Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die gelykenis van die ponde in Lukas 19 vertel dat God ons nie almal ewe veel talente gegee het nie. Maar wie baie gekry het is veronderstel om net soos dié wat min gekry het, met alles daarvan te woeker, dit wil sê in die Here se diens hier op aarde te gebruik; daarvoor sal ons eendag voor die Troon verantwoording moet doen. Die verantwoordelikheid is vir sommiges net groter as ander s'n – span u al u talente in om ook hierdie volk tot Christus te laat terugkeer?
NIEMAND WORD WEGGERAAP!
Ds. A.E van den Berg
Soos wat die dag van die wederkoms nader kom, eet al hoe meer mense leuens vir soetkoek op. Jesus waarsku; “,,,en baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mat.24:11). Laasgenoemdes is geestelik honger maar soek op die verkeerde plekke na geestelike voedsel en glo elke fabel: “...want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie ... en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3,4).
God gee vir gelowiges die waarheid in sy Woord. Gevolglik is dwaalleer 'n spottery met God: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie...” (Gal.6:7). Die wegraping huldig basies twee wederkomste. Met die eerste vertoef Jesus iewers in die lug terwyl Hy sekere gelowiges op pluk om hul die groot verdrukking te spaar. Later kom Hy vir 'n finale keer as Regter aarde toe.
Ongelukkig glo en hanteer diegene wat met tweedehandse kennis tevrede is, dit soos die evangelie. Hulle bestudeer nie self die Bybel nie maar aanvaar alles wat ander daaroor sê, soos bv. die wegraping, al is dit vreemd aan die Bybel.
Nog die Bybel of die kerkgeskiedenis weet van so 'n komende gebeure en laat die gevaarligte gevolglik helder brand, “...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet.1:20). Hierdie dwaling is 'n versinsel en eie uitleg.
Die verkondigers daarvan voer vyf tekste as bewys hiervoor aan. Al vyf verwys na die wederkoms. I Thess. 4:16,17 is een daarvan: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees”.
Dit het niks met 'n wegraping te doen nie. Die gelowiges in Thessalonika het so 'n vraag gehad toe sommige van die gemeentelede wat pas tot bekering gekom het, skielik oorlede is. Het laasgenoemdes dalk 'n agterstand gehad teenoor diegene wat langer gelowig was nie? Paulus antwoord: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1Thess.4:13).
Die ontslapenes het geen agterstand nie! “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (I Thess. 4:14). Om 1 Thess. 4:16,17 as 'n bewys vir die wegraping aan te voer, is 'n mistasting en bots met vers 15 en 18: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”.
Die dwaling van die wegraping bots verder met die boodskap van Openbaring wat nêrens van Jesus praat wat sekere gelowiges die groot verdrukking gaan spaar deur hul op te pluk nie. Hy sê eerder dat Hy die gelowiges in daardie tyd duidelik sal bystaan. Dwaalleraars maak van die wegraping 'n tipe van ontsnaproete wat soos Monopoly se “Get out of jail free” werk. Dis pure onsin!
Die Bybel leer slegs een wederkoms. Die gelowiges wat reeds ontslaap het, staan wel eerste op om Jesus in die lug tegemoet te gaan. Dis 'n beeld eie aan die Bybelse tyd. As 'n koning 'n stad binne gekom het, het talle onderdane hom eerste gaan ontmoet. Dit sal ook met Jesus se wederkoms gebeur.
By geleentheid vra Jesus se dissipels Hom wat hulle aan die einde van die tyd te wagte moet wees. Hy sê toe onder meer dat die laaste gelowiges en die Antichris terselfdertyd op aarde sal wees. Daarmee word 'n streep deur die wegraping getrek wat valslik leer dat God die uitverkorenes vóór die verskyning van die Antichris sal op pluk.
God sal wel al sy uitverkorenes bymekaarmaak: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mat. 24:31). Dis juis hulle wat deur die groot verdrukking gegaan het en dus terselfdertyd as die Antichris op die aarde sal wees.
Wat 'n ontnugtering wag daar nie op mense wat hul hoop op 'n wegraping voor die groot verdrukking plaas nie! Hulle glo wel dat daar 'n groot verdrukking gaan wees, maar hulle nie raak nie omdat hulle dan alreeds weggeraap is. Wat 'n ontnugtering wag daar nie op hulle nie! Hulle staar in die bek van die leeu, maar glo vas dat hulle op 'n verebed die hiernamaals ingedra sal word.
Dwaalleraars gebruik dieselfde metodiek as die Satan in die tuin van Eden: “...Is dit ook so dat God gesê het...?” waarna hy Eva die teenoorgestelde laat glo het. Jesus sê in Mat.24 dat gelowiges deur die groot verdrukking sal gaan. Dwaalleraars sê: “Julle sal nie, maar voor die verdrukking opgepluk word”.
Wat gaan hulle doen as die groot verdrukking sonder 'n wegraping plaasvind? Hulle ontnugtering kan selfs so groot wees, dat hulle die merk van die dier as 'n uitkoms sal aanvaar!
Jesus gee in Mat.24 die presiese volgorde van die eindgebeure wat met oorloë en gerugte van oorloë begin en daarna deur hongersnode, pessiektes, aardbewings en ontstellende natuurverskynsels gevolg gaan word. Die son sal donker en die maan rooi word terwyl hemelliggame op die aarde sal val. Daarna word die laaste basuin geblaas en kom Jesus sigbaar op die wolke.
Dieselfde orde word in Open.6 herhaal sonder enige verwysing na 'n wegraping. Gevolglik sal daar geen wegraping wees nie, maar wel 'n bymekaarmaak van alle gelowiges tydens die wederkoms om vir ewig saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem te gaan woon.