Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek dank U, grote God, vir hierdie ongelooflike dag: die dansende groen geeste van bome en die blou droom van die lug, die helder strale van die son, die gekoer van duiwe in samesang met al die pragtige voëls; vir alles in die natuur wat oneindig is en wat ja sê vir U!
HET GOD ALLE MENSE EWE LIEF?
Ds A.E. van den Berg
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh.3:16,17).
Met die oordeelsdag sal daar meer mense in die hel as in die nuwe Jerusalem beland. Jesus sê dit self:“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mat.7:13,14).
Baie mense glo dit nie en glo dat 'n liefdevolle God niemand hel toe sal stuur nie en dat alle mense die ewige heerlikheid sal beërwe. Daar is nie 'n gevaarliker misgissing as dit nie en dit gaan miljoene mense in die hel laat beland! Gelowiges glo op grond van die Bybel baie anders. God is wel liefdevol, maar is ook regverdig en straf sonde. As Hy dit nie doen nie, is Hy nie regverdig nie. Die hel is juis die finale voltrekking van die straf op sonde.
God is kwaad vir sonde hetsy sonde van enkelinge of volke. Daarvan kon die Bondsvolk getuig. Koning Josia versoek Hilkia: “Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind is; want die grimmigheid van die HERE is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek om te handel volgens alles wat ons voorgeskrywe is nie” (2 Kon.22:13).
Jesus praat baie duidelik van God se toorn: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh.3:36).
Dit bring ons by die vraag wat dikwels gevra word – het God alle mense ewe lief? Die antwoord is 'n baie duidelike nee. Hy haat ook sekere dinge in mense en sekere mense. “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai” (Spr.6:16-19).
Hoe rym God se haat dan met die teksvers? “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”.
Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eerstens vra waaruit God se liefde vir die wêreld bestaan en wat dit beteken? Dat Hy sy son oor regverdiges sowel as onregverdiges laat skyn en op gelowiges en ongelowiges laat reën.
God het die mensdom so lief gehad, dat Hy in Jesus mens geword het sodat mense deur Hom die ewige heerlikheid kan verkry: “.... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Jesus nooi mense na die water van die lewe:“...maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh.4:14).
God se algemene genade beteken nie dat Hy mense ongekwalifiseer so liefhet dat Hy niemand verderf toe sal stuur nie. Daarvoor is mense te ongelyk. Sommige volg die breë en ander die smal pad. Moenie die leuen glo dat alle mense gelyk is nie. Nee, wie op die breë pad is, is mos nie aan diegene op die smal pad gelyk nie of uitverkorenes aan verlorenes nie!
Mense is slegs in een opsig gelyk – voor die wet van God: “Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ’n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef” (Num.15:15.16).
Benewens 'n gehoorsaamheid aan die Wet, is daar geen ander gelykheid onder mense nie. Daarom boemerang alle pogings om gelykheid op mense af te dwing soos die reënboognasie 'n sprekende voorbeeld hiervan is.
God kies en verwerp mense uit vrye wil. Gen.5 vertel van Henog wat met God gewandel het. 'n Paar hoofstukke verder lees ons van God wat Abraham as stamvader van sy volk uitverkies het. Abraham word selfs God se vriend genoem. Moses het van aangesig tot aangesig met God gepraat en Dawid was 'n man so na God se hart. Johannes was weer Jesus se liefling dissipel. God het elkeen van hulle uit vrye wil gekies.
God se liefde sluit ook oordeel in. Jesus praat van verskillende grade van oordeel. So waarsku Hy die mense van Kapernaüm dat dit vir Sodom en Gomorra verdraagliker in die eindoordeel as vir hulle sal wees.
Paulus skryf ook oor God se oordeel: “...elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly...” (1 Kor.3:13-15).
Die Bybel leer egter dat God lankmoedig is. Dit beteken dat Hy sonde nie onmiddellik straf nie, maar oortreders die geleentheid bied om berou te toon en deur vergifnis van die straf vrygestel te word. “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh.3:17).
Petrus skryf ook: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet.3:9).
Die vraag of God alle mense of slegs gelowiges liefhet, is dus nie moeilik om te beantwoord nie. God het alle mense lief SLEGS in die mate dat Hy aan alle mense genade bewys. Wat egter waar en wonderlik is, is dat Hy gelowiges op 'n besondere manier liefhet – met 'n verbondsliefde: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh.3:36). Die liefde van Jesus bou dus 'n brug van hierdie wêreld na die ewige eindbestemming.
Wie tot bekering kom, ervaar God se liefde tot in alle ewigheid. Wie nie tot bekering kom nie, ervaar God se lankmoedigheid net totdat hulle die laaste asem uitblaas waarna God se ewige straf volg.
Omdat God alle mense nie ongekwalifiseer liefhet nie, is daar dus ook mense wat Hy haat –die teenoorgestelde van liefde. Daarom meld die OT van stede en dorpe wat op God se bevel met die banvloek getref is. Alles is as 'n bewys van sy toorn voor die voet uitgewis – mens en dier.
God haat veral opstand teen gelowige volksleiers omdat dit tot godsdiensafvalligheid lei. Na Absolom se mislukte staatsgreep om Israel se koningskap te bekom, skryf Dawid: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet” (Ps.11:5).
Later skryf Dawid in Ps.139: “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! .... Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef — u teëstanders! HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my” (:19-22).
God se liefde vir sy kinders is wonderlik. Ons moet dit egter deur die geloof beantwoord. En dis 'n gawe van God. Jy besluit nie self daaroor nie. God gee dit aan wie daarna vra. Sulke geloof is kinderlike afhanklikheid van die Vader. En dis wat Hy van elke gelowige verlang. Ook van jou.