Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is soos getinte ruite. As die son skyn, glinster almal. Maar as dit donker word, verraai net ʼn lig wat binne brand, dat daar lewe in die huis is.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
DIE KAPPERTJIE
(Tropaeolum majus)
My rykdom nou, 'n druppel reën wat in 'n kappertjie gekelk is,
met glans wat voortleef in die gees na kleur en fleur verwelk is.
Streel jy met die rugkant van 'n vinger oor 'n kappertjie, wil jy amper kyk of die rykdom van kleur nie aan die vel afgee soos dit 'n gemoedstemming kan aanraak nie. Want soveel kleur binne die ragfyn tekstuur van die kroonblare, lyk bykans onmoontlik. Geen wonder nie dat die rykste geel op die skilder se palet as kadmium-geel of kappertjie-geel bekend is.
Kappertjie is die volksnaam van Tropaeolum majus, 'n kruidgewas met skildvormige blare en langsteel blomme wat wissel van geel tot oranje tot dieprooi. Die sap van die blomme en die blare het 'n skerp smaak en 'n kenmerkende geur. Die vlesige saad van die kappertjie en die blomkoppe, gepekel of in asyn ingelê, word vir slaai of sous gebruik. En in die wêreld van die kruiekunde is kappertjieblare 'n belangrike kuur, die antibiotika van die natuur.
Die tuinkappertjie of Indiese bronkors groei inheems in Suid-Amerika. Van Peru kom 'n meerjarige klimop-kappertjie wat gewoonlik as 'n geharde jaarplant gekweek word. Die dwergsoorte of "Klein Duimpie" is 'n uitstekende randplant.
Tropaeolum minus is die miniatuur van die tuinkappertjie en blom oorvloedig in die helderste kleure. Uit Chile kom nog 'n pragtige soort. Almal groei maklik van saad in 'n warm, sonnige piek waar die ryp nie kan bykom nie. In te ryk grond maak die plant geil blare maar min blomme. Die nederige tuinjuweel floreer en blom oorvloedig wanneer dit eintlik min kos en water kry.
Hierdie bekende plant is verwant aan die mosterdfamilie en kom oorspronklik van Europa en Asië en is algemeen in Groot-Brittanje. Dit is ook wyd ingeburger in die Verenigde State van Amerika en Kanada. Ook in Wes-Indië en Suid-Amerika is dit lank reeds as inheems bekend.
Dit verklaar seker waarom die vrou in die kappertjie haar oral in die wêreld goed kan aanpas. Woon sy in die land, is sy 'n ware patriot. Kyk haar maar met jou volksfeeste: Voortrekkerrok en tuitkappie, nekdoek en moffies kompleet. Sy maak geen geheim daarvan nie dat sy haar land, volk en taal bo alles liefhet. En is sy van 'n ander volksgroep, vind jy haar lojaliteit en toewyding ewe sterk daar aan. Sy jodel die Tiroolse melodie; sy klopdans vurig met klokkende rokvalle en kastanjette die Latyns-Amerikaanse ritme; sy kry trane in die oë wanneer die Skotte met hul doedelsakke verby marsjeer en sy sit toe-oë en handeklap vir Zorba, die Griek.
Een van die klein wondere van die kappertjie is dat 'n druppel water gekelk in 'n blaar van die plant, soos 'n geslypte kristal vertoon. Dit is een van die vroegste ontdekkings wat 'n tuinkind maak. Die juweel-herinnering vergeet jy nooit weer nie. En 'n natuurstudieles wat 'n kind goed onthou, is die van 'n kappertjie wat in 'n glas water getint met rooi ink geplaas word. Verwonderd kan die kinderoë waarneem hoe die deursigtige steeltjie van onder af die rooi water opsuig.
Die kappertjie is by uitnemendheid die blom wat hom nie laat rangskik nie. Die waterversadigde steeltjies buig die blomkoppe almal opwaarts. Nogtans maak die warm kleure van die kappertjie 'n feestelike plukblom. Min ander plante dra die sonlig so volmaak oor - van amperwit tot liggeel, van donkergeel tot ligoranje, van dieporanje tot karmosyn. Hulle bring die son saam tot in die kilste kamer en maak van 'n huis 'n woonplek met warmte en liefde. Met die instap sien jy sommer: hier woon 'n handvaardige kappertjie, 'n bruikbare mens.
Niemand stap onbewoë by 'n kappertjie in volle blom verby nie. Oral waar die saad gesaai of weggegooi word, groei dit. Toe daar nog oop erwe teen die woonstelhange van Duiwelspiek was, pluk jy met 'n kleuter aan die hand kappertjies wat soos wafferse veldblomme tussen die Kaapse gewasse groei.
"Mevrou, maar dis mos nie blomme die nie!" lag Veronica, die Kleurlingvrou wat een dag per week die woonstel kom skoonmaak. "Ek sal volgende week vir Mevrou blomme saambring. Daar groei baie waar my man-hulle besig is om huise te bou."
Van die woonstelbalkon af sien jy 'n week later ver onder in St Jamesstraat 'n wit massa wieg-wieg aankom. Dit was toe Veronica met 'n reusebos van die grootste aronskelke wat jou Vrystaatgebore oë nog ooit aanskou het. Hulle oorheers die woonstel koelwit vir 'n week of wat voordat die kappertjies weer in hulle hoekie kon skyn.
'n Kappertjie-mens vra na teerheid en koestering. Sy kry so maklik seer en breek selfs by die onverskillige aanraking. Nie omdat sy liggeraak of kleinserig is nie, maar vanweë haar ingebore samestelling. Sy vra nie na rykdom, eer en spesiale behandeling nie, maar wil alleen gelaat wees om haarself te vind. En al is sy nie sterk nie, laat sy haar nie maklik rondbeveel nie!
Maar plaas haar in die drukgang van droogte of krisis, dan moet jy sien. Uit 'n oorskietlappie skep sy 'n interessante, kleurvolle uitrusting; uit die goedkoopste vleissnitte berei sy fynproewergeregte; kom jy na haar met die stekelrigste probleem, weet sy raad.
"Kom ons slaap 'n nag daaroor. Môre sal ons weet wat om te doen." En môreoggend kom sy met 'n eenvoudige oplossing waaraan niemand gister kon dink nie!
Sy stel nie teleur nie, sy gee soos net sy kan gee. En self is sy met min tevrede en word bemin om haar onkreukbare integriteit. Haar hele groeiwyse is boontoe, na waar daar lig en ruimte en son is.