Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wonder by Bloedrivier het gebeur omdat die Voortrekkers tot God gebid en onwrikbaar geglo het dat Hy hulle sal red. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps.33:12).
OM VOOR GOD STIL TE WORD
Ds A.E. van den Berg
“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil.4:8)
Bepeinsing is 'n geestelike oefening wat gelowiges deur die eeue beoefen: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld…” (Gen.24:63). Bepeinsing is tyd wat opsy gesit word om diep oor die dinge van God na te dink. En dis nodig want God is so 'n werklikheid dat woorde dit nie kan beskryf nie. Dit maak van bepeinsing 'n onmisbare geloofsoefening.
“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink sy wet dag en nag” (Ps.1:1,2).
Bepeinsing is onontbeerlik vir geestesgesondheid: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit”
Bepeinsing moet egter reg geskied. Daar is ook ’n verkeerde manier daarvan wat mense besete kan maak. Hindoeïsme, Boeddhisme en sekere Satanistiese groepe beoefen bepeinsing met die doel om in ’n bonatuurlike psigiese vervoering te raak. Dit kom ook in misterie-godsdienste soos die Charismatiese kerke voor – mense wat gedurig na bonatuurlike geestelike ervarings smag en hul lewe baie maklik vir bose geeste oopstel.
Sulke mense wil soos Oosterlinge hul verstand deur bepeinsing leeg maak om plek vir nuwe waarhede te maak. Sulke subjektiewe bepeinsings wyk van die waarheid af. Die Bybel ken slegs objektiewe bepeinsings – waarhede wat reeds bestaan en oordink moet word; en nie nuwes wat gesoek moet word nie. Dis belangrik om die twee te onderskei; nie subjektiewe belewenisse nie maar objektiewe Bybelse waarhede.
Hoe bepeins gelowiges reg? Deur eerstens aan God te dink: “Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins” (Ps.63:6,7). Tweedens deur aan God se groot werke te dink: “Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd” (Ps.77:12).
Derdens bepeins gelowiges deur aan God se geopenbaarde Woord te dink: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Al sit vorste en beraadslaag teen my – u kneg oordink u insettinge” (Ps.119:15 ,23). Vierdens bepeins gelowiges deur aan dinge te dink wat stigtelik en deugsaam is: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” ( Fil.4:8)..
Opregte bepeinsing is vir gelowiges ’n onuitputlike bron van krag: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:1-3).
Bepeinsing laat gelowiges ook positief dink: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Rom.12:2). Paulus skryf aan die gelowiges in Rome dat God wil hê dat hulle “...aan die beeld van sy Seun” gelykvormig moet wees (Rom.8:29). Hulle moet meer soos Jesus optree. En dis slegs deur ’n vernuwing van die gemoed en gesindheidsverandering moontlik. Daarvoor is bepeinsing onontbeerlik.
Bepeinsing laat gelowiges aan die regte dinge dink; dinge van die ewigheid: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is… Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol.3:1,2). As ons gedagtes op die dinge van God ingestel is, word vernuwing ’n werklikheid: ”Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid… waarin julle ook vroeër gewandel het…. omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis van die beeld van sy Skepper” (Kol.3: 5,7,9,10).
Baie gelowiges beleef min geestelike krag omdat hulle aan verkeerde dinge bly dink. “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie” (Rom.8:5-8)
Geen gelowige kan geestelik groei deur gedurig aan vleeslike dinge te dink nie. Vleeslike dinge kom deur dinge wat ons sien en hoor. Kyk maar net hoe word mense deur buitelands gemors op TV gebreinspoel! Ons word daardeur oorval totdat ons op ’n dag ontdek dat ons net soos ongelowiges dink, praat en doen. Ons waarde-sisteem word onbewustelik gevorm en so word óns dit, wat ons sien en dink. Pasop ook maar op vir dinge wat op TV gesien word; dis nie net produkte nie, maar ook ’n skadelike sienswyse wat verkoop word. Vul eerder jou gedagtewêreld met geestelike dinge. Net jy dit kan doen en niemand anders vir jou nie.
Hoe lyk die bepeinsing wat God behaag? 'n Spesifieke tyd en plek wat daarvoor ingeruim word waar niks jou aandag kan aftrek nie. Van Isak word geskryf: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld…” (Gen.24:63). Dawid het saans op sy bed gepeins: “My oë is die nagwake voor om u woord te oordink” (Ps.119:148).
Laat die Bybel jou fokuspunt wees: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let” (Ps.119:15). Lees en bepeins dit biddende: “Open my oë dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Ps.119:18). En wanneer jy lees, vra jouself af: Is daar miskien ’n spesifieke waarheid in hierdie woord wat ek moet weet? Korrigeer hierdie woorde nie moontlik iets wat ek nie reg doen nie? Moet ek in die lig hiervan dalk my optrede of sienswyse verander? Dis die bepeinsing wat God behaag: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie” (Ps.119:10).
Om voor God stil te word, maak gelowiges geestelik sterk: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!” (Ps.19:15). God is die beste dokter, gebed die beste medisyne en bepeinsing een van die wonderlikste genesings.