Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Lyding vra van jou 'n fyngevoelige waarnemingsvermoë, 'n nuwe soeke na God, 'n ander uitkyk op die sin van die lewe. Dan kry jou lewe nuwe betekenis.
WIE AANBID JY WERKLIK?
Ds A.E. van den Berg
“...Kom, maak vir ons gode wat voor ons uittrek...” (Ex 32:1).
Die mensdom het nog altyd 'n behoefte aan leiers gehad; mense wat leiding kan neem en hul volk sinvol laat leef. As sulke leiers nie daarin slaag nie, word hulle desnoods uitgestem, verwyder of selfs vermoor.
'n Leier oorheers nie sy mense nie, maar snoer hulle saam om bepaalde doelstellings na te streef en te bereik.
Moses was so 'n leier. Toe God hom tot diens geroep het, was Israel vir 400 jaar slawe in Egipte. Moses moes hulle na die land wat God aan hul voorgeslag beloof het, lei. Sommige Israeliete het hom aanvanklik gewantrou totdat die plae wat God oor Egipte laat kom het hulle tot ander insigte gebring en 'n reuse uittog gevolg het.
Die Israeliete se 40 jaar swerftog deur die woestyn was nie sonder probleme nie. Kos, water en veiligheid was altyd 'n kwessie. God het egter altyd uitkoms gebied. “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het” (Ex.19:4). As Israel hierdie tog in eie krag moes aanpak, sou niemand dit oorleef het nie.
Moses se verhouding met God was egter deurslaggewend. Hy was 'n uitmuntende leier. 'n Goeie leier is 'n onontbeerlike skakel tussen God en 'n volk. Omdat 'n volk se toekoms met goeie leierskap verweef is, is die dood van so 'n leier 'n gevoelige slag. Dink aan die moord op dr. HF Verwoerd op 6 September 1966. Ons volk was verslae. Wie gaan nou lei? Wat gaan die toekoms inhou? Alles was skielik onseker.
So 'n onsekerheid het Israel ook by die berg Horeb beetgepak toe Moses opgeklim het om die Wet van God te ontvang en lank weggebly het. Mense het later begin wonder of hy nie dalk dood is nie en hulle soos 'n uil op 'n kluit tevergeefs op sy teruggekeer sit en wag het. Later het Aäron, hul dominee, self skepties begin raak.
Met Moses as hul navigator het Israel geweet waarheen hulle op pad was. Hy het sy rigtingaanduiding direk van God gekry; 'n wolkkolom bedags en snags vuur. Sonder Moses was hul rigtingloos en om sonder rigting te wees, is om sonder toekoms en maar net sowel dood te wees.
Die lewe het vir Israel daar in die bloedige woestyn skielik donker geword. Iets moes gedoen word. En so is hulle met 'n voorstel na hul dominee toe: “Kom, maak vir ons gode wat voor ons uittrek”. Aäron het hul nie berispe nie, maar aan hul wens voldoen:“ En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipte laat optrek het” (:2).
Destyds het slegs vroue, seuns en dogters oorringe gedra. As Aäron vandag so 'n opdrag moes gee, sou hy waarskynlik meer oorringe by mans as vroue gekry het! Maar waarom word net seuns en nie ook mans genoem nie? Omdat 'n seun destyds eers na sy 14de verjaarsdag as manlik geag is. As 'n jong Farao bv. voor sy 14de verjaarsdag oorlede is, is hy in die vallei van die koninginne begrawe. Oorringe is net tot op ouderdom van 14 gedra. Dit het daarna nie by 'n man gepas nie. Manlike prostitute het destyds een oorring aan die linkeroor gedra om hul uit te ken.
Dat Aäron die ringe geneem, gesmelt en 'n kalf daarvan laat maak het, is 'n duidelike aanduiding van die heidense invloed op die Israeliete. Egipte het 'n kalf-afgod gehad. Israel moes ook in die woestyn van afgodsinvloede gereinig word voordat hulle die Beloofde Land kon binnegaan. God sou hulle vir 40 jaar lank geestelik was totdat hulle vir hul nuwe lewe in Kanaän skoon was!
Wat het nie deur Moses se gemoed gegaan toe hy op die afgodiese feesviering aan die voet van die berg afkom nie! Hy het dan juis vir Israel die Wet van God saamgebring en hier oortree hulle jou werklik waar die eerste sowel as die tweede gebod! Geen wonder dat Moses so kwaad geword het dat hy die klip-tafels stukkend gegooi het nie. God het hom wel later 'n tweede stel gegee.
Afgodery is 'n wêreldwye verskynsel. As daar aan afgode gedink word, kom beelde van Boeddha, Vishnu of Semiramis, en die Roomse Maria, in die gedagte op. Nee, afgodery is meer as blote beelde-aanbidding; dis die versaking van ware Godsaanbidding. Wie iets hoër as God ag, maak hom aan afgodery skuldig waarvan geld ongetwyfeld die skadelikste vir die siel is. Vandaar die uitdrukking – hy sal sy siel vir geld verkoop.
Jesus waarsku: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”.
Baie mense sal enigiets vir geld doen en hul selfs daarvoor afsloof. Duisende mense het al oor geld in die tronk beland. Geldgierige mense vergeet so maklik dat hulle 'n siel het en dat daar 'n lewe na die dood is. Mense sê so maklik dat hulle in 'n lewe na die dood glo, maar lieg. Kyk maar hoe verkeerd leef hulle! Niemand leef verkeerd en sterf reg nie. So 'n persoon glo werklik nie aan 'n lewe in die hiernamaals nie.
Enigiets wat vir 'n mens belangriker as God is, is 'n afgod. Ondersoek jouself en vra jouself : wie dien jy werklik? Kyk na die gebeure by Horeb. Waarom het Israel, wat God se leiding duidelik gesien het, nogtans besluit om ʼn afgod te maak en dit nogal met hul dominee se hulp? Hulle het geglo dat hulle God deur die goue kalf kon aanbid. Dit het vir hulle God verbeeld. Hierdie misgissing het duisende se dood beteken:
“Toe Moses sien dat die volk bandeloos was ... het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval” (:25-28). God verdra geen afgodery nie!
Mense begaan maklik die fout om te glo dat hulle God dien maar dien in werklikheid die beeld wat hulle van Hom gemaak het. En hulle is gelukkig daarmee tot op 'n dag dat dinge in hul lewe erg skeef loop en hulle in hul ontnugtering vir God die skuld daarvoor gee. Nee, die fout lê nie by God nie maar by hul beeld van Hom wat geen Bybelse gronde het nie. Gevolglik het hulle al die tyd 'n afgod aanbid!
Hoe sien jy God? As 'n Vader wat vir sy kinders sorg en deur die bekering tot Jesus Christus verlossing van sonde en 'n ewige bewerkstellig het? Of is Hy bloot net 'n kerk-karakter waarvan jy op Sondae in die kerk kennis neem en vir die res van week agter toe deure bly?
Die tyd raak hier na die einde se kant toe al hoe meer boos. Satan loop rond soos 'n brullende leeu. Maak dus baie seker dat jy werklik die God van die Bybel aanbid en nie 'n God na jou smaak nie. Dien Hom soos wat Hy werklik is. Hy het ons na sy Beeld geskape; moenie Hom na jou beeld probeer verander nie!