Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die gees van Isebel rig ons volk oneindige skade aan. Gesag word afgetakel. Rolle word omgeruil - mans tree soos vrouens op en vrouens soos mans. Gesinne spat uitmekaar. Kerke verlaat die waarheid vir dwaalleer. Politici intimideer, manipuleer en domineer. Niemand is meer eerlik nie!
HERLEEF SODOM EN GOMORRA?
Ds A.E. van den Berg
Genesis 1 en 2 beskryf die verhaal van die skepping en God se wil vir die mens. Nadat die eerste mensepaar in die tuin van Eden geplaas is, het dinge tot en met die sondeval reg verloop en is God se wil gehoorsaam. Ná die sondeval het die mens aan God ongehoorsaam geword en ʼn nuwe meester gekies – Satan.
Satan lê sedertdien struikelblokke op die mens se weg om hom te laat struikel. Verwarde geslagsbewustheid is een daarvan. God het mense se geslagtelikheid aan die begin van die menseskepping vasgestel en onderskeid tussen man en vrou getref. Jesus herhaal God se wil: “... Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef...” (Mt.19:4,5).
Daarom is heteroseksualiteit God se bloudruk vir die huwelik en alles wat daarvan afwyk, nie God se wil nie. Dit maak van homoseksualiteit ʼn gruwel en poog om God se skeppingsorde om te keer en ʼn gruwel wat selfs gemeenskappe besmet. Homoseksualisme het bv. Sodom en Gomorra so besmet, dat God die twee stede met vuur en swael verwoes het.
Ongelukkig was hierdie gruwel nie net tot Sodom en Gomorra beperk en met die verwoesting van die stede finaal uitgewis nie. Dit het ook na naburige stede uitgekring: “...soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat ... agter vreemde vlees aangeloop het...” (Judas :5).
In die OT is homoseksualisme selfs die doodstraf opgelê ten einde te verhoed dat God se skeppingsorde oneer aangedoen word. Hierdie gruwel is ʼn vergryp teen hierdie ordening en is van meet af aan deur kerke veroordeel.
ʼn Paar jaar gelede het sekere kerke, in ʼn poging om te verhoed dat mense die kerk verlaat, die Bybelse siening oor homoseksualisme geminag. Hulle wou daarmee ʼn meer positiewe beeld vertoon deur mense te gee wat hulle wou hê. Om hul meer verbruikersvriendelik te maak, is sedelose lewenswyses ontsondig en die ontsondiging selfs aan die groot klok gehang.
Die geskiedenis herhaal homself. Judas, die broer van Jesus, waarsku in sy Sendbrief dat daar al destyds mense in die kerk was wat voorgegee het om Christene te wees, maar dit nie was nie. Hulle het wel iets van God se genade verstaan maar ʼn platvorm vir sedeloosheid daarmee geskep.
Die ontsondiging van homoseksualisme, selfde geslagsverhoudings- en huwelike, veroorsaak soveel verwarring, dat mense wat God waarlik liefhet, daardiekerke by die duisende verlaat. In Joh.14:15 eis Jesus: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie”. Kerke wat sedelose praktyke laat begaan, het Jesus nie lief nie en laat gelowiges ontuis daarin voel.
Om homoseksualisme as ʼn alternatiewe vorm van erotiek te verkondig, is ʼn leuen wat uit die diepte van Sataniese duisternis in kerke te lande gekom het. Homoseksuele agendas word stelselmatig ingewerk. Let bv. op die vermaaklikheidsbedryf. En al hoe meer verwyfde mans word as TV aanbieders aangewend en is duidelik aan hul lyftaal, stemtoon en optredes uit te ken. Geen wonder dat al hoe meer mense met geslagsidentiteite sukkel nie!
Homoseksualisme kan hele gemeenskappe besmet soos wat destyds met Sodom en Gomorra gebeur het: “Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken” (Gen.19:4,5).
Let op die woorde“jonk en oud asook die hele bevolking, almal saam”. Dit vertel die verhaal van ongekende sataniese wellus wat twee gemeenskappe so ernstig besmet het, dat God kragdadig ingegryp het. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7). Paulus waarsku:“...want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe...” (Rom.8:13).
Paulus se woorde aan die gelowiges in Rome klink vandag profeties van aard:“...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom1:32).
Let op die woorde “...al ken hulle die verordening van God goed”. Kerke stoot die ware kennis van God bewustelik opsy: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde” (Jak.4:17).Ontspoorde kerke moedig ander kerke aan om hul voorbeeld te volg en haal hul die ewige verdoemenis op die hals!