Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ontvang 'n mens die ewige lewe? Hoe gebeur dit dat 'n mens daaraan deel kry? Die ewige lewe dui nie slegs ons voortbestaan ná die opstanding aan nie maar dui ook op die huidige terwyl ons nog op aarde is. In Johannes 5 verduidelik Jesus self dat ons nou al vrygespreek is en nie die oordeel ingaan soos diegene wat nie gered is nie en wie by die oordeelsdag veroordeel sal word. Selfs afgestorwenes sal dan uit hulle grafte opstaan en dié wat gered was sal reguit die ewige lewe ingaan maar die ongereddes sal dan voor God ter veroordeling staan.
TYD IS KOSBAAR
Ds A.E. van den Berg
“Wandel in wysheid teenoor die wat buite is en koop die tyd uit” (Kol.4:5).
Paulus het hierdie brief aan die gelowiges in Kolosse geskryf, 'n Griekse stad op Turkse bodem, ongeveer 160km noordwes van Efese. Paulus het nie die gemeente gestig nie. God het Epafras, ʼn plaaslike gelowige, daarvoor gebruik. Paulus het in die drie jaar wat hy in Efese was, die gemeente gereeld besoek.
Waarom was dit dan vir Paulus nodig om aan hulle te skryf? Omdat dwaalleer en kettery die gemeente bedreig het. Die verskil tussen dwaalleer en kettery is dat dwaalleer maak dat mense die kerk verlaat terwyl ketters dit nie verlaat nie maar dinge verkondig wat van die kerk se leer afwyk en dus mense verwar.
In Kolosse het sekere gemeentelede die genoegsaamheid van Jesus se offer aan die kruis nie aanvaar nie. Vir redding moes dinge soos bv. die besnydenis, bygevoeg word – Christus plus en nie Christus alleen soos wat die Bybel leer nie. In hoofstuk 2 noem Paulus dit 'n eiesinnige godsdiens (:23).
Paulus kon die saak nie daar laat nie en het 'n brief geskryf – die regte ding om te doen. Gelowiges is verplig om die waarheid te verdedig. Calvyn het gesê net soos wat 'n hond sal blaf as sy eienaar aangeval word, kan 'n gelowige ook nie stilbly as die waarheid van sy hemelse Heer aangeval word nie!
Paulus se brief aan die Kolossense bestaan uit drie hoofdele. Eerstens wys hy op die genoegsaamheid van Christus. Sondaars het niks meer as Jesus nodig om in die ewige geluksaligheid te beërwe nie. Tweedens vermaan hy die lidmate dat die Joodse wette uitgedien was. Gelowiges het ʼn nuwe wet nl, die liefde:
“’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar hê” (Joh.13:34,35).
In die derde deel moedig Paulus gelowiges aan om anders as die onbekeerdes op te tree: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is en koop die tyd uit”. Dit was die era van Griekse filosowe en die mense van Kolosse versot op filosofie; die wetenskap van wysheid. Die teksvers sê dat wysheid nie in die verstand nie maar in lewenswandel lê. Wyse mense leef reg.
Die teksvers onderstreep een element wat 'n wyse lewenswandel kenmerk nl. tyd. Dwase mense mors tyd; gelowiges benut dit reg. Tyd is 'n gawe van God. Wie dit vermors, gaan oneerbiedig met sy gawe om. Tydmors is sonde!
Wat maak jy met jou tyd? Besef ons werklik wat tyd is? Gestel 'n bank betaal elke oggend R86,400 vir gebruik in jou rekening in. Die balans word nie na die volgende dag oorgedra nie. Saans neem die bank dit wat jy nie gebruik het nie terug. Wat sal jy doen? So veel as moontlik daarvan gebruik!
Elkeen het so 'n bank. Elke oggend word ons rekening met 86,400 sekondes gekrediteer en dit wat nie gebruik word nie saans teruggeneem. Geen balanse word oorgedra nie. Daar is ook nie oortrokke fasiliteite nie. Elke oggend word 'n nuwe rekening vir jou geopen en saans gesluit. Wat jy nie daarvan gebruik nie is jou verlies. Sal jy dit vrywillig vermors? Dit sal dom wees!
God wil hê dat gelowiges wys met hulle tyd moet omgaan. En die rede hiervoor is dat tyd aanstap en die lewe aan die beweeg is. Tyd vlieg. Aan die einde van elke jaar sê ons: “Sjoe, hoe het hierdie jaar darem nie verbygevlieg nie!” Mense het 3500 jaar gelede al so gesê. Moses skryf: “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ’n gedagte.... want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (Ps.90:9.10).
Hoe maak ons die beste van elke dag? Deur ons tyd sinvol te benut. Die kind van God weet dat dit 'n gawe van God is en dat God rekening daarvan gaan eis soos die eienaar in die Gelykenis van die Talente gedoen het.
Wat is tyd werd? Begin by 'n jaar –vra 'n student wat 'n jaar moes herhaal. Om die waarde van 'n maand te besef , kan 'n moeder wat aan 'n prematuur baba geboorte geskenk het en sake daarna nie goed verloop nie, gevra word. Wat is die waarde van 'n week? Vra maar die redakteur van 'n weekblad. Wat is die waarde van 'n dag? Vra vir 'n dagloner wat vir sy gesin moet sorg. Wat is die waarde van 'n minuut? Vra iemand wat 'n trein of vliegtuig verpas het! En die waarde van 'n sekonde? Vra iemand wat ter nouer nood aan die dood ontkom het. Wat is die waarde van 'n breuk van 'n sekonde? Vra een wat die silwermedalje tydens 'n spele gewen het! Tyd is kosbaar, selfs 'n breukdeel.
Tyd is die brug waaroor ons almal loop. Die lewe is die beginpunt en die dood die eindstreep. Ons is reisigers tussen hierdie twee punte. Die wete dat die dood voorlê, moet ons nie droewig maak nie. Al wat saak maak, is hoe ons stap. Wys of dwaas? Om dit wys te stap, begin by die bekering en kring daarna in liefde vir God en die medemens uit. Oral waar jou lewenspad met mense kruis, is dit vir hulle voordelig – gesinslede, vriende, kollegas ens.
Die lewe is soos 'n skip op vaart. Terwyl jy aan boord is, moet jy dinge doen wat reg is vir die dag as jy in die hawe van die ewige heerlikheid aankom. God gee ons kans om ons vir hierdie aankoms voor te berei – Hy gee ons tyd. Jy kan nie onvoorbereid aan wal gaan nie.
Die Bybel vertel ons van sulke onvoorbereide mense: “ En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:10-12).
Wat 'n mens met sy tyd doen, getuig van sy verhouding met God. Dis die boodskap van Paulus aan die Kolossense. “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is en koop die tyd uit”. Deur omsigtige tydsbesteding wys gelowiges vir ongelowiges hoe om met God se gawe om te gaan. Met die woorde en koop die tyd uit sê Paulus dat tyd so gebruik moet word asof jy 'n tekort kan hê en daarvan sal wil aankoop.
Die heidene in Kolosse het verveeld op pleine rondgehang en na die filosowe geluister. Tyd was vir hulle nie soos gereedskap waarmee gewerk moes word nie, maar eerder 'n rusbank. Dis so tiperend van die heidenmens ook in Suid-Afrika. Kyk maar na die arbeidsmag nadat die ou bedeling afgebreek is – mense wil nie meer werk nie! Dis tiperend van heidene.
Paulus sê: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efes.5:15,16). Wat maak dae boos? Die heidendom!
Tyd is kosbaar. Dit wag vir niemand nie. Maak van die tyd wat jy vandag het, die beste gebruik want gister is geskiedenis en more is onseker. Jy het net vandag en vandag is 'n geskenk. Die Engelse sê: “Today is a gift. That is why it is called the present”. Nou is my preek klaar en as ek op my horlosie kyk, is daar so 'n bietjie meer as 30,000 sekondes van die dag oor. Benut dit reg en baie belangrik – tot God se eer!