Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Talle mense gebruik God se genade as 'n noodwiel in plaas daarvan dat dit hulle stuurwiel is waarmee elke dag bestuur word. Geen wonder soveel 'voertuie' het die pad verlaat nie!
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Kamelia
(Fam. Theaceae)
Kyk 'n mens vinnig na sommige kamelias, wil-wil hulle na rose lyk. Hulle is net nog meer volmaak en delikaat, as so iets moontlik is. Daar is meer as tagtig spesies bekend en in die meeste tuine groei een of meer kamelias. Die tee-plant {Camellia sinensis) dateer in die Sjinese literatuur so ver terug as bykans 500 voor Christus.
Die plant is die eerste keer beskryf deur Georg Josef Kamel (1661-1706), oftewel Georgius Josephus Camellus, 'n Morawies-Jesuitiese sendeling. Die Sweedse botanis, Linnaeus, het die kamelia vernoem na Kamel, wat baie plante van die Filippyne beskryf het.
Die hoogbeskaafde blom met die suiwer bloedlyn en adellike afkoms is lank reeds geliefd by edelliede in Sjina en Japan. In 1739 is dit deur ene Lord Petre in Engeland bekendgestel. Die oorspronklike bome het teen 1860 steeds in die Lee-Kennedy kwekerye in Hammersmith gegroei.
Teen die middel van die negentiende eeu bereik die kamelia 'n hoogtepunt in gewildheid. Die Victoriane was dol oor die blomvorm en die byna kunsmatige voorkoms. Die blom was die trots in hulle voorkamers en is met wol, krale en sy geborduur op stoele, skerms en voetstoele. Die blomme is ook in was nagemaak en onder glas uitgestal. Met die koms van meer "natuurlike" tuine het die statige kamelia byna uit die mode en vergete geraak. Later is hulle nie meer slegs in kweekhuise geplant nie, maar in die oop tuin.
Die kamelia is inheems in Asie en die spesies japonica, reticulata en sasanqua se algemene voorkoms in tuine kan gekoppel word aan die gewildheid van tee. Soos by rose, word daar onder die drie groepe name gevind wat die verbeelding aangryp. Die kamelia hoef nie gesnoei te word nie en is feitlik plaagvry.
Die vrou in die kamelia is 'n indiwidualis. By haar is dit alles of niks. Sy hou van goeie kos en dra net gesofistikeerde ontwerpersklere, met nie 'n haar uit sy plek nie. Haar uitrustings is eksklusief en pas foutloos by haar figuur, gelaatskleur, grimering en persoonlikheid.
Ander vroue bewonder haar 'n bietjie op 'n afstand. Sy is nie iemand vir impulsiewe kuiers, informele geselsies en lang telefoongesprekke nie. Sy programmeer en skeduleer koel en kalm en afgemete. Haar lewe en voorkoms is georden en afgerond. Wanneer iets haar en haar huis nie pas nie, doen sy weg daarmee. Sy is geen opgaarder nie. Alles is funksioneel - dit grens byna aan koudheid, onbetrokkenheid en kunsmatigheid.
Vir sommige mans kan sy onweerstaanbaar wees. Die raafswart hare laat haar vel witter, haar wange blosender en haar oë blouer of groener onder die donker wimpers vertoon. Haar vorstelike houding maak van 'n man 'n ridder wat haar graag vergesel en bystaan. Sy blom in die aand, maar slaap soggens graag laat.
'n Mens vereenselwig maklik die kamelia met die Japannese geisjas wat kan sing en dans en gesellig (met mans veral) kan verkeer. Om mense te bekoor, is vir haar 'n kunsvorm (gei-kuns; sha=persoon). Vanselfsprekend is teedrink vir haar 'n besondere ritueel. Sy hou van tee in al sy vorms, van Engelse tee tot kruietee tot Sjinese tee sonder melk en suiker. Suiwer en aromaties, met 'n sagte maar definitiewe geur en kleur. Op die formele teetafel is kamelias in 'n silwer kraffie op gestyfde wit linne en kant. 'n Sjinese tapyt en leunstoele in fluweel gestoffeer is haar keuse vir 'n sitvertrek.
Vanselfsprekend voel die kameliavrou aangetrokke tot die Ooste. Sy reis graag deur Japan en Sjina waar tee en die kamelia sy oorsprong het. Hulle kultuur en seremonies trek haar aan. "Toe ons (die Germane) nog in die bosse gesit het, het daardie mense al syklere gedra," sê sy graag. Sy koop egte sy en pêrels op haar reise. As sakevrou bedryf sy suksesvolle boetieks wat of pêrels of egte sy-uitrustings aanhou.
Van te min water of te veel son val die kamelia se blomme af. In Suid-Afrika is die kamelia dus beslis nie 'n boervrou nie, veral nie in die droër dele van die Karoo en die Vrystaat nie. Sy mag in die sagte klimaatstreke moontlik 'n kweekhuisboerdery bedryf, maar sy is op haar beste by deftige onthale in formele aanddrag en beskut deur ge-noeg aardse besittings en sosiale status by gala-aande in die opera- en toneelwêreld.
Is dit waar haar swakheid lê? Wat haar vatbaar maak vir stres en depressie en 'n onvermoëom die druk van 'n onstabiele, gewelddadige en besoedelde wêreld te hanteer? Want 'n kamelia se blomme kan gesig eerste op die grond of plaveisel val; die knoppe kan verbruin en pateties tou opgooi sonder om oop te gaan. Haar verdwyning uit die kalklig is vir enige kamelia 'n vernedering, vandaar die ondertoon van hartseer in die goedversorgde, korrekte mens. Want ook sy weet van neerlaag en verydeling.
Die kamelia hou 'n dagboek waarin sy elke dag skryf, al is dit laatnag net 'n paar woorde. Vir haar is dit die dokumentasie van 'n stuk lewe binne 'n sekere tydvak. In die stil tye buite haar blomtyd lees sy graag geskiedkundige romans.
Sy is die een vrou wat 'n mens nooit heeitemal kan peil nie. Dink 'n mens jy ken haar, ontdek jy 'n vreemde diepte, 'n faset van haar lewe wat niemand ooit kan peil nie. Sou haar dagboek dit eendag openbaar wanneer niks op hierdie aarde haar meer kan raak nie?