Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dr DF Malan het by geleentheid gesê wie wil lewe en waarlik wil lewe, moet nie net lewenslus hê nie maar ook sterwensmoed. Dit sluit aan my DL Moody se stelling: "Eendag sal julle in die koerant lees dat DL Moody dood is. Moenie 'n woord daarvan glo nie! Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as tevore."
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
VYGIE
(Mesembryanthemaceae)
In die wêreld van die vygie kan 'n mens maklik verdwaal, so ver en wyd vertak die plantsoort. Die botaniese naam is afgelei van die Griekse woorde mesembria wat middag en anthemon wat blom beteken omdat die blom op die middag in die volle sonlig oopgaan. Op betrokke dae en snags sluit die blomme dig en sonder lig en kleur - soos die talle blommekykers al ondervind het.
Maar in die helder sonskyn kan 'n lap vygies 'n mens byna verblind met hulle glinsterende kleur. In die koue lande soos die Britse Eilande en in die noordooste van die Verenigde State van Amerika waar dit in glashuise gekweek word, staan die vygie, eienaardig genoeg, as die ysplant bekend omdat dit glinster asof met ys oortrek!
Hoewel daar ook sekere soorte vygies in Griekeland, die Mediterreense streke en die Kanariese eilande groei, kom die vygie verreweg die meeste in Suid-Afrika voor. Dit is ook wyd ingeburger in Kalifornië en word gekweek om die sandduine langs die kus naby Los Angeles te beheer.
Meer as 2000 spesies groei wild in Suid-Afrika. Van die droë dele van Suidwes-Afrika tot in Namakwaland en Noordwes-Kaapland, van die westelike Karoo en suid-waarts tot by Riversdal in Suid-Kaapland tot in die Klein Karoo is die vygie 'n ou bekende.
Al die vygies is vetplante. Sommige is sagte rankers en ander is meer struikagtig. Sommige se blare is kantig en ander s'n is rond. Oral in tuine is die vygie 'n ou geliefde -veral in karoo-tuine. Met die syagtige, fraaiingrige blommetjies floreer hy in sanderige gruisgrond wat maklik dreineer. Veral teen die skuinstes en in die rantjietuin is vygies van groot waarde en maak 'n asemrowende vertoning wanneer in volle blom.
In die natuur kan die vygie homself beskerm. Daar is die een met die gevlekte voorkoms wat net soos die rotse lyk waarop hy in die krake en voue groei. Honger diere sien hom nie maklik raak nie. 'n Ander soort verberg hom onder die los sand om van die skroeiende son te ontvlug. Net die punte van die silindervormige blare steek bo die sand uit, die punte waarvan net genoeg lig vir fotosintese deurlaat. Hierdie "venster"-plante kom voor in die suide van die Namib-woestyn en by die Oranjeriviermond. Die kwaggavygie se enkele blom verskyn uit die voue van die dik, vlesige massa wat byna nie blare genoem kan word nie.
Van die bekoorlikste vygies is die bokbaaivygie waarvan die kleure wissel van oranje tot die sagste rooskleur, van geel tot wit. Hulle kroonblare het 'n duidelike wit kring rondom die donker middelpunte. Hulle groei wild aan die Wes-Kaapse kus tussen Milnerton en Saldanah en word oor die hele aarde heen in lentetuine gesien.
Omdat die vygiemens 'n groot deel van die lewe onopvallend en plat op die grond rank, word sy nie altyd na waarde geskat nie. Maar die vygievrou is die sout van die aarde. Sy kan nog met die hand borduur, kouse stop, 'n knoopsgat maak en 'n doilie hekel. Van seepkook en vleiswerk en broodbak ken sy nog.
Sy praat nie onnodig nie, maar kan oorvloediglik uit 'n ruim hart gee. Sy het altyd vir die onverwagte besoeker 'n bord kos en 'n slaapplekkie. En ná 'n besoek stap jy nooit met leë hande uit haar woning nie. Van 'n slopie springbokbiltong en 'n steen boerseep tot 'n kardoesie droëperskes en 'n flessie waatlemoenstukke maak haar hande bymekaar. En die hopie is nie afgerond sonder 'n meelsakvadoek nie.
Want die vygie weet van die bewaring en die bewerking van elke bron van voedsel en materiaal. Sy weet hoe om te bespaar sonder om suinig te wees. Haar spontane goedhartigheid gryp jou in die hart.
"Kom weer," sê sy opreg en haar oë blink nes vygieblomme. En jy weet die blink is deels trane oor die alleenheid en die afgesonderdheid in 'n harde, droë landstreek waar hierdie mense vasgegroei is. Hulle glo "eendag kom die reën en dan skop ons almal weer agterop" soos 'n groot Noordwester, skrywer F.A. Venter, dit eenkeer gestel het.
Die vygie leef nie groot en verhewe nie, maar na aan die aarde. Sy vra nie na weelde nie want vir haar is die lewe eenvoudig en die Skepper daarvan naby. Sy kan planne maak en vastrap wanneer baie ander die hoop laat vaar het. Die vrou in die vygie is gehard - sy weet hoe om in moeilike tye te oorleef.
En jy verlustig jou in haar taalgebruik. Dis asof die vygiemens die taal onweerstaanbaar en skitterend kan laat blom. Sy formuleer en beeld uit met 'n raakheid en 'n frisheid soos jy nêrens anders kry nie. Kry jy haar aan die praat, kan jy maar luister. Jy beleef Afrikaans soos hy uit die aarde groei.
Sy is lief vir kinders en maak hulle na aan die natuur en teen haar hart groot. En haar vernaamste handboek by die opvoeding van haar kroos is die Bybel. Sy redeneer met haar uitwaartse suster wat glo dat gehoorsame ouers se kinders altyd gesien en gehoor moet word - anders sou hulle "geïnhibeer" raak.
"Nee," sê die vygie, "'n gedissiplineerde kind is 'n gedissiplineerde grootmens." En haar kinders gaan die lewe in en styg uit en doen hulle werk deeglik en met 'n natuurlike drif en oorgawe. Hulle het met die feite van die lewe grootgeword. Jy ken hulle tussen baie ander uit. Te veel water en weelde laat hulle verdrink en verdwyn. En eendag keer hulle terug na die vygie-aarde van die jeug wat hulle nooit vergeet nie ...