Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy dat jou laste te swaar druk? Kniel dan neer! Want met elke neerkniel sal jou las ligter word! Vertel God alles. As jy Hom al die stukke gee, wil Hy jou gebroke hart heelmaak!
DIE MISLEIDENDE GODSDIENS
Ds A.E. van den Berg
“Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mat.23:13).
Die mens het van meet af aan 'n behoefte om iets/iemand groter as hyself te aanbid. Dis hoe godsdiens ontstaan het. Die Christen-godsdiens het die Westerse beskawing vir baie eeue lank positief beïnvloed. Ongelukkig het dinge teen die laaste helfte van die vorige eeu begin verander. Kerkbesoek het begin kwyn, mense het hul lidmaatskap opgesê en talle gemeentes het tot niet gegaan.
Op akademiese gebied het ongeloof erg toegeneem wat die deure vir kommunisme, sosialisme en liberalisme wyd oopgemaak het. Op kerklike gebied het dwaalleraars weer baie mense so van die Bybelse waarhede vervreem dat hulle leuen-dienaars geword het. Al die kerke wat uit hul nate bars, is die gevoelsgodsdienste. Baie van hulle het die wêreld omhels in plaas van om die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Ons eie kerklike wêreld het van al die oppervlakkige vermaak hol geword.
Die geskiedenis vertel van talle beroemdes wat godsdiens openlik verfoei het. Seneca, ʼn Romeinse politikus, het bv. gesê dat godsdiens vir agterlike mense bedoel is. Edgar Allen Poe het weer gesê dat godsdiens uit bedrog, vrees en verbeelding ontstaan het. Napoleon het weer gesê dat godsdiens 'n middel is waarmee die heersersklas onderdanige burgers beheer.
Die grootste kritikus was egter Karl Marx met sy sinspreuk dat godsdiens die opium van die volk is. Dit was so 'n terloopse opmerking ter inleiding van 'n boek wat hy in 1843 geskryf het. Marx het godsdiens as 'n ydele sug na lewensvreugde beskou en in nood gekweek om mense te help om aan die troostelose werklikheid van die lewe te probeer ontsnap. Dit het vir hom niks van 'n verslawing aan opium verskil nie en beide 'n poging om die leegheid van hul lewe met iets te vul.
Jesus was ook baie krities teen die godsdiens van sy tyd en het dit teen Fariseïsme gehad: 'n groep mense wat met gereeld met Jesus se suiwere vertolking van die Wet gebots het. Die woord Fariseër beteken afgesonderde. Hulle het hul van die Joodse gemeenskap afgesonder om net die wet van Moses te bestudeer en mense daarin te onderrig. Hulle optredes was egter deurspek van blatante hoogmoedigheid.
Hulle het in die tyd van die Makkabeërs (160 vC) ontstaan en die godsdiens en onderwys beheer. Hulle het, net soos die latere Roomse Kerk, oorleweringe op gelyke voet met die Skrif geplaas en sodoende 'n vorm-godsdiens laat ontstaan. Daarom het Jesus hulle as wit gepleisterde grafte beskryf – van buite goed maar van binne sleg.
Godsdiens het vir hulle uit 'n stiptelike nakoming van sekere Bybelse reëls bestaan. So 'n godsdiens was dood omdat geloof nie wetties nie, maar 'n lewende verhouding met God is. Wie godsdiens vir iets anders aansien, skep 'n weergawe daarvan wat niks van die goue kalf-episode in Exodus verskil nie.
Ongelukkig het die Jode 'n misplaaste agting vir die Fariseërs en hul vorm-godsdiens gehad. Jesus het hulle egter ontmasker en skerp berispe omdat hul valse godsdiens met moets en moenies belas het. Hulle het mense belas; Jesus het dit weer afgelaai “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.... want my juk is sag en my las is lig” (Mat.11:28-30).
Die Fariseërs was skynheilig en het in openbare plekke opgetree om raakgesien te word. Hulle het mense dwaalleer laat glo en die verderf ingestuur. Jesus het skerp daarop gereageer:: “Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mat.23:13).
Vorm-godsdiens maak mense altyd meer begaan oor hoe hulle in mense se oë lyk as in God s'n. Ware godsdiens is net die teenoorgestelde. Dit laat mense in die spieël van God na hulself kyk. Niemand klim met 'n skyngodsdiens en goeie werke as te ware na God toe op om geestelike krediete te verkry nie. Alles is genade; onverdiende guns. “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie” (Rom.11:6).
Die oud Romeinse keisers het weer van godsdiens gebruik gemaak om 'n onbeheerde gepeupel in bedwang te hou en van bygeloof 'n godsdiens gemaak. Bygelowiges dink mos nie altyd vir hulself nie en maak soos vir hulle gesê word. Die geskiedskrywer Strabo skryf dat die mense van sy tyd so bygelowig was, dat daar nie logies met hulle geredeneer kon word nie. Die priesters het gedoen wat die keiser wou hê en die mense het gedoen wat die priesters hulle aangesê het om te doen. Hulle moes nie vir hulself dink nie, maar net blindelings volg.
As beheer-maatreël lewer godsdiens niks goeds vir die mensdom op nie. Islam met sy byna 1,5 miljard aanhangers is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Vorm-godsdiens het by hulle so ingeburger geraak, dat hulle nie godsdiens van nasionalisme onderskei nie. Daarom slaag booswigte daarin om hulle tot weersinwekkende optredes op te sweep. Kyk maar net wat in die wêreld aan die gang is – alles godsdiensgedrewe!
Ja, godsdiens kan bitter gevaarlik wees. Talle Protestantse kerke het die ou Bybelse tyding vir 'n nuwe een verruil – dié van vrysinnige losbandigheid. Die Bybel waarsku dat daar net voor die wederkoms van Jesus 'n godsdiens op die wêreldtoneel gaan verskyn met kerklui wat voorgee om Jesus se verteenwoordigers op aarde te wees, maar in waarheid verteenwoordigers van die Satan is!
Hulle gaan ter voorbereiding vir die koms van die Antichris godsdiensmag bekom wat vandag se booshede soos 'n vulletjie sal laat lyk. Paulus waarsku: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4).
Onthou dat die Satan van meet af aan in 'n stryd met God gewikkel is maar dat die finale uitslag reeds eeue lank bekend is. In Gen.3 lees ons: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt” (:15).
Die belofte in Gen 3 dat Iemand die slang gaan vernietig, bepaal die gang van die ganse mense-geskiedenis. God het van die begin af vyandskap tussen die twee saadlyne gestel. Dit het gemaak dat die slang die Verlosser aan die hakskeen gebyt, maar nie vernietig het nie. Jesus was dood maar het uit die dood opgestaan.
Hierdie vyandskap tussen God en die Satan loop soos 'n draad deur die geskiedenis en eindig by die wederkoms van Christus. Daarom moet gelowiges bedag wees teen vorm-godsdiens. Dit pootjie mense van meet af aan en gaan tot die einde so aanhou: Godsdiens vernietig godsdiens: ”Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? (1 Pet 4:17).
Pasop vir die nuwe gier van kerkwees. Afvalligheid is besig om orkaansterkte in talle kerke te bereik. Dis 'n stroom wat duisende mense in die maalstroom van leuens meesleur. Ons volk het voorwaar geen behoefte aan dwaalleer en oppervlakkige vermaak nie, maar eerder 'n dringende behoefte aan egte grondige geestelike leiding.
Distansieer jou dus vir die nuwe gier van kerkwees. Jesus het vir die gelowiges van die laaste dae 'n opdrag: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê nie..” (Open..18:4).