Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Misplaaste nasionale en internasionale toekennings maak van geen booswig ‘n eerbare leier nie. Wie soos ‘n engel praat, maar soos ‘n duiwel leef, is soos ‘n heuningby met heuning in die bek en ‘n angel aan die stert!
ADINA SE BRIEWE (16) (SLOT)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Epiloog
Met Adina se aankoms in Alexandrië het sy een van die grootste en gelukkigste verrassings van haar lewe beleef. Rabbi Efraim het in sy eensaamheid gedurende haar afwesigheid die skrifte van die profete weer grondig ondersoek. Sy bevindinge en die dringende pleitredes in sy dogter se briewe, het die lig vir hom uiteindelik laat deurbreek toe hy ontdek dat Jesus van Nasaret werklik die gestuurde Messias van God is. Nadat hy Hom as Verlosser en Saligmaker aanvaar het, kon hy sy dogter ontmoet met 'n blye glimlag wat van vrede en geluk gestraal het.
Adina se vreugde het nie perke geken nie. Sy het nagte lank in Jerusalem vir haar vader se bekering gebid en kon nie ophou om in haar hart te juig oor die verhoring van haar gebede nie. Sy het daarna uitgesien om met sy ondersteuning, gehoorsaam aan Jesus se opdrag te wees en haar getuienis in die groot stad uit te dra.
Sy het in die stad 'n jong man met die naam Apollos ontmoet. Hy was 'n student aan die groot biblioteek en museum van Alexandrië. Onder leiding van rabbi Efraim, het Apollos 'n deeglike kennis verwerf van die geskrifte van die profete. Hy was 'n welsprekende redenaar, wat vir Adina 'n tyd lank bygestaan het met die verkondiging van die evangelie in die groot hawestad, voordat hy na Efese vertrek het, waar Akwila en Priscilla hom verder onderrig het.
Adina se Christelike getuienis is deur die baie skepe uit die hawe van Alexandrië na die groot Romeinse wêreld uitgedra. Paulus was later verbaas om in Rome 'n Christelike gemeente aan te tref wat hy nie gestig het nie.
Daar het baie jare van vrugbare arbeid vir Adina in die wingerd van die Here verbygegaan. Sy het na haar terugkeer na Alexandrië nooit weer een van die getroue twaalf apostels van Jesus gesien nie. Sy het op rype ouderdom Jerusalem weer besoek.
Daar het sy verneem dat Simon Petrus jarelank sendingwerk gedoen het vanaf Babilon tot in Rome en hier waarskynlik onderstebo gekruisig is.
Johannes, die geliefde dissipel van Jesus, het die evangelie in Efese en ander plekke in Klein-Asië versprei en is later na die eiland Patmos verban. Hy is weer vrygelaat en het op 'n hoë ouderdom gesterf.
Jakobus, sy broer, het in Jerusalem en Judea gepreek, totdat Herodus hom laat vang en onthoof het.
Andreas, Petrus se broer, het waarskynlik sendingwerk in Griekeland en Klein-Asië gedoen en het as martelaar aan 'n kruis gesterf.
Bartolomeus of Natanael, het in Armenië gepreek en is daar doodgeslaan.
Filippus het sendingwerk in Frigië gedoen en as martelaar in Hiërapolis gesterf.
Matteus, of Levi die Tollenaar, het nadat hy die Matteus-evangelie geskryf het, as martelaar in Etiopië gesterf.
Jakobus, die seun van Alfeus, het die evangelie in Egipte gaan verkondig en het daar as martelaar aan 'n kruis gesterf.
Tomas het baie ver gegaan en sendingwerk in Persië en Indië gedoen en as martelaar naby Madras gesterf.
Judas Taddeus het volgens oorlewering in Persië en Assirië gepreek en as martelaar in Persië gesterf.
Simon Seloot is volgens oorlewering gekruisig.
Nadat Judas Iskariot vir Jesus verraai het en homself daarna opgehang het, het die ander dissipels vir Mattias in sy plek as die twaalfde dissipel gekies. Volgens oorlewering het hy sendingwerk in Etiopië gedoen en daar as martelaar gesterf.
Adina het haar diep voor God verootmoedig toe sy dit alles hoor en Hom gedank dat hy al die jare haar diens aan Hom aanvaar het, sonder dat sy soos die apostels ook vir Hom moes ly. In haar hart het daar tot aan haar einde voortdurend 'n heerlike jubellied weerklink:
Aan Jesus Christus,
geseënde Messias van God,
eniggebore Seun van die Vader,
aan U kom toe al die lof en dank van my hart,
want U is die blink Môrester.
Ons noem U Wonderbaar,
Raadsman, Sterke God,
Ewige Vader, Vredevors,
Middelaar en Verlosser!
Ek aanbid U in al u majesteit en heerlikheid,
tot in alle ewigheid!
AMEN