Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Isebel adem ʼn gees wat by alle heidene voorkom - die drang om te wil beheer. Ons besef nie hoe sterk die vlees is nie. Dit manipuleer, domineer en intimideer mense soos Isebel met Israel gedoen het!
SATAN MISLEI
Ds A.E. van den Berg
“En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig”(2 Kor.11:14).
Toe ons volk hul staatsmag aan heidene oorhandig het, is die Christen-grondwet afgeskaf en het dit op politieke en kerklike gebied met iets anders as die nag begin donker word. Teoloë het met die Bybel begin peuter en dwaalleer as nuwe teologiese insig aangebied. Mense het dit gekoop, Sommige misleiers het akademiese toekennings vir hul aanranding van God se Woord ontvang!
Waar begin teologiese misleiding? By mense wat sekere dinge uit die Bybel haal of daaraan toevoeg en glo dat hulle na die stem van God geluister het. Dat hulle wel ʼn stem gehoor het, word nie betwyfel nie. Dit was egter nie die stem van God nie, maar dié van Satan. God se stem word duidelik in die Bybel gehoor. Daarom word dit die “Woord van God” genoem.
Omdat die Bybel die enigste objektiewe waarheidsmaatstaf is, staan Satan die geure in die Tuin van Eden teen. Let op sy gesprek met Eva: “En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie ... anders sal julle sterwe. Toe sê die slang ... Julle sal gewis nie sterwe nie” (Gen.3:1-4).
Satan slaan met misleiding ʼn wig tussen God en mens in en laat mense aan die waarheid van die Bybeltwyfel en oortuig hulle om eerder op hul eie insig staat te maak. Hy doen dit so slu, dat baie teoloë en leraars dit nie raaksien nie!
Laasgenoemdes glo vas dat hulle God dien terwyl hulle in werklikheid die saak van Satan dien. Terwyl hulle met dinge van die duisternis besig is, lyk hulle soos diensknegte van die lig. Jesus waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mt.7:21-23).
Misleiding laat mense op hul eie ondergang afpeil. Daarom moet gelowiges waak en gereeld na binne kyk. Dawid bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps.139:23,24).
Dawid het die moontlikheid van misleiding besef:“Die afdwalinge — wie bemerk hulle? Spreek my vry van dit wat verborge is” (Ps.19:13). Mense word maklik mislei. Daarom is leiding van die Heilige Gees geestelik onontbeerlik. Jesus sê in Joh.16:8 dat die Heilige Gees mense sal:“...oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel”.
Misleiding word slegs deur gehoorsaamheid aan God se Woord besweer: “Here maak my lewend na u woord!” (Ps.119:107). Jesus bid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh.17:17).
Satan volg ʼn sekere misleidingstrategie. Hy speel eers met die mens se verstand deur hom te laat glo dat hy die waarheid beet het. Daarna laat hy die leuen soos ʼn voor die handliggende waarheid lyk. Wees versigtig – omdat iets na gesonde verstand lyk, beteken dit nie dat dit waar is nie; slegs as dit onweerlegbare Bybelse steun het.
Toe Jesus Satan in die woestyn ontmoet het, het Hy nie met hom geredeneer nie, maar slegs die Woord van God aangehaal en daarmee die leun verpletter. En dis wat elke gelowige met enige twyfelagtigheid moet doen: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr.4:12).
Sodra jy met Satan en sy gesante redeneer, maak jy ʼn teiken van jouself. Dit was in die tyd van Paulus ʼn probleem in die gemeente van Korinthe. Valse profete met gladde bekke het sekere gemeentelede met dwaalleer mislei. Paulus vra hulle hoe hulle oor God se Woord dink? Die sluheid van die dwaalleraars moet nooit swaarder as die kennis van God se Woord weeg nie.
Paulus noem die valseleraars Satan se dienaars omdat hulle blatant oneerlik is, nie deur Christus geroep is nie en die gemeente besmet. Hulle het die gemeente se toewyding aan Christus so in gedrang gebring, dat hulle Hom nie meer met kinderlike opregtheid en oorgawe gedien het nie.
Dit wat destyds in Korinthe gebeur het, gebeur nog steeds. Dwaalleraars begin deur sekere geloofswaarhede te bevraagteken. Hulle is soos ’n bruid, wat skielik allerhande twyfel oor die bruidegom begin kry en nie meer met ’n onverdeelde hart en opregte liefde die huwelik wil ingaan nie.
Een van die dodelikste dinge wat met ʼn kerk kan gebeur, is leraars wat opreg met God geleef, sy beloftes kinderlik geglo het en toe ongehoorsaam aan sy Woord geword het. Hul geloof word so aangetas, dat hul eertydse liefde vir God en die waarheid verdwyn en hulle hul kudde gevolglik met leuens besmet. Hulle verkondig nie die Jesus van die Bybel nie, maar ʼn ander Jesus en ʼn ander evangelie en sodoende word ʼn vreemde gees in die kerk gevestig.
Pasop, nie alles wat van Jesus gepreek word is altyd waar nie. Die gees wat in dwaalkerke teenwoordig is, is nie die Gees wat Christus vir sy kerk gegee het nie. Elke preek wat met ’n oop Bybel in die hand verkondig word, is nie altyd van God nie. Dis die gees van die dwaling wat die kerklike toneel oorheers.
Hoe gaan gelowiges in hierdie kerklike donkerte die waarheid van die leuen onderskei? Net op een manier; leer jou Bybel goed ken. En dis ons grootste probleem – mense ken nie die Bybel nie. Hulle ken miskien ʼn paar Bybelboekname, en weet min of meer waar die boeke van die Bybel staan, maar dis omtrent al! Kennis wat jou teen leuens beskerm, ontbreek. Wanneer ken ʼn mens die Bybel? Deur teksverse op te kan sê? Nee, wanneer jy op grond van die Bybel die leuen van die waarheid kan onderskei. En dit kom slegs deur getroue Bybelstudie. Die Bybel is ons enigste kompas in die donker wêreld van kerklike verval en die enigste manier om dwaalleer te beveg.
Die Bybel is vol waarskuwings. Wat is die laaste een?“...as iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek .... wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe....” (Openb.22:18,19). Dis ʼn waarskuwing aan alle mense wat met God se Woord peuter!
Neem Paulus se woorde aan die Galasiërs ter harte: “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Ken jou Bybel!