Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jou krag is van die HERE; onthou dat Hy jou geskape het, jou deur en deur ken, jou liefhet, jou deur elke dag dra al is jy nie eers daarvan bewus nie, en dat jy ook hierdie dag daardie genade van Hom sal ontvang om te doen wat jy moet doen.
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (18)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
GEESTELIKE VOLWASSENHEID
“Maar ek sê vir julle: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerte van die vlees volbring nie” (Gal.5:16).
Geestelike volwassenheid is ‘n groeiproses wat met tyd en worsteling verwerklik. “sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol.1:10). Charismatiese kerke glo nie aan ‘n groeiproses nie en leer dat daar ‘n kortpad na geestelike volwassenheid is; sonder enige tydsverloop of sielsworsteling. Dit val saam met die doop met die Heilige Gees. As jy dit ervaar, is jy glo geestelik volwasse.
Dis ‘n leuen. Daar is geen kortpad na geestelike volwassenheid nie! Niks tref ‘n gelowige soos ‘n weerligstraal uit die hemel om sy geestelike turbo-aanjaer in werking te bring nie. Net so min as wat jy in een oomblik van baba na volwassene kan verander, verander jy van geestelik onvolwasse na volwasse. Dis ‘n groeiproses wat tyd neem soos ‘n leer wat sport vir sport geklim moet word om bo te kom. Charismatiese kerke glo dat jy met een sprong van heel onder tot heel bo kan vorder!
Die charismatiese beweging verdeel gelowiges in twee groepe – diè wat met die Gees gedoop is en die wat nie is nie. Indien jy nie met die Gees gedoop is en in tale kan praat nie, beantwoord jy nie aan God se doel met jou nie. Jy mis iets. Jy is soos ‘n agtsilinder masjien wat net op vier van die silinders vuur. Gevolglik is die Geestes-doop vir hulle baie belangriker as die bekering. Daarmee swaai hulle die Bybelse orde om. Die pad van saligheid begin by die Heilige Gees wat ons tot bekering roep en daarna help om Jesus lewenslank te verheerlik. Ons begin dus by die Heilige Gees en werk na Jesus toe. Charismate begin by Jesus en werk na die Heilige Gees toe.
Waarom? Hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie!
Daarom onderskei hulle twee soorte gelowiges - die wat met die Gees gedoop is en die wat nie is nie. Nee, die Bybel maak nie van tweedeklas gelowiges melding nie. Daar is net een onderskeid – diè tussen geestelike en natuurlike mense. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dis vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:14) Dit maak van alle gelowiges geestelike mense omdat hulle die Gees het.
Gelowiges tree egter nie altyd geestelik op nie. Paulus skryf aan die Korintiërs dat hy weens hul vleeslikheid nie met hulle as geestelik volwasse mense kon praat nie, maar soos met babas (1 Kor.3:1). Die Korintiërs was egter geen uitsondering op die reël nie. Ons sukkel maar almal met dieselfde probleem. Alhoewel ons geestelik is, tree ons nie altyd geestelik op nie. Let maar op Petrus se lewe. In Mt.16 bely hy dat Jesus die Seun van God is en kort daarna verloën hy Hom. Daardeur het hy soos die ou Petrus voor sy bekering opgetree. Selfs na Pinksterdag het Petrus nog gereeld met vleeslike gedrag gesukkel. By geleentheid moes Paulus hom berispe (Gal.2:11-21).
Elke gelowige sukkel van tyd tot tyd met die vlees. Dit as sulks dui daarop dat geestelike volwassenheid nie ‘n blywende toestand van geestelike geluksaligheid is nie. Dit kan slegs op een manier bereik word - deur die Woord van God ernstig te bestudeer en dag vir dag in die geloof te wandel (teks).
Die woord wandel in die teksvers dui op ‘n dag tot dag optrede en ‘n berekende pas; een tree op ‘n slag. Dis hoe geestelike volwassenheid bereik word; een tree op ‘n slag, iets wat charismate weens gebrekkige Skrifkennis glad nie verstaan nie. Hulle mislei mense deur te leer dat jy met een slag bo kan kom!
Geestelike volwassenheid kan nie sonder ‘n bewuswording van sonde bereik word nie. In die Bybel het gelowiges wat van hul sonde en ontoereikenheid bewus was geestelik bo die ander uitgetroon. Paulus sê in 1 Tim.1:15 dat hy die heel grootste sondaar is. Petrus sê in Mark.5:8: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man” Jesaja sê weer: “Wee my....want ek is ‘n man onrein van lippe” (Jes.6:5).
Ongelukkig hou charismate voet by stuk dat as jy met die Heilige Gees gedoop is, jy geestelik volwasse is. Kyk wat gebeur as die gloed van een ervaring afgeneem het. Dan gaan soek hulle na ‘n volgende ervaring en daarna na ‘n derde, vierde, vyfde ens. In hul ydele soeke na nog ervarings laat hulle die Bybel agterweë en tel hulle soveel spoed teen die skuins helling van ervaring op, dat hulle hul in die doodloopstraat van verwarring en gevolglike ontnugtering te pletter loop. As ‘n charismaat afvallig raak, val hy baie lelik weg!
Charismatiese boeke, artikels en traktate wemel van die getuienisse van mense wat by een of ander bonatuurlike ervaring gebaat het. Dit begin feitlik altyd dieselfde: “Nadat ek deur die Heilige Gees gedoop is en in tale begin praat het, het ek die volgende wonderlike ervaring gehad...” Geen geestelike gawe of ervaring waarborg ‘n oorwinning oor die bose nie. Daarvoor moet ons onophoudelik in die Gees wandel en die begeertes van die vlees daadwerklik beveg (teks).
Diegene wat hul geesteskrag slegs uit ervarings put, bly geestelik onvolwasse. Die geskiedenis van die charismatiese beweging bewys dit oor en oor. Die strik waarin die meeste charismate trap, is die vertroue dat bonatuurlike ervarings hulle in hul stryd teen die vlees sal help. Nie God se Woord nie, maar subjektiewe ervarings!
Hulle aansprake op geestelike verdieping na bonatuurlike ervarings plaas hulle nie op die kruin van geestelike volwassenheid nie. Hulle ervaar nog steeds dieselfde stryd teen die vlees. Desondanks erken hulle dit nie maklik nie, maar gee voor om iets te wees wat hulle nie is nie net omdat hulle kwansuis met die Heilige Gees gedoop is, iets wat hulle glad nie verstaan nie. Dit kom daarvan as jy kortpad probeer vat!
Charismate het ‘n baie sterk ontsnapmentaliteit. Hulle probeer vir alles wat moeilik is ‘n ontsnaproete te vind. Die dwaalleer van die wegraping is ‘n sprekende voorbeeld. Die Bybel sê dat God die gelowiges van die laaste dae tydens die groot verdrukking op ‘n kennelike wyse gaan bystaan. Charismate sê dat God gelowiges wat ‘n sekere graad van heiligmaking bereik het, gaan wegraap en die verdrukking spaar. Jy kan dus jou wegraping verdien. Benewens die dwaling van werkheiligheid is daar ook geen Skrifbewys vir die wegraping nie. Dis maar alles deel van die charismatiese ontsnapsindroom en kortpad mentaliteit - kortpad na die hemel, kortpad na geestelike volwassenheid, maklike antwoorde op moeilike vrae.
Dit wat in die charismatiese beweging aangaan, dui nie op geestelike volwassenheid nie, maar eerder op geestelike oppervlakkigheid. Dis meer ligsinnig as God-sinnig. In hulle gejaag na bonatuurlike ervarings, versaak hulle groot Skrifwaarhede.
Ware godsvrug is nie van bonatuurlike ervarings afhanklik nie. Godsvrugtige gelowiges is deeglik van sonde in hul lewe bewus. Die Heilige Gees bring nie net vreugde nie, maar ook diepe berou oor sonde. Sondeberou is ‘n voorwaarde vir bekering. Charismate dink anders oor die Heilige Gees. Hy verskaf skynbaar net vreugde - oppervlakkige vreugde en mense wat uit hul kassie wil klim. Ek het ‘n groot probleem hiermee. Hy is die Heilige Gees, nie die Jollie Gees nie! Charismate skep die indruk dat die Heilige Hees meer jollie as heilig is!
Naas die gebrek aan deeglike Skrifkennis is die onophoudelike klem op bonatuurlike, dramatiese en sensasionele gebeure die jammerlikste kenmerk van die charismatiese beweging. Dit maak deel van hulle daaglikse lewe uit. En dan intimideer hulle selfs mense wat nie sulke ervarings het nie!
Paulus het goed geweet hoe dit voel om deur mense wat gedink het dat hulle ‘n hoër geestelike vlak as hy bereik het, gehoon en geïntimideer te word. In sy tweede brief aan die Korintiërs skryf hy oor die super-apostels wat in die gemeente oorgeneem het nadat hy daar weg is. Hulle het met hul wonderkragte en ervarings die gemeente so van sy voete afgevee, dat hulle selfs die gesag van Paulus se Skrifprediking betwyfel het. Hulle het gemeen dat hy nie teen die nuwe supersterre opgeweeg het nie.
Indien Paulus vandag moes leef, sou hy geen goeie indruk op charismate gemaak het nie. Hy het nie met sy ondervindinge te koop geloop nie, maar die Woord van God in Gees en waarheid verkondig. Hy kon inderdaad oor sy ervarings gepraat het as hy wou, veral oor sy gesig van die hemel (2 Kor.12). Nogtans het hy dit nie gedoen nie.
Paulus het ook nie oor sy krag gepraat nie, maar oor sy swakheid en hoe hy God daardeur verheerlik het. Sy lewe was vol swakhede en nare ervarings. Sedert sy bekering was hy gereeld in die moeilikheid. Hy is ernstig vervolg en het selfs in gevangenisse beland waar hy later in Rome dan ook onthoof is. Die ander apostels het ook almal nare ervarings gehad.
Nêrens in die Skrif is daar enige aanduiding van ‘n kortpad na geestelike volwassenheid nie. Veral nie deur in tale te spreek nie. Dit laat mense eerder op die verkeerde pad beland. Daar is net een pad na geestelike volwassenheid en dis die een waarvan die teksvers praat – die wandel in die Gees!