Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As iemand jou 'n onreg aangedoen het en jy probeer hom terugkry – daarom iets sleg aan hom terug te wil doen – dan is jy besig om in te meng met God se genade en vergifnis. As jy die saak nie in liefde kan skik nie, gee dit in gebed vir die Here en laat Hy dit op sy tyd hanteer sonder om Hom voor te skryf hoe, want jy het nie van beter geweet nie – Hy sal.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Viooltjie
(Viola odorata)
Gelukkig het jy nog van hulle in die tuin, die ouwêreldse blommetjies wat skynbaar besig is om in die vergetelheid te raak. Want veel word nie meer oor hulle geskryf nie en om 'n bossie viooltjies te pluk, beteken om laag te buk en geduldig die fyn blomsteeltjies tussen die digte blare een vir een raak te vat. En om laag te buig, geduld te beoefen en tyd te hê klink na 'n anachronisme ...
Hierdie welriekende blom uit die leliefamilie kom voor van die Britse Eilande, oor Europa heen tot in Noord-Afrika. In die Midde-Ooste word die viooltjies lank reeds vir parfuum gekweek, asook in die Mediterreense streke. Geen wonder nie dat in Engels van "sweet violets" gepraat word.
Daar is baie meer bekend oor die Lachenaria-soorte van die genus Viola wat 400 spesies insluit. Ook die bekende gesiggie waaronder Viola tricolor, val onder hierdie genus. Die bekende inheemse tjienkerientjee staan bekend as die witviooltjie. En dit moet stellig oor 'n inheemse soort wees waarvan C. Louis Leipoldt in sy "Oktobermaand" sing:
Viooltjies in die voorhuis -
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Die outydse viooltjie met die hartvormige blare en diep-pers en wit wegkruipblommetjies aard goed in gedeeltelike skaduwee en in die sagte sonskyn van die koeler maande. In die kruiewêreld het hierdie viooltjie volgens die deskundiges groot geneeskundige waarde. Dit is al vir die behandeling van inwendige en uitwendige kanker gebruik. Van die fyngemaakte blare is pleisters vir velkankers, absesse, puisies en geswelde kliere gemaak. Die wortels van die plant is as lakseermiddel aangewend en van die blomme is 'n tee en koue kompresse berei.
Sowat 'n halfdosyn van die blare is in slaai gemeng en van die blomme is in die middag en die aand saam met etes geneem. Sterk tee is berei van twee teelepels gekapte blomme en blare op 'n groot koppie water. Die blare is net so rou oor 'n seerplek gebind en is ook in 'n basis van gesigroom of groentevet as 'n sagmaakmiddel aangewend.
Die viooltjiekuur is ook gebruik vir lewer- en nierkwale en vir galstene. Daar is geglo dat dit ook help om oorspanne senuwees te kalmeer, om 'n swak geheue te verbeter en om die rusteloosheid weg te streel. Klink na die kuur vir die moderne gejaagde lewenstempo! Geen wonder nie dat die soet viooltjie in die dae van min dokters en nog minder apteke so bekend en bemind was.
Hier en daar is nog 'n ouma wat onthou hoe daar van viooltjies 'n smulhappie berei kon word in die vorm van versuikerde viooltjies. Die blommetjies is een vir een in 'n mengsel van rietsuiker, suurlemoensap en eierwit gedoop.
Die suikermengsel moes stol wanneer dit in koue water gedrup is. Die lekkernye is daarna versigtig tussen lae papier geberg.
Maar afgesien van die soet viooltjie se bruikbaarheid, was hy deel van die romantiek van die ou wêreld. Die blou blommetjie staan vir getrouheid - oral en altyd, so is geglo. Jy blaai deur 'n Viktoriaanse foto-album en kyk verwonderd na die helder kleurafdrukke van die ranke viooltjies en ander blomme om die foto's. En op meer as een deftige tabberd pryk 'n bossie, viooltjies. Op 'n paar ou liefdes-poskaarte met die held en die heldin by 'n klavier of in 'n tuin, is daar 'n raamwerk van viooltjies. En op een speel die held viool... In 'n nuwe wêreld hoef jy net in die oë van Elizabeth Taylor te kyk om te weet dat daar viooltjies in 'n vrou se oë kan blom.
En die kerkbasaar uit jou kleintyd was nie afgerond sonder die skinkborde vol viooltjie-en-katstert ruikertjies ("buttonholes") wat deur die dogtertjies rondgedra en verkoop is nie. En iewers, iewers tussen die blaaie van 'n ou boek, lê 'n geparste viooltjie om jou aan 'n baie spesiale dag in jou lewe te herinner ... aan 'n nat Kaapse straat se blommeverkopers: "Violets for the madam ... sweet, sweet violets for ..."
'n Viooltjie is romanties geaard. Haar eie geluk of ongeluk lees jy in haar oë. Sy stel graag mense aan mekaar voor en straal van voldoening wanneer die liefde soet aan die blom gaan. Haar skugter geaardheid hou haar uit die kalklig en sy is gelukkig in die klein, intieme groep wat gemaklik en sonder pretensie rustig en sinvol kan verkeer. Leë gesprekke en ledige hande is vir haar 'n verkwisting van kosbare lewens-ure.
Vir elke kwaal het sy raad. Sy glo aan vrugte en groente wat "organies" gekweek is en in haar tuin(tjie) kry kruie 'n ereplek - al is dit net 'n paar plantjies op 'n woonstel-vensterbank. En moenie by haar aankom met sintetiese of geprosesseerde kosse en dranke nie. Hoe nader aan die natuur - van botter tot semels tot kruietee - hoe beter, glo sy.
Anders as die bloulelie, groei die viooltjie na aan die aarde. By al die romantiek is sy prakties en nederig. In haar eie omgewing gloei sy in deernis teenoor die bejaardes, die siekes, die treurendes en die eensames. Sy skryf graag briewe en kaartjies om in ander se lief en leed te deel, of om sommer net 'n glimlag oor die pos te stuur.
'n Mens kan nie anders as om 'n viooltjie lief te hê nie. Sy groet met 'n stewige handdruk of 'n hartlike soen, na gelang van die omstandighede. Die omhelsende soen-en-druk-aan-albei-kante-van-die-kop deur vriend en vyand en vreemde, is nie vir haar nie.
Iemand met haar kwaliteite is raar en is dikwels net die vae herinnering van 'n geur wat koelsoet uit 'n maanligtuin styg.