eden dink. “....Is dit ook so dat God gesê het...?”waarna hy Eva die teenoorgestelde laat glo! Jesus sê in Mt.24 dat gelowiges deur die groot verdrukking sal gaan. Dwaalleraars sê : “Julle sal nie. Julle sal voor die verdrukking in die hemel opgepluk word”.
Wat gaan hulle doen as die groot verdrukking plaasvind en daar geen wegraping plaasvind nie? Dink aan al die verwarring, teleurstelling en ontnugtering. Dit gaan selfs so groot wees, dat hulle die merk van die dier gewillig gaan aanvaar.
Jesus waarsku gelowiges teen die valse profete: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mt. 24:11). “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat” (:10). Dit gaan gebeur wanneer mense tot hul skok gaan besef dat daar geen verebed hemel toe is nie!
Jesus gee in Mt.24 die presiese volgorde van die eindgebeure wat met oorloë en gerugte van oorloë begin en daarna hongersnode, pessiektes en aardbewings. Terselfdertyd sal gelowiges vervolg word en ontstellende natuurverskynsels plaasvind. Die son sal donker word en die maan rooi terwyl hemelliggame op die aarde val. Daarna word die laaste basuin geblaas en kom Jesus sigbaar op die wolke. Dieselfde orde word in Openb.6 herhaal sonder enige verwysing na ʼn wegraping.
Daar gaan geen wegraping wees nie, maar wel ʼn aangrypende bymekaarmaak van alle gelowiges aan die einde van die tyd om vir ewig saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem te gaan woon. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie......” (Gal.6:7).