Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons op ons voete staan, kyk ons vorentoe, maar wanneer ons op ons rug lê, kyk ons boontoe. In sulke tye besef ons dat ons niks anders as Jesus oor het en eintlik niks meer as Hy nodig het nie! Ja, as ons koninkryk wyk, neem God s’n oor!
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (16)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
DIE SPREEK IN TALE (1)
“Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang” ( 1 Kor.14:5).
Charismate lê ontsettend baie klem op die spreek in tale omdat dit vir hulle ‘n bewys vir die doop met die Heilige Gees is. Hulle sien dit as die bonatuurlike vermoë om in ‘n verrukking van sinne ‘n nie-verstaanbare'taal' te praat wat die verstand te bowe gaan. Dit as sulks is bitter gevaarlik. Dis juis een van die primêre eienskappe van die heidense misterie-godsdienste! Feitlik al die leerstellings wat charismate van die Gereformeerde leer onderskei, is onverbloemde mistisisme en het duidelike raakpunte met die heidendom.
Charismate leer dat die spreek in tale ‘n ekstatiese ervaring sonder gelyke is wat ‘n mens moet ervaar om dit te waardeer. Hier word ervaring weereens bo die Skrif verhef. Hulle sien geen gevaar in so ‘n ervaring nie omdat dit hulle goed laat voel, nader aan God bring, geestelik versterk en vreugde verskaf; alles subjektief.
Kan ervarings gevaarlik wees? Ja, dit kan en dit is in die geval van die spreek in tale. As jou verstand uitgeskakel word, verloor jy beheer oor jouself en maak jy die deur vir die Satan wawyd oop. Hy buit graag sulke situasies uit. Daarom het duisende al bedroë daarvan afgekom!
Die spreek in tale stimuleer hoogstens die vlees. Om dit as heiligmakend te beskou, getuig van ‘n gebrek aan Skrifkennis en die onderskeiding van die geeste. Ongelukkig is baie mense met gevaarlike, misleidende godsdienstige vervalsing tevrede.
Benewens een teks in Markus, word die spreek in tale net in twee ander Bybelboeke genoem – Handelinge (2,10 en 19) en 1 Kor.12-14. Omdat Handelinge geen normatiewe patroon vir die Christelike kerk daarstel nie, handel slegs 1 Kor.12-14 oor die rol van tale-spreek in die kerk. Let daarop dat Paulus hierdie drie hoofstukke as ‘n teregwysing geskryf het omdat die gemeente in Korinte hierdie gawe misbruik het. Die charismate maak dieselfde fout. Die eertydse probleem in Korinte word vandag net so in die charismatiese kerke herhaal.
In 1 Kor.12 praat Paulus van die geestesgawes in die algemeen en in hoofstuk 14 oor die minderwaardigheid van tale teenoor profesie (gesaghebbende prediking). Hy gee ook riglyne vir die regte beoefening van hierdie gawe en die uitleg daarvan. In hoofstuk 13 bespreek hy die ware motief vir die gawes van Gees nl. liefde. Hy het die Korintiërs oor die vingers getik omdat hulle die gawes selfsugtig en liefdeloos gebruik het om hul eie ego’s te streel en hul eie openbare beeld te bevorder.
Let vervolgens op die tale self. Taal kom van die Grieks glossa. In 1 Kor.14:18 skryf Paulus dat hy self in tale gepraat het. Gevolglik veroordeel hy nie die gebruik nie, maar wel die misbruik daarvan. ‘n Gawe word misbruik wanneer mense dit anders gebruik as waarvoor die gewer dit gegee het. Tale wat misbruik word, is ‘n geraas!
Vir charismate is die spreek in tale ‘n private gebedstaal wat net God alleen kan verstaan. Dis m.a.w. ‘n tipe van engeletaal. Nêrens in die Skrif is daar egter enige aanduiding dat engele in tale anders as die bestaandes gepraat het nie, nog minder dat die ander tale van Handelinge nie mense-tale was nie. Die spreek in tale waarvan die teks melding maak, was presies dieselfde gawe as diè van Hand.2. Dit was bestaande tale en nie sinnelose brabbeltaal nie.
Paulus praat ook van die uitleg van tale. Dit moes dus bestaande tale gewees het. Brabbeltaal kan mos nie uitgelê word nie! Die uitleg van tale was ‘n goddelike gawe/vermoë om ‘n boodskap in ‘n onbekende dog bestaande taal te kon uitlê sodat gelowiges deur die boodskap geestelik versterk kon word. Brabbeltaal kan nie uitgelê word nie omdat dit nie ‘n taal is nie, maar ‘n geraas.
In I Kor.14:21,22 vind ons ‘n verdere bewys dat die gawe van tale wel verstaanbare tale was. Dit sê dat die gawe van tale ‘n teken vir ongelowige Jode was. Dit was die vervulling van ‘n profesie: “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek” (Jes.28:11). God het die Evangelie ook in ander tale bekend laat word sodat die Jode kon glo dat Jesus die gestuurde van God was. Die Bybelse vreemde tale was dus nie onsinnige brabbeltaal nie, maar werklike tale.
Waar kom die charismatiese onsinnige brabbeltaal dan vandaan? Presies waar die Korintiërs s’n vandaan gekom het – van die heidendom. Die gemeente in Korinte was deur ‘n heidendom omring wat deur ekstatiese taal en beswymende ervarings gekenmerk is. Van die gemeentelede het God se gawe met heidense ekstase vermeng!
Die doel van die geestelike gawes was om die gemeente te dien. “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien...” (1 Pet.4:10). Dit moes dus stigtelik/opbouend wees. “So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente” (1 Kor.14:12).
Paulus skryf in die teksvers dat die spreek in tale nie tot stigting van ‘n gemeente dien as daar nie ‘n uitlêer is nie. Die misbruik van diè gawe het tot ‘n liefdeloosheid in die gemeente gelei omdat mense deur die spreek in tale te kenne wou gee dat hulle op ‘n hoër geestelike trap as die ander was. Dit het geestelike snobisme veroorsaak!
Die misbruik van die spreek in tale het ook die Evangelieboodskap belemmer. Mense het so na vertoon-gawes gesoek, dat dit hulle liefdeloos gemaak het. Daarom het Paulus ‘n uitdaging aan hulle gerig: ”Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg. Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword” (1 Kor.12:31; 1:1). Hulle het in hul gejaag na die spreek in tale die grootste van al God se gawes gemis - die liefde!
Die vervalsing van God se gawes het die gemeente bitter seergemaak. Jammer om te sê, bedreig dieselfde ding die kerk weereens. Daarom noem ek dit die charismatiese gevaar. Die Bybel sê mos dat dit wat was, weer sal gebeur!
In 1 Kor.13:8 sê Paulus dat die liefde nooit sal vergaan nie. Tale sal wel ophou. Die Griekse woord vir ophou, is pauo en beteken om permanent einde te kry. Daarmee sê Paulus dat die gawe van tale permanent gaan ophou om nooit weer aan die gang te kom nie. En dit het gebeur - na die apostels se dood. Gevolglik dwaal die charismate wanneer hulle iets aan die gang wil kry wat God eeue gelede al permanent afgeskakel het! Die geskiedenis, teologie en die Bybel bevestig dit. Die charismatiese beweging is vir seker nie ‘n herlewing van die Bybelse gawe van die spreek in tale nie, maar eerder ‘n herlewing van die dwaling wat groot skade in Korinte veroorsaak het!
Daar is voldoende bewys dat die spreek in tale beëindig is. Dit was ‘n wonderteken wat saam met die apostels uitgesterf het. Die laaste aangetekende wonderwerk het teen 58nC op die eiland Malta plaasgevind toe Paulus siekes genees het (Hand.28:7-10). Van 58 tot 96nC toe die boek Openbaring voltooi is, word daar van geen wonderwerk wat plaasgevind het gewag gemaak nie.
Die spreek in tale en wonder genesings word slegs in een van Paulus se briewe genoem t.w. 1 Korintiërs; een van die eerste briewe wat geskryf is. Later bespreek Paulus die gawes van die Gees breedvoerig in twee van sy ander briewe (Efesiërs en Romeine) sonder om eenmaal na die wondergawes te verwys. Waarom? Omdat die wondertekens teen daardie tyd alreeds as iets van die verlede was. Die Evangelie het nie meer bekendstelling nodig gehad nie.
Voordat die einde van die eerste eeu was alles wat in die NT is reeds klaar geskryf en deur die gemeentes gelees. Die wondergawes het geen verdere doel gehad nie. “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Kor.12:12).
Tweedens moet in gedagte gehou word dat die spreek in tale ‘n teken vir ongelowige Jode was. Laasgenoemdes moes sien en weet dat God ‘n nuwe werk begin het wat ook nie-Jode ingesluit het. God sou voortaan met alle nasies in alle tale spreek. Die spreek in tale het dus op ‘n oorgang van die ou na die nuwe verbond gedui. Nadat dit afgehandel is, was die teken nie langer nodig nie. Die spreek in tale het daarop gedui dat die Christendom, alhoewel in die wieg van die Jodedom gebore, nie uitsluitlik Joods was nie. Dis nie nodig om dit vandag nog te probeer bewys nie!
Die spreek in tale kom nie toevallig laaste op die lys van wondergawes (1 Kor.12) voor nie. Dit het die minste waarde van almal en slegs as ‘n teken gegee. “Die tale is dus nie ‘n teken vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges” (1 Kor.14:22). As charismate dus die spreek in tale as ‘n bewys van die doop met die Heilige Gees sien, slaan hulle die bal bitter ver mis. Dit dien dan nie eens die gemeente tot stigting nie! Dit het ‘n beperkte nut gehad wat eeue gelede al uitgedien geraak het en was nooit bedoel om ‘n permanente gawe te wees nie.
Die geskiedenis lewer ook voldoende bewys dat die spreek in tale ten einde gekom het. Let daarop dat dit net in twee vroeë geskrifte genoem word. Na 1 Korintiërs het Paulus nog 12 ander briewe geskryf sonder om eenmaal na die spreek in tale te verwys. Petrus, Johannes, Jakobus en Judas verwys nooit daarna nie. As dit so belangrik was, sou dit oral in die NT gestaan het!
Die Kerkvaders het ook die spreek in tale as iets van die verlede beskou. Chisostimus skryf in die vierde eeu dat die spreek in tale iets vreemd was en dat hy nie eens van die eienskappe daarvan seker is nie omdat dit so lank terug opgehou het. Augustinus skryf ook daaroor en sê dat dit tydelik en iets van die verlede was. Dan maak hy die interessante opmerking in sy werk Lesings en Traktate oor die Evangelie van Johannes as hy vra: “Waarom spreek niemand meer in ‘n taal nie? Omdat die kerk nou in alle tale met alle nasies praat” (p.195)
Gedurende die eerste 500 jaar van kerkgeskiedenis was dit net die volgelinge van Montanus wat in tale gepreek het. Hy was ‘n dwaalleraar wat homself as die Heilige Gees gesien het en uit die uit die kerk geban is. Daarna het daar eers weer in die laat 17de eeu ‘n groep militante Protestante in die suide van Frankryk begin profeteer, gesigte gesien en in tale gepraat. Die meeste van hul profesieë het nie in vervulling gegaan nie. Daarna was daar die Janseniste, ‘n Roomse groep wat ook in tale gepraat het. So ook die Shakers in Amerika wat in tale gespreek het terwyl hulle in ‘n beswyming gedans het – almal niksbeduidende groepe.
Ons kan tot geen ander gevolgtrekking kom as dat daar van die einde van die apostoliese era tot en met vandag geen egte herlewing van die NT gawe van die spreek in tale was nie. Dit het geëindig soos 1 Kor.13:8 sê, om nooit weer aan die gang te kom nie!