Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
’n Mens hoor gereeld van mense wat geld vervals en deur die gereg vasgetrek is. As iets soortgelyks maar op kerklike gebied kon gebeur en die vervalsers van die waarheid aan die pen kon ry, sou dit baie beter met ons land gegaan het!
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
BLOULELIE
(Agapanthus)
So 'n blou blom kry maklik verskeie liefdesname uit die mond van die talle bewonderaars: bloulelie, sambreelblom, kandelaar, keiserskroon, klokkie-agapant en Lelie van die Nyl. Die een wat die meeste in tuine oor die hele land groei, is Agapanthus orientalis waarvan die blomstele maklik 'n meter hoog word en yslike blou-blou blomkoppe dra. Die een met die wit blomme is minder algemeen en elke tuinier kyk uit vir 'n plantjie van die wit agapant.
En die bloulelie is net so Suid-Afrikaans as die blou van onse hemel. Dit groei wild op verskeie plekke in die land - van die kus tot teen die berghange, alhoewel die beskawing hulle ook al tot in die haas onbereikbare plekke laat vlug het. Maar in parke en tuine is hulle oor die hele wereld 'n groot gunsteling.
Ook die vrou in die bloulelie is lank en lenig en wêreldwyd as model in aanvraag. Sy stap met elegante gemak en selfvertroue oor die paradeloopvlak terwyl die kortgeboude evatjies uit pure frustrasie (sic!) sug. Want so sal hulle tog nooit in daardie asemrowende uitrusting kan pronk nie ...
En sou die bloulelie ooit kla dat sy 'n regte ou "hemel-besem"is? Natuurlik nie. 'n Bloulelie-mens kla nie. Sy blom net van die vroeë lente tot in die laatsomer en oorleef die lang-lang winter. En sy glo dat wat sy ondervind, nie so belangrik is as hoe sy dit dra nie.
Die bloulelie is een van die eerste Suid-Afrikaanse plante wat reeds in 1679 in Europa gekweek is. In 'n 1687-katalogus van die Leydense Botaniese Tuin is dit al opgeteken. In die Journal of South African Botany (aanvullende volume IV) skryf Frances Leighton breedvoerig oor hierdie gewilde inheemse leliesoort.
Onder die swart volke word die plant lank reeds in medisyne en as paljas gebruik. Die Kosa-bruid het in die ou dae 'n halssnoer van stukkies blouleliewortel gedra vir vrugbaarheid en maklike geboorte terwyl die fyngemaalde wortels van die plant vir verskeie kwale gebruik is.
Bloulelies hou van genoeg water in die lente en die somer wanneer hulle die sambrele oopvou en die reën koel deur die blou kelkies spat. Hulle groei van 'n wortelstok en vorm algaande 'n hele koek vlesige wortels wat elke paar jaar verdeel kan word.
Van die Kaapse Skiereiland tot by Mosselbaai groei die Agapanthus africanus waarvan die blomstele heelwat korter is as die van die algemeen bekende soort. Die blare is immergroen en die blomme diepblou en soms bleekblou. Die soort is 'n staatmaker in die kleiner tuin en in blombakke. En wat 'n dankbare en bruikbare blom wat in die oop son sowel as in gedeeltelike koelte goed aanpas en blom.
Die bloulelie is een van die min plante wat met boomwortels kan meeding. Die azalea met sy klein wortelstelsel byvoorbeeld word heeltemal deur boomwortels verwurg en kwyn weg in die oop grond onder bome. Maar die bloulelie hou en groei ook goed in die gefiltreerde sonlig. Hulle kan taamlik lank sonder water klaarkom en is daarom so geskik vir aanplanting in parke, Iangs paaie en oral in die tuin. Die blomme hou weke lank aan die plant en 'n goeie paar dae as 'n plukblom.
Niks kan blouer staan nie as 'n groep bloulelies hoog bo die groen van die blare. Dis 'n gesig waarby die haastige motoris sou wou stilhou om die blou van die see en die lug en die blom saam te kring tot 'n blywende herinnering. Maar 'n snelweg is nie vir stilhou nie...
Teenoor die bekende soorte met die wydoop blomtuite, is daar ook dié met buisvormige blomme wat ondertoe hang soos die Agapanthus inapertus wat in die berge van Oos- en Noord-Transvaal groei. Hulle troon tot twee meter hoog en trek die aandag met die diepblou blomme wat nie wyd oopgaan nie en na onder druip.
Die vrou in die bloulelie staan rustig en stewig op die aarde. Sy kan stil uitstyg bokant die kleinlikhede en komplekse wat soveel ongelukkigheid onder die vroulike geslag kan veroorsaak. Haar lewe is oop sodat die vars lug deur die kamers van haar hart kan waai. Sy hou nie daarvan om verplant te word nie, maar besef dat dit in sekere omstandighede noodsaaklik kan wees.
Sy weet dat oorbevolktheid 'n wêreldprobleem is en dat 'n mens van tyd tot tyd minder moet maak en nuwe orde in jou eie lewe moet skep - al is dit net om oorvol kaste en Iaaie en huise en harte deur te werk en planmatig weg te doen met die onnodige, die oortollige, die uitgediende. Want breek die tyd vir 'n laaste verhuising aan, wil sy nie 'n warboel op die agterblywendes se skouers nalaat nie.
Die bloulelie hou van geselskap en blom op haar beste tussen haar eie mense, in haar eie omgewing. Sy is lief vir die buitelewe en hou daarvan om te draf met die wind deur haar hare en 'n rustigheid in die oë. Sy kwyn nie weg in die teenwoordigheid van 'n sterker persoonlikheid nie, maar kruip in die harte van groot en klein met haar eerlike kyk wat van ligblou tot donkerblou kan verdiep, wat soms 'n donker lyntjie om die iris van die oog het.
Sy is 'n rotsvaste huweliksmaat. En sy kan in die koelte van haar man gedy. Sy waai nie maklik om nie en haar takt red meermale 'n gebroke menslike verhouding. Sy ken geloof en hoop en liefde wat laat groei en bloei.