Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Veral in ons liefde vir ons naaste word ons gehoorsaamheid aan God soms baie erg beproef. Wanneer dit in sulke tye so moeilik is om gehoorsaam te bly moet ons steeds onthou dat God se liefde die enigste uitkoms is en daaraan vashou deur bedaard en rustig voort te werk volgens sy Wil.
AAN DIE VOETE VAN JESUS
Ds A.E. van den Berg
“ .... en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf” (Luk.7:38)
By geleentheid loop ʼn man by ʼn klomp verveelde seuntjies verby en vra: “Waarom speel julle nie?” Een antwoord: “Ons wil graag oorlog-oorlog speel, maar ons kan nie” antwoord hy mismoedig. “Waarom nie?” vra die man verbaas. “Omdat elkeen van ons die generaal wil wees”, kom die antwoord.
Dit onderstreep een van die grootste probleme van die tyd – selfverheffing en ʼn grootheidswaan wat die eie-ek-koning in die lewe laat kraai, weg van Jesus af. Daarenteen bring niks jou so na aan Jesus as nederige onderdanigheid nie. Johannes die Doper sê: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh.3:30).
Ongelukkig ontbreek nederigheid dikwels by mense wat Christus bely. Dan gebeur dit dat God iemand wat nie eens ʼn kerkganger is nie, gebruik om hulle te beskaam. So het die Barmhartige Samaritaan kerkmense kom wys hoe naasteliefde in die praktyk lyk.
So gebeur dat ʼn straatvrou by geleentheid kerkmense ʼn les in nederigheid kom leer het. Jesus was aan die huis by ʼn gesiene Fariseër en terwyl hulle eet, het ʼn straatvrou ingebars en aan Jesus se voete neergeval. Miskien het hulle haar herken – sy was die handelsware van die plaaslike bordeel.
Om haar aan die voete van Jesus te sien, moes vir die gasheer ʼn verleentheid gewees het. Dan staan daar geskryf: “ .. en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf”. God het in haar lewe ingegryp en sy het die werke van die duisternis afgelê en ʼn nuwe lewe in Jesus aangegryp.
God doen wonderlike dinge vir sy kinders. Hy dra ons bv. soos ʼn vader sy kind sou dra as die lewenspad moeilik raak: “... en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos 'n man sy seun dra” (Deut.1:31). Jes.49:2 sê dat Hy ons nie net dra nie, maar ook beskerm. Wat doen ons vir Hom? En waar wil Hy ons hê? Aan die voete van Jesus en met goeie redes hiervoor!
Ons is immers aan Jesus die hoogste eerbied en verheerliking verskuldig. “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!” (Ps.150:6). Let op die straatvrou in die huis van die Fariseër. Hoe het haar optrede nie van eerbied en verheerliking van Jesus gespreek nie. Sy het geweet dat haar sonde groot is en net Jesus haar daarvan kan verlos. In die huis van die Fariseër buig sy as ʼn onderdaan voor die Koning van alle konings. Ja, elke knie sal voor Hom buig of dit Fariseër of straatvrou is!
Om aan die voete van Jesus te wees, het haar nie net ʼn gevoel van geborgenheid gegee nie, maar ook oor sekerheid van haar verlossing. Die ou dinge in haar lewe was verby en alles het nuut geword! Aan die voete van Jesus was vir haar ook ʼn boetedoening en het sy in sondeberou geween. Hoe laer ʼn sondaar voor Jesus buig, hoe sekerder is hy van sondevergifnis. Sulke mense word bruikbaar vir God want Hy maak hulle vissers van mense.
Aan die voete van Jesus verander sondaars van ʼn kind van die satan na ʼn kind van God. Luk.8 vertel van ʼn man aan die voete van Jesus; die besetene van Gadara. Hy wou aanvanklik niks met Jesus te doen hê nie. Nadat Jesus die bose geeste uit hom gedryf het, lees ons: “...en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit ....” (:35).
Aan die voete van Jesus vind gelowiges wat smeek, dikwels verhoring van hul gebede. Wanneer pleit ʼn mens op sy ernstigste? Op sy knieë. As jou hart aan flarde is, vind jy slegs aan die voete van Jesus die nodige genesing.
In Luk.8 lees ons van ʼn sekere Jairus, die hoof van ʼn sinagoge. Sy 12 jarige dogtertjie het op sterwe gelêwaarna hy hom na Jesus gehaas het: “.... en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom”(:41). Sy gebed is verhoor en sy dogtertjie is genees.
Daar was vir Jesus se leerlinge geen beter plek as om aan sy voete te sit nie. In hierdie posisie het hulle, vol bewondering en afwagting elke woord van Jesus ingedrink. Dink hier aan die Bergpredikasie. Nadat Jesus gaan sit het, het die skare in afwagting van sy leer aan sy voete gaan sit. “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:28,29).
Aan die voete van Jesus is die beste plek om ons dankbaarheid teenoor Hom te betoon. In Luk.17 lees ons van 10 melaatses wat deur Jesus genees is en net een het omgedraai om Hom te dank. “Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?” (:17).
Ondankbaarheid is ook die probleem van ons tyd. Min mense is dankbaar vir dit wat hulle uit Jesus se hand ontvang. Mense tel nie hul seëninge nie maar kla eerder met ʼn fyn witbrood onder die arm. Hoe moet God daaroor voel? Net soos ʼn vader wat goed na sy kinders omsien, maar hulle kla gedurig!
Miskien het dit tyd geword dat ons weer laag aan die voete van Jesus buig en Hom vir al sy weldade dank! “... Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!” (Ps.103:1,2).
Aan die voete van Jesus keer Hy mense se lewens soos dié van die straatvrou ingrypend om. Wat was haar naam? Joh.11:2 sê sy was Maria wat by haar broer Lasarus en suster Martha in Betanië gewoon het. “En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was” . Jesus was lief vir hulle en het dikwels by hulle tuis gegaan, ja so lief dat Hy by Lasarus se dood geween en hom opgewek het.
Maria se bekering het haar lewe ingrypend omgekeer. Sy was bv. een van die eerste vroue wat die oggend van die opstanding by Jesus se graf was om sy liggaam te balsem soos die gebruik was. Ja, Maria het weer eens olie vir Jesus gehad al was Hy dood soos wat hulle aanvanklik gedink het.
Geen mens kan neutraal teenoor Jesus staan nie. Elkeen sal standpunt inneem; òf vir òf teen Jesus. In sekere gevalle sal dit selfs van sterk getuienis vir Jesus afhang. Tydens Paulus se verhoor voor die Joodse Raad lees ons: “En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om 'n Christen te word” (Hand.26:28).
Wie voor Jesus buig, word ʼn nuwe mens al was hy die grootste sondaar. Maria is ʼn wonderlike voorbeeld hiervan – ʼn lewe wat deur die Heilige Gees van ʼn straatvrou na geloofsvrou omgekeer is. In ʼn wêreld van liefdeloosheid, magsug, dronkenskap, eergevoeligheid en ʼn gebrek aan nederigheid, selfs in kerklike kringe, is daar vir die kind van God geen beter plek as aan die voete van Jesus nie. Aan sy voete skitter God se grootheid soos op geen ander plek nie!
Niks plaas die gelowige so buite die satan se mag as aan die voete van Jesus nie. Waar sit jy vanoggend? Aan die voete van Jesus of in die kring van die spotters waarvan Ps.1 praat? Dis of die een of die ander. Net jy weet!