Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde is magtig en kan ander baie gelukkig of baie seer maak. Woorde is ook openbarend oor wie jy werklik is. Jou karakter skyn sommer gou deur jou woorde. Wees versigtig wat jy sê – jy het 'n veranderwoordelikheid teenoor ander sowel as teenoor jouself. Dink vóór jy praat, en wees daarmee anders as die meeste mense wat onnadenkend leef.
MISLEIERS IN KERKLIKE GEWAAD
Ds A.E. van den Berg
“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie...”(2 Thess. 2:11,12).
Openb.20:8 waarsku Johannes dat Satan net voor die wederkoms losgelaat gaan word: “...om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is”. Sodra dit gebeur, moet gelowiges weet dat Jesus oppad is. Dit gebeur alreeds.
Satansagente slaag daarin om mense te mislei deur die waarheid vir die leuen te verruil. Dit het al eeue gelede in die Tuin van Eden gebeur toe Eva oorreed is om van die verbode vrug te eet en in sonde verval het. Jesus sê van Satan: “…Hy was ’n mense-moordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie…omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh.8:44).
Satan is die baas van die dwaalleerindustrie met duisende wat vir hom werk; ook in kerke. Die ergste is dat dwaalleraars nie altyd besef waarmee hulle besig is nie. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29). Die groot probleem by kerkmense is hul gebrekkige Bybelkennis. Dit maak mense die prooi van Satan maak en dit help hom om mense van die waarheid af weg te hou.
Namate die einde van die wêreld nader kom, neem Satan se werkers toe, nie net in Amerika wat vrot van hulle is nie, maar ook in Afrika met towenaars in kerkgewaad wat mense met tekens en wonders mislei. Die bekende Nigeriese profeet TB Josua wat in 2021op 58 jarige dood is, was ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hy was ’n opperste towenaar in diens van Satan!
Ek gebruik hom as voorbeeld omdat sy optrede in beginsel met alle godsdiens-towenaars ooreenstem. Wat by die een gevind word, is ook by ander werksaam omdat hulle ʼn gemeenskaplike hoof het –Satan!
TB Joshua se kerk het as die Sinagoge Kerk van Alle Nasies bekend gestaan en meer as 100,000 lidmate gehad. Hy is deur sy volgelinge man in die sinagoge genoem. Hoe Joshua die sinagoge met die Christendom verbind het, is ʼn raaisel!
Hierdie ‘towenaar’ het hom daarop beroem dat hy wonderwerke kon doen soos bv. om water in die bloed van Christus te verander. Daarvoor het hy ’n reuse watertenk met krane op sy kerkterrein aangebring vir mense om mee te was. Mense wat daar was, het ook gesien hoedat mense wat die water gedrink het, met stuiptrekkings neergeval, gebraak en heeltemal berserk geraak het.
In Joshua se kerk is daar talle muurskilderye. Een daarvan is ’n voorstelling van Jesus wat aan ’n paal vasgemaak en deur kinders met swepe geslaan word. Die onderskrif lees: ”Deur Jesus se wonde het daar vir ons genesing gekom”. Dit stuit ʼn mens teen die bors! Dis mos nie Jesus se geseling wat genesing gebring het nie, maar sy kruisdood. Hy is ook nie deur swart kinders nie, maar deur Romeinse soldate gegesel.
In Nigerië is derduisende Moslems en Christene al vermoor. Desondanks is daar in Joshua se kerk ’n groot opskrif in Engels en in Arabies: “Daar is geen ander god as Allah nie” met aanhalings uit die Koran. Dis ’n ontkenning van die Christenboodskap dat God sy Seun gestuur het om vir sonde te sterf. Wat het Joshua daarmee probeer doen? Om vrede tussen ware en valse godsdiens te maak? Enige middel-van-die-pad-strategie loop altyd op ’n aftakeling van die waarheid van die Evangelie uit.
“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie” (1 Joh.2:22,23).
“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh.10,11).
In Hand.8:9 sê Lukas van Simon die towenaar wat die Samaritane met sy tekens verbyster het: “En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God”. Dieselfde misgissing duur tot vandag toe nog voort!
Towenaars is meesters in hipnose. Hulle bring hul volgelinge, veral siekes, onder valse indrukke dat hulle genees is sonder dat enige genesing plaasgevind het. Dis die vloek van outosuggestie en staan geil in talle Charismatiese kerke in die blom.
By geleentheid berispe Paulus die towenaar Elimas: “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand.13:10).
In Joshua se kerk is daar geen Bybel nie, slegs video’s van sy genesing wat onophoudelik op reuse skerms vertoon word. Baie daarvan is al te duidelik mee gepeuter! Dwaalleraars glo dat mense tot bekering sal kom as hulle wonders sien gebeur. Dis ʼn lelike misgissing. Jesus het nooit geleer dat mense gered sal word deur wonderwerke te aanskou nie; slegs deur die bekering!
Becky Kiser, ’n Amerikaanse geestelike berader wat spesifiek met besetenheid werk, het ’n paar jaar gelede die opset in Nigerië gaan bekyk en daarna gesê: “Ek wens geen mens dieselfde ervaring toe as wat ek gehad het nie, veral nie om so bedrieg te word nie!” Sy skryf dat sy in daardie kerk ’n bose krag soos nog nooit tevore aangevoel het. Die gemeentelede was almal in ’n beswyming (zombies). Dis wat massa-hipnose aan mense doen!
Die meeste moderne towenaars kom uit Charismatiese kerke; misleiers wat op mense se goedgelowigheid teer en sê dat hul in die naam van Jesus kan genees. Jesus waarsku: “Baie sal in daardie dag vir My sê Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:22, 23).
Towenaars flous mense met wondertekens, veral as dit met Bybelverse versier is. Sommige glo dat hulle met genesingsgawes gebore is. Dis ʼn leuen. Die Bybel leer dat geen geestesgawes ooit by geboorte aan ʼn mens gegee word nie. Talle van die apostels het dit eers later in hul bediening ontvang.
Wie glo dat hulle bonatuurlike kragte ontvang, verkeer op dun ys. Dit kom baie in spiritisme voor en is nie die manier waarop Jesus en die apostels siekes genees het nie. Geen mens het nie verborge kragte nie. Dis suiwer towery!
Towenaars spog met dit wat hulle kan doen. Is die vrug van die Gees dan nie juis nederigheid nie? Nie een van die apostels het ooit oor hul wonders gespog nie. Toe Elia die Baäl-profete op Karmel uitgedaag het, het dit juis nie om sý eer maar nie om God s’n gegaan.
Die harde werklikheid is dat, soos wat die Bybel voorspel, towenaars in kerklike diens kort voor die wederkoms oorhand gaan toeneem om mense te mislei. Miljoene mense maak sulke towenaars skatryk met milde donasies.
In 2 Kor.11:14 waarsku Paulus dat Satan hom in ’n engel van die lig verander. Gelowiges moet waak en bid om nie mislei te word nie. Baie van die towenaars is welsprekende ekstroverte en haal Bybeltekste aan om mense mee te beïndruk.
Die vraag op die einde is: Waarom stroom mense na sulke towenaars en opwekkingspredikers? Omdat hulle honger na geestelike voedsel is. En dit word slegs gestil as jy met die brood van die lewe versadig word – Jesus Christus. Wie op verkeerde plekke na versadiging soek, bly permanent honger. Daar gaan hoegenaamd geen nuwe lig in so ʼn persoon se lewe op nie. Dit word eerder al hoe donkerder in sy lewe!
Petrus waarsku gelowiges deur die eeue: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.5:8). Bid en waak. Ken jou Bybel en jy sal nie prooi word nie!