Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ervaring leer ons dat wanneer ons ons roeping en geloof uitleef maar nie daarin volhard nie, dit geen waarde het nie – daar is talle mense wat reg begryp het wat hulle lewensdoel is maar langs die pad moeg geword het. Dan was alles tevergeefs.
GEBOORTE VAN DIE AFRIKAANSE GEDAGTE
DIE WONDER VAN AFRIKAANS (1)
Lees reeks by Die Wonder van Afrikaans
PROF. DR. P. J. NIENABER
"Engels ! Engels ! Alles Engels !
Engels wat jy sien en hoor;
in ons skole, in ons kerke,
word ons moedertaal vermoor . . ."
Die Afrikaanse taalstryd is nie net 'n aksie vir die verwesenliking van 'n ideaal nie, dit is ook 'n reaksie teen die heersende toestande, 'n protesbeweging. Om die hervorming wat die Genootskappers beoog het, goed te verstaan, moet ons op die agtergrond let, dit is in hierdie geval, op die verengelsingspogings.
Met die koms van Jan van Riebeeck en sy groepie koloniste aan Tafelbaai op 6 April 1652 word 'n gemeenskap aan die suidhoek van Afrika gevestig wat die Hollandse taal praat, en hulle so ver moontlik inrig na die maatskaplike instellings waaraan hulle in die vaderland gewoond was.
Hulle beoefen die protestantse geloof en hou vas aan die oorgeerfde gebruike en leefreëls. Met ander woorde, hulle verteenwoordig die Hollandse gedagte van die blanke beskawing onder die Hottentotte en ander inboorlinge. Gaandeweg kry die Hollandse taal hier 'n ander kleuring. Onder die boerende bevolking van die platteland het Hollands in die loop van die agttiende eeu so ver afgewyk van die vorm wat in Nederland in gebruik was, dat dit sterk begin opval het. Ons het hier 'n nuwe loot van Hollands, die begin van 'n nuwe taal. Dit is 'n taalvorm wat op Afrikaanse bodem ontstaan het en net hier tuishoort — die eerste Europese taal wat in ons land 'n eie identiteit verkry het.
Na die tydelike besetting van die Kaap deur die Engelse (1795-1S03) het die Hollanders weer aan die bewind gekom, dog dit was van korte duur. In 1806 word die Kaap opnuut deur die Britte verower en daarmee doen die Engelse gedagte finaal sy intrede aan die suidhoek van Afrika.
Die toestand is in hoofsaak die volgende: die gevestigde blanke bevolking is eentalig Hollands-sprekend, maar die heerserklasse, wat ook al die sleutelposisies beset, is eentalig Engelssprekend.
Dit moes noodwendig tot hervormingspoginge en daaruit voortvloeiende botsings lei. Die Britse owerheid het enersyds veel in die werk gestel om Engelse immigrante hierheen te lok ten einde 'n vaste Engelssprekende bevolkingsgroep in ons land te vestig, en andersyds is na anglisering van die Hollandse volksdele gestreef.
Wat die doelstelling betref, het dit onder andere gevoer tot die vestiging van die boerende Britse Setlaars (sedert 1820) in die Oostelike Provinsie. Deurdat die Engelse die land besit en regeer, het dit hulle nasiegenote 'n sterk gevoel van eiewaarde en selfs meerderwaardigheid geskenk, wat weer 'n spoorslag was om hulle eie geestesgoedere, soos hulle taal, godsdiens, nasionale gewoontes en leefwyses hoog te hou en uit te lee£. Ten spyte daarvan dat hulle aanvanklik 'n klein persentasie van die vaste blanke bewoners gevorm het, was die Engelse van die begin af 'n kragtige beskawingsfaktor en het hulle hulle invloed laat geld. Veral op die gebied van vermaaklikheid en bestuursaangeleenthede het hul invloed voelbaar geword.
Tesame hiermee gaan die feit dat die kulturele bande met Nederland die een na die ander deurgeknip word, terwyl die nuwe kolonie op alle maniere nader aan die Engelse moederland getrek word.
Dit is voor die hand liggend dat van owerheidsweë nie net pogings aangewend is om Britse koloniste hierheen te bring nie, maar ook om die Britse gedagte onder die andertalige blanke inwoners te laat ingang vind. Dit geskied deur 'n aantal verordeninge wat die verdringing van Hollands beoog. Deur hierdie verordeninge word Hollands uit die skool, die kerk (gedeeltelik) en die staatsdiens geweer. Die gesamentlike uitwerking van al hierdie en ander faktore was dat die Afrikaner sy eie geestesgoedere, sy volk, sy taal, sy land gering geskat of verag het. 'Dutch1' het 'n onaangename betekenis gekrv — dit het 'n skeldnaam vir iets minderwaardigs geword. C. P. Hoogenhout kenskets die toestand teen 1870 baie treffend in sy gedig :
Engels ! Engels ! Alles Engels !
Engels wat jy sien en hoor;
in ons skole, in ons kerke,
word ons moedertaal vermoor . . .
In die sewentiger jare van die vorige eeu het die opregvoelende Afrikaners teen die verengelsing in opstand gekom, en is die Afrikaanse gedagte gebore. Dit was een van die eerste wonders wat ons taal betref; hieruit is die Afrikaanse Beweging gebore wat sou lei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.
Sedert 1795 tot 1860 is daar 'n redelike aantal stukke in Afrikaans geskrywe; samesprake, gedigte, briewe, maar dit was proewe ter wille van die grap en vir tydverdryf. Op Afrikaans as voertuig van gedagte het hulle neergesien en daarmee gespeel. Dit was net goed om jou daarin ongeleerd voor te doen, of om platboerse komiese effekte te bereik.
Ons merk dat Afrikaans geen regte opeis nie — dat hy nie aanspraak op die plek maak wat Nederlands en Engels in die land beklee het nie. Tog sou hy dit baie gou doen — en dit sou stryd en teenkanting tot gevolg he. Om die stryd in erns aan te knoop, was manne nodig met liefde vir en geloof in die taal van die volk, manne wat bereid sal wees om op te offer : hul tyd, hul geld, hul krag, hul liefde.
Hoe vreemd dit ook al mag klink, tog sou dit 'n lang tyd duur aleer Afrikaners self sal instem dat Afrikaans hul taal is. Hoewel hulle Nederlands nie meer korrek en met gemak kon praat (of skryf) nie, bly hulle dit toe nog steeds bestempel en aanvaar as hulle moedertaal.
Hulle moes eers bewus gemaak word van die eenvoudige waarheid dat Afrikaans hul moedertaal is. Bekerings- en oortuigingswerk moes vooraf verrig word — en soos dit altyd met groot hervormingsbewegings die geval is, sou een of 'n paar intellektueles 'n beter begrip van die reddingsmiddels hê en as hartstogtelike pleitbesorgers vir die nuwe saak optree.
Daar moes dus leiers kom wat 'n duidelike visioen kry en dissipels vir die ideaal werf. Sulke leiers was dr. Arnoldus Pannevis, ds. S. J. du Toit, C. P. Hoogenhout, Oom Lokomotief (D. F. du Toit), en ander. Dit was Pannevis se pogings, later gesteun deur C. P. Hoogenhout, wat gelei het tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.
Die doel van die G.R.A. was drieledig : 'Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land,' of, soos dit op die wapen tweeledig aangegee is : 'Vir Moedertaal en Vaderland.'
Hieruit blyk dat die beweging iets meer was as 'n taaJbeweging. Dit groepeer die regte Afrikaners, die Patriotte of ware vaderlanders saam in 'n verenigde strewe ten behoewe van die eie taal, nasie en land. Dit wil die hele volk bewus maak van sy geestesgoedere en opwek tot aanvaarding en toe-eiening. Die Genootskap rig hom tot die volksdeel wat in geestelike armoede leef, wat Nederlands tot 'n meerdere of mindere mate verstaan, maar hom daarin nie volledig of maklik kan uitdruk nie. Om die volk op te wek, moet hulle ook 'n stem kry, self kan praat en nie net luister nie. So word die nasionale beweging dan aanvanklik 'n strewe om die volk taalbewus te maak. Let in die verband daarop dat die G.R.A. nie net op die volwassenes en die lede die oog gehad het nie, maar ook op die kinders in die skole, en die toekoms.
Vir die leiers en die kampvegters was dit 'n groot program. Die leiers is nie in die eintlike sin geleerde mense nie (al was daar predikante en onderwysers onder hulle), en om 'n woordeboek of 'n spraakkuns van 'n haas ongeskrewe taal op stel, vereis vakkennis. Ook moes hulle vaste spelreëls soek en die jong taal in goeie bane lei — geen eenvoudige taak nie. Maar hulle was praktiese mense met gesonde insigte en in duidelike besef van die behoeftes van die oomblik.
Ons let daarop dat hulle besiel was met 'n sterk geloof en 'n groot liefde. Anders kon hulle nie so direk teen die gangbare mening en openbare opvattings ingegaan het nie. Hul strewe tog was niks minder as 'n opstand, 'n kettety teen gevestigde houdings en oortuigings nie. Bloot uit selfbeskerming teen die felle publieke afkeur moes hulle later 'n skuilnaam gebruik vir die redakteur van die koerantjie. Later sou die vyandigheid teen hul pogings baie hoog opvlam en hulle veel miskenning en verkleinering moes verduur — en tog het hulle volgehou. Want by hulle was dit 'n geloofsdaad. Ons het herhaaldelik die bewoë stem van diepe oortuiging en erns verneem by S. J. du Toit en C. P. Hoogenhout. Dit was vir hulle nie langer komedie nie, maar lewensnoodsaak.
Die groot betekenis van die stigting van die G.R.A. is dus tweërlei : (i) Sametrekking van kragte vir eendragtige optrede; (ii) 'n ware, indringende liefde vir die volkstaal en die nasionale saak by die voorstanders en baanbrekers.
Ná die publikasie van die Afrikaanse Volks-Iied : ' 'n Ieder Nasie het sy Land,' openbaar die Genootskappers hulle manifes, waarin hulle belydenis van hulle nuwe liefde aflê, met skriftuurlike bewyse die goeie reg van hulle saak verdedig en om ondersteuning vra. Daaruit haal ons aan: "Elke poging, al is dit nog so swak, om ons moedertaal, wat ons dierbaar en heilig is, te bewaar en te verdedig, sal ons voorstaan en bevorder so lank as ons leef . . . Die grootste gros van ons nasie praat almal nog Afrikaans. Maar daar is daarom drie soorte van Afrikaners. Dit moet ons in die oog hou. Daar is Afrikaners met ENGELSE harte. En daar is Afrikaners met HOLLANDSE harte. En dan is daar Afrikaners met AFRIKAANSE harte. Die laaste noem ons REGTE AFRIKANERS, en dié veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.
"En wat gaat ons dan maak? . . . Regte Afrikaners, ons roep julle op om saam met ons te erken dat die Afrikaanse taal ons moedertaal is wat die Liewe Here vir ons gegee het; en om saam met ons te staan vir ons taal deur dik en dun, en nie te rus nie voordat ons taal in alle opsigte algemeen erken is as die volkstaal van ons land."
In sy maandblad, Die Afrikaanse Patriot, het die G.R.A. nuwe strydvaardige artikels ter verdediging en regverdiging van sy saak geplaas. Medewerkers tree toe, en intekenare kom by die dag by, veral uit die platteland. Een rede wat die byval verklaar, is die eenvoudige, maklik-verstaanbare Boeretaal, ryk aan nuwe beeldingskrag. Hierby kom die gasvryheid en toeganklikheid van die redaksie, waardeur daar 'n persoonlike band tussen leser en tydskrif gelê word. In die begin het die Patriot haas geen ruimte oopgestel vir politieke of ekonomiese aangeleenthede nie. Aanvanklik was die koerant hoofsaaklik 'n nasionaal-gesinde taal- en kultuurblad.
Hoe groter die invloed van die Patriot geword het, hoe heftiger die teenstand. Die teenstand het gekom van binne en van buite. Die stryd moes aangeknoop word teen Engels en teen Nederlands. Omdat die twee tradisies so lank gevestig was, moes die Patriot vir eie bemoediging altyd 'n hoopvolle toon aanslaan, en met die teenstanders die spot dryf. Die Engelse koerante het hul stem afkeurend laat hoor, toe hulle nie meer die invloed van die G.R.A. kon onderdruk deur dit dood te swyg nie. President Reitz het in die South African Magazine van 1880 'n heftige stryd moes voer teen eerw. Wirgman, wat die Afrikaanse taal verkleineer het en dit bestempel het as 'n patois.
Maar van die kant was teenstand te verwagte. Dit het egter seergemaak waar dit van 'n kant kom wat die strewe moes gerugsteun het, van Hollandse kant naamlik. Daar is geleerdes, soos lord De Villiers, wat in 'n voorlesing Afrikaans bestempel het as armoedig wat betref woorde en verbuigings, en as ongeskik om hoër gedagtes uit te druk. Hollandse ouers het hulle kinders ten strengste belet om die Patriot in die huis te bring of te lees; aan vriende is selfs die deur gewys as hulle 'n afdruk van die blad het.
Die hoofrede van al die weerstand was weens die taalvorm, wat nog bowendien as die moedertaal, as die egte, ware landstaal voorgehou word. Dit is teen hierdie "aantyging" wat die teenstanders opgekom het, en die weerlegging van die bewering vorm die hoofinhoud van hulle protesbriewe en argumente. Nederlands, die taalvorm wat in die skool geleer word, dit is die beskaafde en eie moedertaal. Afrikaans daarenteen is sleggemaak en uitgekryt as die taal van onopgevoede bediendes, van die Hotnots en laer klasse. Voorstanders van Afrikaans word aandagtig gemaak dat Afrikaans geen toekoms as taal het nie, sonder literatuur, sonder die Bybel en Gesangboek, sonder erkenning deur staat, kerk en skool.
Maar hoekom was daar al die wanbegrippe aangaande die wese van Afrikaans en die doel van die G.R.A., en hoekom al die teenstand ?
Die Engelse koerantmanne en maghebbers sien noodsaaklik hierin magte wat werk in die rigting van desentralisasie van bestuur, dewolusie van beheer, en verbrokkeling van die imperialistiese strewe om van die Afrikaners Engelse te maak. Die onderwysers sien hier 'n versteuring van hulle taalwerk, die predikante oneerbiedigheid teenoor die Bybel en kerkboeke waar die Genootskappers dit in plat taal wil oorbring en die platheid ook vanaf die kansel wil hoor; hulle beskou die strewe as 'n stap in die rigting van veragterliking, ontaarding, weg van die beskawing en veredelende.
En tog, in weerwil van bitsige en venynige teenkanting, het die Patriot, die Afrikaanse beweging, vinnig vordering gemaak. Die taalbeweging groei spoedig uit tot 'n volksbeweging. Dit word juis deur die politieke gebeurtenisse in Transvaal (nl. die anneksasie van die Republiek deur Shepstone in 1877) grootliks bevorder. In weerwil van hul afkeur van sy taalvorm (Afrikaans), het baie persone intekenare op die koerant geword om sy voorspraak van die saak van die Transvalers te verneem. Hulle het dikwels sy taalvorm verafsku, maar sy politieke sienswyse toegejuig, en daarom ingeteken.
Ds. S. J. du Toit was nog die besielende leier en 'n man met groot invloed deur middel van die koerant. Hy laat die letterkundige werk veral aan C. P. Hoogenhout oor en begin meer in die politiek belang stel. Dit hinder hom dat die Afrikanerboer ondanks sy voorregte onder die Verantwoordelike Bestuur geen politieke mag in die land is nie, en so roep hy die Afrikanerbond in 1879 in die lewe — 'n organisasie wat later so sterk was dat dit misteries kon skep of ten val bring. Van dié liggaam word die Patriot die amptelike orgaan.
Van eweveel betekenis was die Patriot as middel om leeslus op te wek by die plattelandse bewoners wat anders nooit gewone lektuur ter hand neem nie; en om Afrikaans as skryftaal te bevorder. Die Patriot het hom gerig tot die plattelandse leser in sy betreklike afsondering. Aan hom moes nuwe waarde en 'n hoër waardigheid verleen word langs die weg van sy moedertaal. Herhaaldelik ontmoet ons juigende uitlatings van lesers, meestal besonder triwiaal maar tog kensketsend van volkskuns :
"Ons is so bly, ons is so bly, Ons sal ons eie taal nou kry; Ons lees al nes ons praat."
Rymlus het van die lesers besit geneem, veral in die bewoë jare van die Eerste Vryheidsoorlog. Soos daar treffend gesê is : "Elkeen wou rym, van genl. Piet Joubert af, tot die veewagtertjie in die veld." Die versies in die Patriot het Hoogenhout in sewe bundels versamel; novelles is geskryf, soos die bekende Sewe Duiwels van Cachet, 'n historiese roman : Di Koningin fan Skeba, 'n drama : Magrita Prinslo, 'n spraakkuns, 'n woordeboek, 'n geskiedenisboek — ja, voor 1900 het 92 Afrikaanse boeke die lig gesien. 'n Letterkundige tydskrif is opgerig, Ons Klyntji, en verskillende Bybelboeke is in Afrikaans oorgesit deur ds. S. J. du Toit.
Ongelukkig het die eerste Afrikaanse Beweging teen 1900 doodgeloop, hoofsaaklik deur die veranderde politieke houding van ds. S. J. du Toit, die leier : hy het naamlik oorgeloop na die vyand van sy volk. Die redes vir hierdie stap van ons eerste taalheld, is nie ter sake nie.
Samevattend kan ons sê : Die G.R.A. was 'n eksperiment wat van moed getuig en pragtige vrugte afgewerp het. Die Genootskap het die Afrikaanse Gedagte onder die breë massas gebring en in menige opsig die taak van die jongeres, wat die taalstryd sou voortsit, voorberei en vergemaklik. Die jongeres het in wesenlike sin dieselfde kern-ideale voorgestaan en die G.R.A. se program uitgevoer.
Die G.R.A. se vernaamste betekenis lê in die volgende opsigte :
- Dat dit propaganda vir Afrikaans gemaak het deur die wetenskaplike redenering van die logiese verstand;
- Dat dit propaganda vir Afrikaans gemaak het deur die lied, die woord in maat en rym, die redenering van die hart en gevoel, die besielde woord, en deur die verskaffing verder van leer- en leesboekies en algemene lektuur;
- Dat dit die volk nasionaal uit sy lomerige slaap wakker geskud het en dit 'n politieke (en 'n ekonomiese) faktor gemaak het;
Dat dit die volk kultureel krag- en besitbewus gemaak het, dit laat belang stel in sy taal, laat lees en skryf het en teruggebring het in die "stroom der beschaving" deur in kontak daarmee te kom.
Die belangrikheid van die beweging lê veral in die omstandigheid dat dit die deel van die volk bereik het wat vroeër ontoeganklik vir sulke invloede, ook van Nederlandse koerante en lektuur, behalwe van die Bybel was; dat dit die Afrikaanse volk ook verder wou beskaaf het deur middel van die Bybelwoord in die bekendste taalvorm. Hierdie aspek is 'n hoofvertakking van die groot boom.
Byna alles wat in Afrikaans verskyn het sedert 1875 tot omstreeks 1900, byna alle werk ten bate van die volkstaal verrig, kom op rekening van die Patriotbeweging.