Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
HEIDE
(Ericaceae)
Dis mos name wat Afrikaans laat sing.
Klokkiesheide en Kapokkies
Taaiheide en Trilheide
Reenboogheide en Rooihartjies
Veerheide en Vier Susters
Rooiklossieheide en Kommetjiepieringheide
Bessieheide en Bruidsheide
Onderrokheide en Kolheide
Koue Bokkeveldheide en Mielieheide
Fynbossie, wonderbossie wat regdeur die jaar met vier-punttuitjies blom. Ingeryg teen die stammetjies sit hulle met die puntjies beskeie na onder geklok.
Vier Susters is die naam van die waswit heidegesiggies met die helder gemerkte middelpuntjies - vier enkele kroonblare wat mekaar netjies stut. Kyk ook na die ander soorte en jy vind dat byna almal vier blaarpuntjies het pleks van die gewone vyf of ander onewe getal kroonblare wat blomme en bloeisels dikwels het. Die blaartjies is duidelik sigbaar in die washeide van Franschhoek, die bruidsheide, die klokkiesheide, die taaiheide en die rare Erica junonia van die berge in die Koue Bokkeveld.
Teer in voorkoms en tog bly hulle lank mooi aan die bos en as plukblomme in 'n vaas. Soos die gannabos van die Karoo het hulle 'n slim plan om lank sonder water klaar te kom. Die heidebossie het dit reggekry om sy kosbehoeftes met die beskikbare watervoorraad te reël. Hulle het 'n uithouvermoë wat sagte plante in bestendige klimaatstoestande nie het nie. Anders as die heide hoef sulke plante nie besorg te wees oor waar môre se water vandaan gaan kom nie.
Daar is die rysies met hulle klein, wollerige roomkleur blommetjies wat langs die bergstrome groei. En daar is die dwergies van heideland wat in die klipskeure van die berge vasklou. Hulle dra van die kleinste volmaakte blommetjies in die planteryk.
In hulle sien jy die heidemeisie wat uit 'n lappie eenvoudige blommetjieskatoen die bekoorlikste klere en versierings vir haar blyplek prakseer. Sy sit nooit hand in die hare oor wat-trek-ek-aan of hoe-kan-ek-'n-vertrek-opvrolik nie. En sy kan 'n rand rek deur met min geld iets te skep wat elke kyker bekoor en aanspoor om haar omgewing knus en gesellig te maak.
Die heidekind het die ingebore gawe om wat sy ook al dra, bekoorlik en natuurlik te laat vertoon. En jy vind 'n ryke verskeidenheid van die kothuis-kinders in die ouer dele van die groot stede. Met ywer word die huisies en meubels gerestoureer en die ou gebruiksvoorwerpe en resepte in ere herstel met 'n eerbied vir alles wat eie aan die land is. Eie soos die talryke soorte heide ...
Want meer as 620 spesies van die plantfamilie is al gevind terwyl vele nog nie beskryf is nie. Sowat 28 spesies word elders in die wêreld aangetref- in Wes-Europa, die Mediterreense streke en op die hooglande van Oos-Afrika. Maar hoe dit gekom het dat meer as 600 in Suidwes-Kaapland en meer as 100 op die Kaapse Skiereiland gekonsentreer is, bly 'n geheimenis. En oor hierdie rykdom is elke Suid-Afrikaanse plantliefhebber dankbaar. Jy vind hulle langs die kus, in die oop veld en in rotsskeure. Jy groet hulle langs die waterstrome, in die vleie en op die hoe bergspitse.
Een ding is seker: as jy heide wil kweek, moet jy hulle verstaan. Hulle hou van suur grond, veen, blaarkompos en verrotte dennenaalde. Kalkgrond is nie vir hulle nie. Hulle hou van water maar ook van goeie dreinering. Hulle hou van lugsirkulasie maar teen koue wil hulle beskut wees. En die fyn wortels wil nie gesteur wees nie: waar hulle staan, wil hulle bly sonder 'n gevroetel rondom hulle.
Jy kan die heidevrou uitken: op die oog af fyntjies en tog taai en met 'n uithouvermoë wat 'n mens verstom. Sy is beroepsvrou en huisvrou, moeder en lewensmaat, raadgeefster en vertrooster, helpster en plannemaker. En boweal vind sy tyd vir haar kerk en haar medemens. Sy staan oop en bloot op die velde en teen die berghange van die lewe waar die wind ook sterk kan waai. Sy het niks om weg te steek nie en bly haarself in alles wat sy aanpak.
Sy's nie net fynbos nie, maar ook sterkbos. Streel oor 'n heidetakkie en jy voel die skerp, naaldagtige blaartjies onder jou vingers praat. En jy ruik die veld, hoor die voëls en die wind in die klowe en oor die ooptes. En jy steek 'n paar takkies in 'n glashouer, kyk deur die glas na die nat, bruin houtstingeltjies. Suiwer en opreg, die heidemens. Maar 'n mens moet haar verstaan en koester, want sy het duidelike voorkeure en afkeure. Jou aanslag kan haar laat floreer of laat faal.
En haar bekoorlikste eienskap is haar beskeidenheid. Selfs al het sy rede om haar klokkies hard te lui, of 'n fanfare te blaas, bly sy haar mistieke ingetoënheid behou. En juis dít maak van dié veldkind 'n koninklike blom.