Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos wat jy tot jou eie verbasing pêrels mag vind tussen die afgesakte plankton op die seebodem, so vind jy soms kosbare vertroosting deur gebed tussen al die swart slyk van lewensprobleme wat jou dikwels wil versmoor.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
KRAANVOËLBLOM
(Strelitzia reginae)
As daar nou in die wêreld 'n gepaste naam vir 'n blom is, dan is dit dié van ons eie kraanvoëlblom. Hierdie besondere inheemse blomsoort het sy botaniese naam op 'n interessante wyse ontvang.
In 1773 het sir Joseph Banks die strelitzia in die droërdele van Oos-Kaapland versamel en na die Kew Botaniese Tuin in Londen gestuur. Eers in 1779 word die plant beskryf en genoem na koningin Sophia Charlotte, vrou van koning George III van Engeland, wat voor haar troue 'n prinses van Mecklenburg-Strelitz was. Vandaar die naam Strelitzia reginae.
Fier en koninklik in elke lyn vertoon die blom die oranje en blou van ons landsvlag, loer guitig bo-oor deftige tuinmure en staan alleen by 'n kraan in 'n nederige blokkie tuin.
Hierdie kraanvoëlblom laat nie van hom lyne maak in 'n rangskikking nie - hy IS self die lyn. Die bloeiskede waaruit die blom oopvou, sit feitlik reghoekig op die blomsteel en lyk nes die bek van 'n voël. Die oranje kelkblare staan regop soos die kam van die kraanvoël se kop. Die helderblou kroonblare staan soos skepeltjies vooruit.
Die strelitzia-vrou is nie fyn en broos nie. Sy het 'n taaie uithou- en aanhouvermoë. Na 'n kwartiertjie se voete-omhoog-rus, klim sy weer met mening in 'n taak in. Gedissiplineerd en metodies handel sy die een skepeltjie werk na die ander af. Haar dae vou die een na die ander oop met 'n tikkie blou daarin - blou soos van Hoop en nie van Bloumaandag nie, Blou wat beteken uitsig, 'n wyer horison, 'n nuwe stuk ervaring in die dag wat die lewe net eenkeer aanbied. En kyk 'n mens in haar oë, kyk jy 'n oneindigheid in. Sy laat jou besef: of die tye goed is en of die tye moeilik is, dis die enigste tyd wat jy het.
Stewig en onbuigbaar kyk sy die wêreld in die oë of dit nou in 'n klein plattelandse saaltjie is of in 'n groot internasionale uitstalruimte erens in 'n wêreldstad. Want die strelitzia is gesog in Engeland en Europa al moet dit dikwels in broeikaste gekweek of van Suid-Afrika geboeing word. In Kalifornie, Amerika word dit reeds op groot skaal buitenshuis gekweek en die stad Los Angeles het dit as sy stadsembleem aanvaar!
Die blom is verwant aan die wildepiesang wat wild en weelderig in die warm dele van Natal, Transkei en die Oostelike Provinsie groei. Die breë blare groei tot ses meter hoog en dra yslike blomme waarvan die kelkblare ivoor-kleurig en die kroonblare bleekblou is. Eintlik vertoon dit vaal en onopvallend teenoor die helder oranje en blou van die kraanvoëlblom wat ook soms die geelpiesang of die Bird-of-Paradise genoem word. Daar is ook 'n geel kraanvoëlblom wat baie seldsaam is.
Die blomme hou besopder lank en verskyn van tyd tot tyd deur die jaar maar hoofsaaklik in die winter en lente. Wanneer die lang wortels goed gevestig is, kan die plant lank sonder water klaarkom. Die strelitzia hou nie daarvan om verplant te word nie en word dit wel gedoen, kan dit maklik twee jaar duur voordat dit weer blomme uitstoot.
Die trotse blom laat 'n mens dink aan 'n Voortrekkervrou wat eens gesêhet: "Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberge as om onder die Engelse vlag te staan." Of die moedige vrou van Andries Pretorius wat hom uit haar siekbed aangespoor het om sy mense suid van die Vaalrivier te gaan help.
"Ek is baie siek. Die lewe kan jy my nie gee nie. Jou mense het jou nodig. Ry na jou landgenote en kyk wat jy vir hulle kan doen terwyl die saak so dringend is." En hy gaan. By sy terugkeer was sy reeds heengegaan.
Die dapper houding sien jy ook in Anton van Wouw se beeldegroep voor die Vrouemonument in Bloemfontein. Fier en regop staan die jonger vrou langs haar verslae, ouer kampsuster en uitkyk oor die vlaktes van die toekoms.
In die huidige tyd is daar nog sulke vroue. By al die leed en kommer wat 'n langdurige, slepende oorlog oor hulle gesinne bring, staan hulle vas en regop: versorg die huis of die plaas, die kinders, die oues van dae, die eensames en bedroefdes en doen liefdeswerk onder die behoeftiges. En saam met Jan F.E. Celliers sien jy haar wen . . . "want haar naam is Vrou, en Moeder."
Haar wortels lê diep in die bodem. Sy staan stewig in die aarde onder die Suiderkruis geplant. En sy verplant nie maklik nie. Sy glo dat daar 'n doel is met haar staning op 'n sekere plek. En moet sy wel haar land elders gaan verteenwoordig - vir kort, vir lank, vir altyd - staan sy vierkantig haar plek vol. En sy dwing die bewondering van die wêreld af vanweë haar besondere eiesoortigheid.
En loop jy êrens in die vreemde 'n kraanvoëlblom raak, hoor jy diep en duidelik die eerste note van die Stem van Suid-Afrika.
"Uit die blou van onse hemel..."