Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Leef reg. ‘n Heilige lewe maak altyd ‘n indruk op mense. Wees soos ‘n vuurtoring. Dit maak nie lawaai nie; dit skyn net. Al lê die sneeu van die winter op jou kop, moet mense altyd kan sien dat dit lente in jou hart is!
OORSPRONG VAN DIE BYBEL
Ds A.E. van den Berg
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”(2 Tim.3:16).
Alles wat ons in die NT lees, was nie amptelik Bybel gewees toe dit geskryf is nie. Toe Paulus sy briewe geskryf het, was dit bloot net briewe en niks anders nie; briewe aan sekere mense en gemeentes wat sy raad op daardie stadium nodig gehad het. So ook al die ander briewe soos bv. die Sendbriewe.
Die Evangelies en Handelinge is geskryf as ʼn manier om ongelowiges wat nie van Jesus geweet het nie te evangelieseer. Johannes het weer sy hemelse gesigte met die skrywe van Openbaring met die vervolgde gelowiges gedeel.
Al hierdie individuele skrywes is destyds nie as Skrif beskou nie maar eers jare later nadat Sinodes byeengekom het om die dinge wat oor Jesus en die lewe van die vroeë kerk geskryf is, uit te sorteer en onder leiding van die Heilige Gees te besluit watter daarvan as met gesag vir die geloof sou wees.
Dit beteken dat toe 2 Tim.3:16 geskryf is, was die Hebreeuse Skrif wat later die OT genoem is, die enigste erkende Skrif. Die boeke van die huidige NT was toe nog nie deel van die Bybel nie omdat dit toe nog nie geskryf was nie. Nie een van die NT skrywers het die gedagte gehad om hul skrywes op gelyke voet met die eertydse Skrif te stel nie.
Beteken dit dat die NT nie deur God begeester is nie? Beslis nie. Die teksvers sê dat die OT nie eenkant toe geskuif moet word asof dit nie meer van toepassing is nie. Gelowiges moet nooit die verhale, geskiedenis en profetiese woorde waarmee God die OT skrywers baie eeue voor die koms van Christus begeester het as verouderd en van minder belang beskou nie.
Wat ons vandag as die Bybel ken, is 'n samestelling van begeesterde tekste wat die kanonieke boeke genoem word. Die woord “kanoniek” kom van ʼn Griekse woord wat “standaard” of “maatstaf” beteken. Dis die woord wat gebruik word om die boeke wat in die Bybel opgeneem is, as begeesterde Skrif te beskou.
Die Bybel is die boek wat die mensdom die meeste geraak het. Dit bevat gebeure wat van die oorsprong van die mensdom vertel, so ook verhale van die profete en wat deur Jesus geleer is tot op die dag van die laaste oordeel.
Vir gelowiges is hierdie boek die heilige woord van God, wat oor die skepping van die mens, die val daarna in sonde en die redding daarvan vertel. Sonde, verlossing en dankbaarheid. Die Bybel vertel van ʼn verhouding wat tussen God en die mens bestaan en moedig die nodige bekering daarvoor aan. “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11).
Die oorspronklike tekste van die OT en NT bestaan nie meer nie. Geskrifte was op papirus en leer wat met verloop van tyd nie ongeskonde kon bly nie. Om die oorsprong van die Bybel te laat voortduur, is duisende kopieë gemaak. As gevolg hiervan is baie van daardie geskrifte weens gebrekkige spelling en ware begrip van die persone wat dit gekopieer het verander. Daarom het die gelowige paleograwe hul beste pogings aangewend om van die eksemplare met ander te vergelyk om 'n teks so na as moontlik aan die oorspronklike te lewer.
Die 66 boeke van die Bybel is 'n klein biblioteek wat oor ongeveer 1500 jaar versamel is om een enkele boek te skep. Meer as 40 skrywers het oorspronklik as medeskrywers saam met God gewerk om die 66 boeke van die Bybel daar te stel. Sommige van hulle is aan ons bekend en ander nie. Ons weet bv. nie wie Rigters, Rut of Samuel geskryf het nie.
Die boek Konings is waarskynlik deur verskeie onbekendes geskryf want dit strek vanaf die troonsbestyging van Salomo in 971 v.C. tot by Jojagin se koningskap in 562 v.C. Dit is meer as 400 jaar. Die Psalms is in die tydperk tussen 1400 en 500 v.C. deur verskeie skrywers saamgestel. Van die 150 Psalms is 49 van die skrywers onbekend.
In 367 nC was Athanasius, die biskop van Alexandrië, die baanbreker wat 'n volledige samestelling van die 66 boeke van die Bybel verskaf het. Hy het by geleentheid van sy jaarlikse Paasfees-brief aan die kerke onder sy toesig die volgende van die 27 boeke van die NT geskryf: “Hierdie is die Fonteine van Saligheid en Redding sodat enigeen wat dors het met die boodskap wat hulle bevat bevredig kan. Laat niemand daaraan byvoeg of wegneem nie.”
Maar waarom 66 kanonieke boeke en nie 'n ander getal nie? God het die getal self bepaal. Indien dit anders moes wees, sou Hy die gelowige samestellers deur sy Gees anders gelei het.
God het deur die Bybel met die mensdom op ʼn wyse in verbinding getree wat volkome in ons geestelike behoeftes voorsien. Die Bybel gee ons leiding en antwoorde op die belangrikste vrae aangaande ons siele-kwessies; iets wat geen menslike wetenskap kan doen nie. Ofskoon die Bybel ʼn egte boek is, is dit uniek deurdat dit ʼn openbaring van God die Skepper aan die mensdom is.
Een ding wat die Bybel bo alle ander boeke laat uitstyg, is dat God voor die tyd dinge daarin voorspel en laat aanteken het wat later sou gebeur en toe gebeur het. Daar is talle voorbeelde hiervan. Een daarvan vind ons in die boek Daniël wat dinge rakende die heerskappy van die Griekse en Romeinse Ryke 400 jaar voordat dit gebeur het, haarfyn voorspel. Gevolglik kan ons seker wees dat alles wat God in die Bybel oor die eindtyd en veroordeling van die ongeredde mense voorspel, beslis gaan gebeur!
Ongeveer 700 jaar voor Christus is sy persoon en werk as Messias deur Jesaja voorspel; meer uitvoerig as in enige ander O.T. boek. Jesaja voorspel die Messias se maagdelike geboorte as die Kind van God (7:14); hy profeteer oor Jesus as die lydende Messias wat deur sy lyding redding vir sondaars moontlik maak (Hfs. 53); en voorspel Jesus as die Ewige Vredevors is (Hfs.9:5-7).
Jesaja eindig sy profesieë op ʼn ernstige noot. Net soos wat God red, so sal Hy ook die goddeloses oordeel. “Die Here kom om al wat leef, te straf met vuur en swaard, Hy sal baie laat sterf” (66.16). Elkeen wat nog nie hulle saak met God reggemaak het nie, moet hierdie waarskuwing hieroor ter harte neem en hulle bekeer sodat hulle deur die bloed van die Lam van God gered kan word.
Ons kan vir seker weet dat die besluit oor watter geskrifte kanoniek is nie van ʼn enkele mens of kerklike liggaam gekom het nie maar van gelowiges wat deur God so gelei is. Jesus het self geleer dat die Woord onveranderlik en selfstandig is. God was nie van mense afhanklik om sy doel met die Bybel te bereik nie. Jesus sê tydens sy Bergrede: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie”(Mt.5:18).
Hiermee plaas Jesus sy stempel van goedkeuring op die Bybel. Paulus skryf uit volle oortuiging aan die gemeente in Rome: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom.15:4).
Elkeen van die 66 boeke van die Bybel het iets bevorderlik vir ons geestelike lewe te sê. Dis immers die doel van die Bybel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Alhoewel sommige boeke makliker en ander weer moeiliker is om te verstaan, voeg God daarmee tot sy openbaring aan die mens by. Sy onthulling aan die mens word met die finale hoofstukke van die Openbaringboek voltooi. Wat sal ons ten slotte van al hierdie dinge sê? Dankie Here vir die Bybel in ons eie taal!