Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sien ons in ons land vanaf 1994 meer volop hierdie gesig wat Dawid in Ps 73 van die goddeloses beskryf...: "...gesond en vet is hulle liggaam... die geweld bedek hulle soos 'n gewaad. Hulle oë puil uit van vet, die inbeeldinge van die hart loop oor. Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking... hulle stel hul mond teen die hemel... kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!" En dit is nie die uitgeteerde, verdrukte Christen-Afrikanervolk wat hier bedoel word nie...
GOD HAAT ONREG
Ds A.E. van den Berg
“Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag.....” (Prediker4:1).
God haat onreg. Dis 'n pessiekte wat 'n volk besmet en later uit mekaar laat val. Dit tas regspleging onder die voorwendsel van geregtigheid vir almal aan en verdof die lig van almal wat opreg leef. Daarom moet gelowiges dit bewustelik teenstaan. Om dit te doen, is 'n deeglike kennis van die Bybel nodig. Die Bybel is 'n gids deur die mynveld van onreg en sê vir ons wat reg of verkeerd is.
Onreg besoedel regspleging. Regsgesag kom van God. Wie daarmee gemoeid is, is vir hul optrede eerstens aan Hom verantwoordelik. “En hy het aan die regters gesê: Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak” (2 Kron.19:6).
Israel het beter wette as al hul buurlande gehad. Baie van die wette het spesifiek oor die voorkoming van onreg gehandel. Die regsbank mag bv. nie weens meegevoel met booswigte uitspraak in hulle guns lewer nie. Salomo skryf: “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle al twee is vir die HERE ’n gruwel” (Spr 17:15).
God het Israel beveel om nie aan die wil van ‘n bose meerderheidsgroep toe te gee nie omdat dit maklik tot 'n verdraaiing van die regspraak lei: “... Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie....” (Ex.23:1).
In die Bybelse tyd het 'n uitgesoekte regsbank regssake hanteer. Uitspraak is by wyse van 'n meerderheidstem gelewer. Gevolglik kon mense mekaar beïnvloed om verkeerde besluite te neem: “Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê; en die hele volk moet sê: Amen” (Deut.27:17).
Vandag skuil booswigte agter die masker van 'n regstelling van sg. onreg van die verlede en pleeg onder die voorwendsel van geregtigheid vir almal nog groter onreg as ooit tevore. Sulke onreg word dan met onregswetgewing toegesmeer en is eie aan Afrika. Elke troon van onreg is 'n troon van die Satan en wie sulke wette maak, het die Satan as beskermheer!
Gelowiges verfoei onreg. Hulle weet dat daar 'n dag van afrekening kom: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Daarenteen verskaf eerbaarheid gemoedsrus: “Liewer ’n bietjie met geregtigheid, as ’n menigte van inkomste met onreg” (Spr.16:8). Dit wat op oneerbare wyse bekom word, lei gereeld tot onheil: “Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg...” (Jer.22:13).
Onreg maak mense ryk en gewoonlik misdadig. Mediaberigte van korrupte politici wat aangekeer word, is daaglikse nuus. God eis van gelowiges om hulself te ondersoek: “...as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie” (Job 11:14).
Wat vereis God van 'n eerbare leier? “Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersing versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie” (Jes.33:15).
Wat vir God verkeerd is, is ook vir sy kinders verkeerd. Daarvoor is gereelde selfondersoek nodig: “Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees.” (Eseg.18:31). Selfondersoek en regstellings gee aan gelowiges wonderlike geesteskrag.
Alles wat deur onreg bekom is, moet teruggegee word. Saggeus is 'n treffende voorbeeld: “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Luk.19:8).
Die Bybel gebruik gereeld landbou-taal om God se wil duidelik te maak: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God.... is julle” (1 Kor.3:9). Sonde maak harte hard en onbruikbaar. Dit moet soos 'n braakland gebreek en die onkruid uitgehaal word alvorens God se saad daarin kan ontkiem en vrug dra. Salomo waarsku: “Wie onreg saai, sal onheil maai....” (Spr.22:8).
Jeremia sê: “Want so sê die HERE aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle ’n braakland en saai nie onder die dorings nie” (Jer.4:3).
Paulus skryf aan die gemeentes in Galasië: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal.6:7.8).
Booswigte dink dat God onreg nie raaksien nie. Dis nie waar nie! “Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer .... daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie” (Deutr.23:14). Dawid sê: “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4).
Die geskiedenis leer ons dat onreg nooit goeie vrugte oplewer nie. Met verloop van tyd verkrummel sulke regerings weens 'n gebrek aan fondamente. Wie die swaard van onreg swaai, kap homself spoedig self raak. Churchill het gesê wie op 'n tier ry, beland gou in sy pens!
Onregsdienaars haat gelowiges: “’n Man van onreg is vir die regverdiges ’n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel ’n gruwel” (Spr.29:27). Dit kan gelowiges soms magteloos teen booswigte laat voel, so asof hulle in die modderpoel van onregskepping versmoor word. Desondanks durf gelowiges nooit ophou om onreg aan te spreek nie. God straf dit op sy tyd. Bose heerskappye eindig soos wat met Babel gebeur het toe sy koning gedink het dat hy met God kon meeding. God het hom soos die Satan van ouds neergevel:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het” (Jes.14:12-14).
Onreg walg God: “Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap....?” (Ps.94:20). “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie” (Jes.59:14).
Die Heilige Gees vervul gelowiges met 'n heilige weersin in onreg. Daarenteen seën God elkeen wat opreg leef: “Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen” (Ps.106:3). Moenie ophou om oor onreg te praat nie. Speek dit by elke geleentheid aan. Onthou: God het opregtes lief. Leef opreg. Jy het net een lewe om dit te doen. Jesus kom as Regter!