Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die pad na sukses loop opdraand en is altyd in aanbou . ‘n Eerbare volksleier weet dat sukses die produk van baie harde werk is. Dis ‘n vrug wat stadig ryp word. Niemand bekom dit teen ‘n winskoopprys nie. Harde werk dra altyd soet vrugte.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
FUCHSIA
(Fuchsia - Fam. Onagraceae)
Vanwaar die klein ballerinas wat in elke tuin knik en hang en dans in al die skakerings van rooskleur, rooi, pers en wit? En hoewel M.E.R. skryf van "die blomblikke vol fuchsias en malvas...", is hulle beslis nie soos die malva van hierdie land nie.
Die plant waarvan daar sowat honderd spesies en tallose variëteite bestaan, is vernoem na Leonard Fuchs, die groot Duitse vader van die plantkunde. Hy het dertig jaar lank 'n leerstoel in die medisyne aan die Tubingen Universiteit beklee. Geneeskunde en plantkunde het toe hand aan hand geloop omdat omtrent alle medisyne toentertyd van kruie gemaak was. Sy werk wat in 1542 verskyn, is 'n baken in die wêreld van die plantkunde.
Die fuchsia kom oorspronklik uit die woude en die klam, skaduryke dele van die berge in Sentraal- en Suid-Amerika.
Hierdie wilde spesies kan nie meeding met die glorie en blomrykheid van die tallose gekruisde soorte oor die hele wêreld nie.
In 1788 net 'n Engelse seeman, kaptein Firth, ná sy reise twee fuchsia-plante huis toe gebring, Een daarvan het hy aan die Kew Botaniese Tuin naby sy tuiste in Londen geskenk. Die ander een gee hy toe aan sy vrou wat dit in 'n venster aan die straatkant van hulle huis vertoon het.
Nadat die kaptein weer op 'n seereis vertrek het, sien kweker James Lee die plant raak en oorreed mev. Firth om dit teen £80 aan hom te verkoop. Lee kweek driehonderd plante daaruit en gee een daarvan aan mev. Firth om die oorspronklike te vervang. Die res verkoop hy in 1793 vir tussen tien en twintig ghienies elk. In dié tyd was plantversameling 'n koors en baie nuwe plantsoorte het vir die eerste keer in Engeland aangekom. Teen 1825 het ander soorte fuchsias ook die land binne gekom en daar is met kruisings begin. Vroeg in die twintigste eeu is van die bekende soorte wat ons vandag ken, al gekweek.
Die tuinfuchsia is grootliks deur kruisbestuiwing uit die moederplante Fuchsia magellanica en Fuchsia fulgens gekweek. Fuchsia coccinea is een van die eerste spesies wat hoofsaaklik as glashuisplant gebruik is. Vandag is daar fuchsia-verenigings en kwekerye wat hulle net op die kweek van fuchsias toelê. Hulle kweek deur kruisbestuiwing van die allermooiste blomdraende plante in 'n verstommende reeks kleure en vorms. Daar is dwergsoorte en reuse soorte wat tot vyf meter hoog kan word.
Daar is fyn rankplante vir hangmandjies, mure en potte; daar is struike van 'n meter en hoër, daar is sterker rankers en uit sommige soorte word hoogstam-plante gevorm. Die plante is geslagte lank gewild om huise, tuine, binnehowe en terrasse te verfraai.
Die fuchsia hou van 'n koel, vogtige klimaat en gedeeltelike skaduwee. Skerp sonlig en droë winde beskadig die plante. Maar eintlik groei hulle maklik en vinnig en vra min aandag in humusryke en goedgedreineerde grond. Steggies geneem uit die punte van die lote sonder blomme, groei maklik wanneer hulle klam gehou word. In kwaai koue kan 'n glasfles oor die steggie omgekeer word.
En ná die winter kan die plante goed teruggesnoei word. In gunstige omstandighede blom die plant die heeljaar deur. Bekende soorte wat jare lank al gewild is, is die rooi en wit dubbele Ballet Girl, die roomwit dubbele Flying Cloud en die wit en diep-pers enkele Marina Glow. Val die blomkoppe af, kan jy maar weet: die kompos en die lug is te droog, dit kry te veel son of jy het die plante beweeg terwyl dit in blom is.
Die fuchsia herinner 'n mens aan die Suid-Afrikaanse vrou wat uit hoeveel verskillende volksgroepe stam: Geuse en Hugenote, Duitsers en Engelse en andere. Onder hulle is daar die sterkes wat hoog groei en die kleineres wat fisiek broos voorkom. En dan merk jy ook so 'n tikkie van die Afrikaanse kruidjie-roer-my-nie in die fuchsia-mensie. Pas op, haar blom breek maklik af as 'n man nog dink hy wil net die fyn kinnetjie oplig om in haar oë te kyk! Sy wip haar voor hy veel verder kan kom ... en die spel begin. Sy vlug en hy volg want sy beskermingsdrang het ontwaak. En sy het 'n ridderlike maat nodig, iemand wat prakties en plat op die aarde staan. Want sy wieg eerder op die vreugde van die dae as om toe te sien dat 'n rekening betaal is of dat daar brandstof in die motor is.
Want die fuchsia-vrou is 'n dartelfyne ou mensie wat gelukkig is op die punte van haar tone. Die warm son (van die lewe) skroei haar maklik en derhalwe is sy beslis nie 'n bruingebrande sportvrou of 'n sonaanbidder nie. Sy is afhanklik van liefde en ongedwonge versorging. Dan is sy onuitputlik! Heeljaar deur kan sy 'n tempo handhaaf wat jou kan verstom en sonder haar sou die samelewing minder kleurvol wees.
Veral in die koeler herfs en lente of in reënerige weer floreer sy en lewer diens op al wat 'n "terrein" is al is sy nie so prakties aangelê nie. 'n Mens kan jou verkyk aan die neusie wat fyn wip onder die oë wat oop en eerlik die wêreld aankyk. Sy maak nie 'n moordkuil van haar hart nie, alhoewel jy haar nie altyd heeltemal kan peil nie ... so half asof sy nie van die wêreld is nie.
'n Fuchsia-mens skink altyd die tee in die fynste porselein - ook vir die alledaagse gebruik. En wanneer sy self die koppies behendig opwas, weet jy: sy breek nooit een nie, sy kan fynvat en regvat. En skynbaar eindig al haar sinne met 'n komma, want haar stem lig telkens asof sy nog iets te sê het...
'n Mens word nooit moeg vir 'n fuchsia nie.